Zoetje Beneke is halfpad deur haar eerste jaar as student aan die toonaangewende Isa Carstens Akademie, en is die eerste in haar gesin wat die geleentheid het om verder te studeer, danksy die finansiële hulp wat die Atterbury Trust se beursfonds haar bied. Haar boodskap is inspirerend…

Jy het ’n interessante naam… is dit ’n familienaam?
Ja dit is ’n familienaam – ek is na my oumagrootjie vernoem; sy was van Duitse afkoms.

Vertel ons hoe jy by die Atterbury Trustbeurs uitgekom het? Het jy ander opsies gehad, en wat sou jy gedoen het as jy nie hierdie beurs gekry het nie?
Ons het op die Internet vir beurse gesoek en het op Atterbury Trust afgekom. Ek het geen ander opsies gehad om vir my studies te betaal nie, want daar is nie enige beurse beskikbaar in somatologie nie. So as dit nie vir hierdie geleentheid was wat ek gekry het nie, sou ek moes gaan werk het en deeltyds moes studeer het. Die ander opsie wou wees om kursusse in die skoonheidsrigting te doen, maar sonder die beurs was daar geen manier dat ek ’n volwaardige diploma in somatologie kon kry nie.

Skets jou gesinsopset vir ons – waar pas jy in, het jy broers of susters? Waar is jy gebore en getoë?
Ek is in Pretoria gebore, maar het grootgeword in Kroonstad. Ek kom uit ’n enkelouerhuis en is die jongste van twee dogters. My ma is ’n betaaladministrateur. Ek is die eerste een in my gesin wat wat die geleentheid gekry het om verder te gaan studeer.

Hoe het jy besluit op die Isa Carstens-diploma? Is jy iemand wat al van kleinsaf belangstel in skoonheidsroetines; of wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was?
Ek het skoonheidsberoepe nagevors en op somatologie afgekom en vandaar het Isa Carstens se kursus gevolg. Maar dit was nie iets wat ek al van kleinsaf wou doen nie; ek het letterlik eers in Graad 11 besef dit is die rigting waarin ek graag my loopbaan sou wil maak.

As ’n plattelander, was die skuif na die groot stad vir jou ’n groot uitdaging? Wat mis jy?
Die grootse aanpassing vir my was die tydsbestuur wat so nodig is as mens swot; dit, en die verkeer in die stad! Ek het by kennisse ingetrek waar ek nou loseer. Ek mis natuurlik my ma se kos!

Hoe gaan dit tot dusver met jou kursus – wat geniet jy die meeste sover?
Dit gaan sover baie goed; ek geniet my vakke, veral die velsorg.

Hoe pas ’n somatologiestudent wat van beter weet as die res van ons, haar eie vel op, en wat is jou beste velsorgraad?
Ek het nog altyd mooi na my vel gekyk, maar baie geleer hoe om dit nog beter te versorg vandag ek by Isa Carstens Akademie studeer. My beste velsorgraad is om soggens en saans jou gesig te was om al die grimering en vuiligheid te verwyder, wat jou porieë kan verstop. Een van die heel belangrikste produkte wat in jou velsorgroetine moet wees is sonskerm, want die son se UV strale veroorsaak velveroudering.

Wat is jou toekomsdrome – waar hoop jy sal die lewe jou besorg met hierdie kwalifikasie onder jou knie?
Na afloop van my studies wil ek graag op ’n skip gaan werk en die wêreld vol reis terwyl ek ’n inkomste maak. Daarna wil ek graag my eie salon oopmaak.

 Hoekom glo jy die Atterbury Trust beursfonds is belangrik; watter boodskap wil jy vir skenkers gee om hulle te motiveer om donasies te maak in die fonds?
Atterbury Trust gee honderde kinders met groot drome die kans om daardie droom ’n realiteit te maak en ’n sukses van hul lewens te maak, wat hulle dalk nie iewers anders sal kan kry nie. Daarom is dit so belangrik, en donasies so ’n wonderlike gebaar.

Jongmense met groot drome van selfbeskikking en entrepreneurskap is ’n ryke skat in Atterbury se studentekorps. As jy wil bydra tot die beursfonds waarmee Atterbury soveel talent help om nader aan hul drome te kom, kliek hier. Alle donasies is belastingaftrekbaar.