Die BoekeJol- en Filmrolfees vind vanjaar vir die derde keer van 16–20 Augustus in en om die Atterbury Teater plaas, en vanjaar se tema is “Kort-Kort”. So gaan daar kort-kort kans wees vir deelneem, debatteer, lag, lees en oordenking, verduidelik feesorganiseerder Dia van Staden.
Hoe het die fees gegroei van die heel begin af? Is Boekejol waar jy wou hê dit teen vandag moet wees – het dit jou verwagtinge oortref?
Die bywonertal het in 2016 feitlik verdubbel. Die groei van ‘n fees lê egter in meer as getalle. Dit beteken meer innoverende idees, die ontwikkeling van verskeidenheid in die program, groter betrokkenheid van ‘n lojale gemeenskap en sterker bande met vennote. Ons sal probeer om elke jaar hierop te bou.
Hoekom het jy destyds die fees begin?
BoekeJol is gebore omdat daar in Gauteng ‘n duidelike leemte was vir deelname van ons talentvolle Afrikaanse skrywers en kenners op verskeie gebiede, insluitende interaksie met die leserspubliek.
Wat glo jy beteken die fees vir boekliefhebbers/Pretoria?
Die fees gee mense kans om skrywers beter te leer ken en iets van die ingesteldheid van sulke gedissiplineerde individue te beleef. Die wye verskeidenheid sorg vir afwisseling en poog om alle genres se voorkeure aan te spreek. Boekliefhebbers is leer- en leesgierig. BoekeJol wil graag aan dié mense ‘n ruimte bied waarin daar geïnspireer, gekuier, gedink, gesels en kort-kort gelag kan word.
Wat beteken Atterbury se betrokkenheid vir jou as organiseerder?
Die Atterbury Trust is baie meer as ‘n vennoot. Dit is ‘n besondere voorreg om deel te hê aan die visie van ‘n instansie wat in die taal en toekoms van Suid Afrika belê. ‘n Spesiale band ontstaan wanneer daar met oorgawe ingekoop word in ‘n projek waarby ‘n breë gemeenskap baat. Tyd, insette, kwaliteit deelname en opbouende kritiek vorm deel van ‘n gesamentlike gesprek tussen BoekeJol en die Atterbury Trust as vennoot.
Dis nou ook nie net meer ‘n fees oor ‘n bepaalde paar dae nie – julle het vanjaar al klaar begin met aktiwiteite ‘n goeie twee maande voor die tyd. Vertel ons meer?
Dit is altyd die beskikbaarheid van unieke talent wat soortgelyke geleenthede moontlik maak. Ons het begin met ‘n Dig-tot-Musiek oggend op 31 Mei by Fish Hoek in die Lynnwood Bridge sentrum, waar Gisela de Villiers gaste se eie gedigte voorgelees, getoonset en gesing het, alles-in-een. Daar het 35 mense gekom en dit was ‘n vreugdevolle oggend vol glimlagte, waardering, trane en oorvloed.
Wat beplan julle nog tussen nou en die feestydperk?
Volgende hou ons skeppende mosaïekoggend, op 24 Junie. Op 15 Julie bied ons ‘n kleurvolle damesoggend aan waar die voorkomskonsultant Marinda Aucamp as gasspreker gaan optree en raad gee oor hoe om vars te dink oor jou lewe en jou klerekas op te kikker. Sy sal ook haar verhaal deel oor haar eie gewaarwording van onvoorwaardelike liefde op die lewenspad saam met haar gestremde dogter. Daar sal ook ‘n boekuitstalling wees, musiek en ‘n heerlike ontbyt.
En wat is op die agenda vir vanjaar se fees? Kan jy ‘n hoogtepunt of twee deel?
Ons finaliseer nog die program, maar ons gaan afskop met ‘n lekker Kronkelkuier by Lynnwood Bridge waar gaste kan ontspan met mooi musiek en lekker kos voordat hulle hul kultuurspiere behoorlik kan strek met die wye verskeidenheid aktiwiteite wat ons aanbied. Daar sal natuurlik gespreksforums wees waaraan die publiek sal kan deelneem en besprekings van talle nuwe boeke, ook jeugboeke, maar ook dinge soos ‘n radio-omroeperswerkswinkel, digitale fotovertonings en ‘n viering van die 100ste verjaardag van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Mense wat belangstel sal ook die kans kry om skrywers by te staan met stories skryf… BoekeJol het ook ‘n digitale taalkompetisie saam met Maroela Media se webwerf. Baie van die aktiwiteite sal in die Atterbury Teater gebeur, waar daar ook elke aand ‘n skrywer/sanger kombinasie sal optree. Ons finale program sal teen die einde van die maand bekendgemaak word
As jy enigiets kon regkry vir die fees, wat sou dit wees?
Ek sou graag dat die breë publiek die nut van lees, skryf en taaltrots met die jonger geslag deel, deur hulle saam te nooi na gesprekke en besprekings. Daar is ‘n jonger geslag wat leiding nodig het. Ons kan nie net vir mense in gesagsposisies wag om dit te doen nie. Dit is binne ons elkeen se vermoë, ons moet eienaarskap neem van die verantwoordelikheid.
Watter hoogtes hoop jy sal die BoekeJolfees eendag bereik?
As die formaat en gehalte vir die fees behoue kan bly, dan sal ek tevrede wees. Ek is ‘n realis en bou nie onnodige lugkastele nie. Die publiek se konstruktiewe kritiek is altyd welkom. Ek verkies kwaliteit bo kwantiteit. Mens voel soms gedwing om meer en meer in die program in te sluit as gevolg van die wonderlike boeke wat verskyn, maar dan is daar gelukkig ‘n gesonde balans wat die beperking van tyd weer aandui.
En wat van die Filmrol-aspek van die fees – watter planne is in jou mou?
Die FilmRol speel tans tweede viool in die fees, maar dit is nog altyd op die program. Die filmvervaardigers hou my nog effe in die duister oor wat ons beskikbaar mag stel, maar dit sal ook binnekort bekend wees. Leon van Nierop gaan wel die Saterdag ‘n gesprek oor films lei en van die deelnemers is Piet de Jager, Henriëtta Gryffenberg, Chris Broodryk, Fanie Viljoen, Dawie de Jager en Berdene Burger.
Die Boekejol en Filmrolfees gebeur tussen 16 en 20 Augustus by Lynnwood Bridge en Alkantrant Biblioteek. Vir meer inligting, besoek Boekejol en Filmrolfees se Facebookblad en die webwerf www.boekejol.co.za