‘Voed die stroom van die lewe, nie jou eie dam nie…’ Atterbury-medestigter,  filantroop en die vader van Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief  (MOI)  is maar drie van die baie mantels wat Francois van Niekerk dra, maar sy filosofie onderstreep alles wat hy doen. Hy deel sy insigte.

 

Wat beteken hierdie filosofie in die praktyk?

Ek het ook maar vir die eerste 40 jaar van my lewe swaar gedra aan die algemene siening dat jy ten volle moet fokus op selfversorgendheid.  Om eers jou ‘eie dam’ vol te maak en eers daarna te oorweeg om bietjie vir ander ook te gee.

Toe begin ek ’n klein besigheid, slaag nie, pleit by die Skepper en Hy draai alles om.  Dit lê mettertyd die grondslag vir ’n sakebenadering van vennootskap en versterk die besef dat so ’n instelling van deelgenootskap (a sharing disposition) nie net die morele hoë grond verseker nie, maar dat Hy wat alles besit ons ook beter sal versorg as wat ons self kan doen.

Jou persoonlike filosofie is sekerlik oor jou jare in die sakewêreld onderstreep met verhale wat wys hoe so ’n ingesteldheid goeie vrugte dra. Kan jy net een storie met ons deel wat vir jou spesiale betekenis het?

Benewens deelgenootskap as algemene bestuurs- en sakebenadering, het ek nogal wat mens kan noem ‘n kontra-intuitiewe neiging.  ’n Baie positiewe herinnering is my ‘onverantwoordelike’ aankoop van 11 hektaar grond in Faerie Glen, Pretoria enkele jare voor die 1994 politieke oorgang (en dit nogal in geheel op skuld!).  Dit was ’n tyd van groot onsekerheid, maar die uiteindelike oprigting van die Atterbury Value Mart was inderwaarheid die hoeksteen waarop die Atterbury- en Mergon-groepe gebou kon word.   

Vertel van MOI. Hoe het die Mergon Ontwikkelings Inisiatief in die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief verander? Waar is die saadjie gesaai, en hoe sal jy MOI se agtergrond beskryf?

Dit gaan terug na Louis en my besluit destyds dat die Atterbury Trust op beide opvoeding en die bevordering van Afrikaans sal fokus.  Een van my ‘uittree’ belangstellings was om die Atterbury Trust se bewese 98% slaagsyfer (meestal in die Noorde) ook onder bruin studente by die Universiteit van Stellenbosch (US) te herhaal.  Dit ondermeer omdat ons bruin volksgenote die Wes- en Noord-Kaapse meerderheid is, met verskeie sosio-ekonomies-politiese faktore te doen het en toenemend as belangrike vennoot deel uitmaak van die breër groepering ‘Afrikaanses’. 

Maar dit blyk toe dat bruin studente aan die US ’n besonder lae slaagpersentasie het weens die verbrokkelende skoolstandaarde, wesenlike kultuuraanpassing en meer onlangs as gevolg van ’n de facto uitfassering van Afrikaanse moedertaalonderrig aan die US.

Gevolglik is besluit om liewer belowende bruin hoërskoolleerders vanaf Graad 8 tot Graad 12 in A-vlak Afrikaanse hoërskole, wat koshuisverblyf bied, te plaas.  Die mees belowende kandidate word uit behoeftige huishoudings gekies en volle beurse word noodwendig toegeken, insluitend skooluniforms, sportbenodigdhede, elektroniese toestelle en ’n holistiese welstandsprogram (wat ’n mediese fonds insluit) om die sosio-ekonomiese gaping te oorbrug.

Na drie jaar is daar reeds 60 leerders, die slaagpersentasie is sover 100% en die mediumtermyn doelwit is om oor enkele jare minstens 500 hoërskool-leerders (oftewel 50 matrieks per jaar) na ’n beter lewe by te staan.  Die koste vir 500 leerders sal nagenoeg R50 miljoen per jaar beloop en sodanige uitbreiding sal noodwendig net met bykomende eksterne donateurshulp bereik kan word.

Die projek was aanvanklik onder Mergon se vaandel, maar daar is onlangs besluit dat dit beter by Atterbury Trust inpas.

Jy sê dat jy nie as skoolseun akademies besonder sterk was nie, en nou gee MOI ondersteuning aan skrander hoërskool-leerders. Wat reken jy is die belangrikste les wat tieners moet leer, en wat is jou raad aan mense wat met tieners werk oor hoe om hulle te inspireer om alles in te sit? 

Met deesdae se skoolstandaarde sou ek darem seker ook in 1957 ’n klompie A’s kon inryg!  My advies aan ons MOI leerders is: vermy ’n ‘ontvang’-mentaliteit.  Die verlede het baie beperkte nut.  Bou jou eie toekoms met harde werk en fokus op jou unieke aanleg waarmee die MOI program jou sal help.  Neem ook kennis van goeie raad deur bewese leiers, bv:

“Focusing your life solely on making a buck shows a poverty of ambition. It asks too little of yourself. And will leave you unfulfilled’’  –  Barack Obama   

Jou boek, Doing Business with Purpose, is onlangs in Mandaryns vertaal. Hoe het dit gebeur… en hoekom juis dié taal?

By een van die Mergon-getuiepraatjies wat ek in Sjina gehou het was daar ’n jong Christelike Sjinese sakeman wat kom kennis maak het.  Mettertyd het sy en ander se verbintenis met Mergon toegeneem.  Alhoewel alle Christelike publikasies in Sjina verbied word en letterlik elke voornemende publikasie eers deur die regering goedgekeur moet word, is goedkeuring wel onlangs verkry.

Die strategie was ’n klein klemverskuiwing van die Mergon-verhaal.  Stygende welvaart by veral die jonger geslag bring toenemende kommer oor veral hul kinders se waardes.  Sonder om die wese van die Mergon-getuienis te verander, is die onderliggende meer algemene waardes in die finale motivering sterker beklemtoon.

Die vertaling na Mandaryns was ’n waagmoedige stap waarvoor die Mergon-bestuur krediet verdien.  Daar is reeds nagenoeg 150 miljoen Christene in Sjina; maar dis net 10% van die bevolking!  Dus ’n groot deel van die onbereikte wêreld.  Duidelik is daar groeipotensiaal en ons Sjinese vriend en ander medewerkers het ’n groot rol met die vertaling gespeel.

Interessant is dat die aanvanklike vertaler in Sjina die teks tegnies korrek vertaal het, maar ons sakevriend was glad nie tevrede dat die wese van God se pad met Mergon raakgevat is nie.  Die teks is toe deur ’n Stellenbosse vertaler tot sy bevrediging afgehandel.

Is daar planne om dit in enige ander tale te vertaal? Is die boek in die res van die Engelssprekende wêreld beskikbaar, en indien wel, het jy dalk ’n staaltjie oor terugvoering wat jy oor die boek gekry het van buite SA, wat jy met ons kan deel?

Die boek is wel op Amazon en soortgelyke platforms beskikbaar maar verspreiding van die 12 500 boeke in druk was tot dusver hoofsaaklik tot die Mergon-netwerk beperk.  Benewens genoemde terugvoer uit Sjina, was daar soms onverwagse terugvoer en staaltjies uit lande soos die VK, die VSA, Australië, Singapoer, Indonesië en Maleisië.

Maar die eerste weergawe van die Mergon-getuieboek is sewe jaar gelede juis in Engels geskryf met ’n oog op uitreiking na die Amerikaanse mark en veral die VSA sakegemeenskap.  Die Mergon Foundation werk toenemend met Amerikaanse instansies saam en hanteer alreeds etlike miljoene dollars se projekte in Afrika namens VSA-skenkers. 

Meestal om hierdie rede is die boek se redelik omvattende vyfde Engelse hersiening tans feitlik persklaar.  Vanuit Mergon-aktiwiteite in die Franssprekende Wes-Afrika, weet ons daar is klaarblyklik ’n behoefte, maar dit sal met tyd bedink word.

Ander mense tree af, maar jy hou aan om met ’n groot hart by te dra tot die samelewing, en tot die toekoms van Suid-Afrika. Is daar enigiets op jou bucket list waarby jy nog nie uitgekom het nie, maar wat in jou visier is vir die nabye toekoms?

Wat die afgelope dekades in ons land gebeur het, moet en kan omgekeer word.  Daar is baie meer goeie as slegte mense hier en ek het ’n voorwaardelike geloof in ‘die goeie’ onder alle Suid-Afrikaners.  Dit lê nie op my weg en ek het ook geen begeerte om ’n ‘redder van die volk’ te wil wees nie.  Ek is eintlik dankbaar vir wat ek op 83 nog kan doen en veral met die volgende geslag met wie ek die groot voorreg het om te kan saamwerk.

Maar ek bly by Louis en my gedeelde mikpunt van amper drie dekades gelede: Opvoeding van mede-landsgenote deur Afrikaans.  Nie om benepe Afrikaans te wil wees nie – alhoewel goeie balans hiermee beslis verdedigbaar is, solank dit ander nie van hul voorkeure ontneem nie, maar bloot eenvoudig omdat opvoeding verseker ons land se grootste prioriteit moet wees.

Vir die bevoorregtes is moedertaalopleiding beswaarlik noodsaaklik.  Die SA werklikhede vereis egter nugter denke oor stappe tot bereiking van die uiteindelike droom van wedersydse aanvaarding en ‘inklusiewe verruiming’.  Is laasgenoemde hoegenaamd haalbaar sonder betekenisvolle vordering met die algemene opvoedingsvlakke van ons diverse meerderhede van minderbevoorregtes? En is daar enige akademiese nugterheid dat sterk klem op die erkende voordele van moedertaalonderrig vir ’n groot persentasie jongmense ‘n onontbeerlike stap tot die filosofiese samelewingsideaal is wat skynbaar alle sekondêre instellings se blindelingse hartslag geword het?

Ek sal my bly beywer vir die opheffing van diegene waar huistaal ‘n onontbeerlike vereiste is en vir die oprigting van sekondêre fasiliteite waar moedertaalonderrig vir daardie studente wat dit verkies die sleutel tot sukses bied.