Die Triomf Kliniek het vanjaar sy vyfde verjaardag gevier… vyf jaar waartydens die kliniek diep spore getrap het in die gemeenskap van Pretoria-Wes. Ons kyk saam met klinieksuster Adelene Boshoff terug op vyf jare van groei, hoop en uitmuntende diens met waardigheid, wat danksy ’n engelspan van vrywilligerdokters steeds gratis aan die behoeftige gemeenskap gebied word. 

Die pasiënte ken jou van die begin af as die stem op die foon, en die vriendelike gesig wat hulle inwag as hulle vir konsultasies kom.  Wat staan vir jou uit omtrent jou werk by Triomf Kliniek?
Dis so lekker om die dankbaarheid op die pasiënte se gesigte te sien; die breë glimlagte veral by die tandheelkunde-klinieke as hulle ’n nuwe gebit ontvang of hulle tande word opgebou sodat waar daar net stompies was, daar ’n hele nuwe mondvol tande is. Ook by die gehoorkliniek as hulle gehoorapparate kry en weer kan hoor; en dan behoorlik straal van blydskap. Dis ook baie bevredigend om te kan aanhou leer deur met die dokters aan interessante gevalle saam te werk.

Hoeveel pasiënte is sedert die begin al by die kliniek behandel, en is daar jaarliks ’n groei in die getalle te bespeur?
In die vyf jaar is daar reeds 1 739 pasiënte behandel, en ja, dit groei beslis elke jaar.  Vanjaar het ons byvoorbeeld al 905 mense gehelp, teenoor 2018 se 717.

Julle bied ook elke jaar nog nuwe dienste aan… wat is vanjaar bygevoeg?
Ons was baie bly om uiteindelik vanjaar tandheelkunde te kon byvoeg, want daar is so ’n groot behoefte aan ’n tandarts in die gemeenskap wat ons bedien. Dit het vinnig die besigste van ons afdelings geword. Berading is ook broodnodig, en dit kon ons ook vanjaar begin aanbied.

Waarvoor kom klop die meeste van julle pasiënte aan by Triomf Kliniek?
Hulle kom in groot getalle vir tandheelkunde, dermatologie, en ortopedie; en die algemene praktisyn wat weekliks hier is, is altyd baie besig. Dan het ons ook baie ouers wat kinders met mangelprobleme inbring, so ons gereelde oor- neus- en keel-spesialiskliniek kry groot aftrek.

Daar is natuurlik altyd meer nood as wat daar hulpbronne is…. wat sou julle graag nog wou byvoeg wat nog nie beskikbaar is nie?
Ons sou baie graag ’n gereelde ginekologiekliniek wou aanbied, want daar is ’n besliste behoefte daaraan. Hopelik kan ons volgende jaar ‘n ginekoloog op ons span vrywilligerdokters kry!

Ons hou duimvas! Maar voor ons daar uitkom, kry julle darem ’n ruskansie oor die feesseisoen?
Ja, die kliniek sluit op 6 Desember, en ons is heropen weer op 7 Januarie.