Johnny en Bev Vivier is die stigters van Residence at Home, ’n fasiliteit in Pretoria-Oos vir gestremde jongmense, en nou ook een van die begunstigdes van die Terugploeg-inisiatief. Ons hoor meer van die wonderlike werk wat hulle doen, en die hulp wat Terugploeg ook aan hulle bied.

Hoe het Residence at Home ontstaan en hoe werk dit?
Residence het in 2008 ontstaan toe ons die behoefte raakgesien het vir ’n tuiste vir fisiek- en intellektueel-gestremde jongmense waar hulle semi-onafhanklike lewens kan lei, onder toesig en met die leiding van opgeleide personeel. Ons het ’n alternatief tot ’n inrigting gesoek vir ons dogter, Kelly, iewers waar sy ’n mate van onafhanklikheid saam met ander jongmense soos sy kon hê. Ons het saamgespan met ’n paar ander ouers van gestremde kinders en die grond in Tiegerpoort geskenk, waar die huis toe in 2008 danksy die hulp van talle groothartige skenkers en medewerkers, gebou is, destyds onder die vaandel van Pathways. Daar is tien private slaapkamers, elk met eie badkamer, en agt permanente inwoners. Dan is daar gerieflike gedeelde leefruimtes asook ’n baie dinamiese werkswinkel waar ons jongmense vaardighede geleer word waarmee hulle maandeliks ’n klein salaris kan verdien. Hulle maak allerlei produkte wat verkoop word, van hondebeskuitjies en gedroogde perskes wat ons direk van die boer ontvang en herverpak, tot juweliersware, kussings, pottebakkerywerk en meer. Dit is so betekenisvol vir ons jongmense om te kan bydra tot die onkostes van die Residence en ons werkswinkel, maar meer nog, om ’n dagtaak te hê wat betekenisvol is.

Hoe word die Residence gefinansier?
Ons is geregistreer as ’n organisasie sonder winsoogmerk en ons kry geen regeringsteun nie. Dis vir ons begroting nodig dat al die kamers verhuur word, en ons het ook nie die afgelope paar jaar nie die huisgelde van R9 075 verhoog nie. Dit bly dus maar ’n voortdurende uitdaging om die somme te maak werk. Ons het onlangs ’n 30-jarige serebraal-gestremde jong vrou, Joanne, ingeneem, nadat haar ma, Ina, een van Residence at Home se direkteure en die skoolhoof van Pathways Pretoria einde April ‘n massiewe beroerte gehad het. Ina is sedert die heel begin van Residence ’n steunpilaar – sy het soveel ervaring van die terapieë waarmee gestremde mense bemagtig kan word. Joanne is haar alleen-verantwoordelikheid, en terwyl Ina aansterk by die rehabilitasiefasiliteit waar sy nog vir minstens twee maande sal wees, bied ons nou vir Joanne ’n heenkome. Sy bly nou in die een kamer wat oop was, maar ons kry geen inkomste nie. Die ouers van die agt ander permanente inwoners dra alle onkostes en dit gaan maar swaar, hoewel ons dit ’n prioriteit gemaak het om ondanks al die druk van die afgelope jaar steeds ons personeel – vier voltyds en twee deeltyds – se salarisse te dek. Die verkoop van die produkte wat die inwoners in die werkswinkel maak, dra ook ’n bietjie by.

En Kelly woon steeds daar?
Ja, sy is nou 32 jaar oud en het twee dae per week werk as ’n kombuisassistent by ’n nabygeleë kleuterskool. Daar is ook ’n aantal ander jong volwassenes wat daagliks na die werkswinkel op die eiendom kom. Die idee is dat hulle nes ander mense elke weeksdag hul tuistes verlaat om werk toe te gaan. Dit bly ’n uitdaging om vir ons jongmense werk te kry, omdat daar ondanks wetgewing baie min werkgewers is wat bereid is om gestremde mense te ondersteun deur vir hulle werk te gee in die oop arbeidsmark.

Hoe het Terugploeg betrokke geraak?
Ons is geweldig dankbaar vir Terugploeg, wat sedert verlede jaar help met kos-skenkings, wat ‘n groot verligting bring aan ons begroting. Johnny is ’n jarelange jagtersvriend van Herman Marx en Lood Bester, en hulle het verder gehelp met die finansiering van die klein dam op die eiendom, waar die jongmense kan visvang; dis ’n wonderlike ontspanningsgerief. Ons is ook hoopvol dat daar dalk vir ons jongmense werksgeleenthede mag wees by die Terugploeg-verpakkings en -verwerkingsfasiliteit wat tans in aanbou is.

Wat is die grootste behoefte by Residence, indien daar mense is wat ’n hand van hulp kan uitreik?
Weet jy, wat ons die heel meeste sal waardeer is weldoeners wat vir ons jongmense ‘n werksgeleentheid kan aanbied.  Ons inwoners kan onder toesig werk aan take soos verpakking of etikettering, sortering van klein onderdele; liasseerwerk – dalk is daar onder Atterbury Trust se groot netwerk iemand wat een van hulle in diens kan neem? In hierdie tyd van inperkings kan ons selfs die werk gaan oplaai in die Pretoria-omgewing, en na die Residence bring en weer gaan aflaai as dit klaar is – kontak ons met enige idees en ons sal waar moontlik ‘n plan maak! Die onkoste sal baie laag wees – dit gaan vir ons nie oor die inkomste nie, maar oor die kans vir ons inwoners om iets betekenisvol te doen. Terloops, alles word gesteriliseer voordat dit die Residence verlaat, so mense kan gerus wees daaroor.

En as mense nie werk het nie, kan hulle ook ons heerlike gedroogde perskes en hondebeskuitjies aanlyn bestel – bestellings hou ook ons jongmense in die werkswinkel besig.

En laastens is enige donasies, ook van kos, altyd welkom om ons begroting te ondersteun. Dit sal absoluut wonderlik wees indien ons ’n weldoener kan vind wat die huisgelde vir Joanne kan borg. Ons bestuurskoste is hoog omdat ons die individuele aandag vir elke inwoner wil verseker, en alle donasies word geweldig baie waardeer. Ons kan Afdeling 18A belasting-sertifikate uitreik vir skenkings.

As jy ’n donasie kan maak, ’n werksgeleentheid vir ’n jongmens kan aanbied of op ander manier ondersteuning kan gee, kontak vir Bev by [email protected] of 082 4956710. Sien meer by www.residenceathome.co.za en volg Residence at Home op Facebook