MOI neem vanjaar vir die eerste keer as kunstenaars aan die Woordfees op Stellenbosch deel, met ‘n uitsonderlike uitstalling van beeldhouwerke deur beurshouers. MOI se projek-bestuurder Jenene Petersen en kurator Jacques Buys, ’n kundige in die veld van gietery-tegnologie, vertel meer.
Hoe het dit gebeur dat MOI betrokke geraak het, en wat was die idee agter die projek?
Jenene: Ons het tydens Covid bekommerd geraak oor ons leerders se gemoedstoestand, omdat die pandemie hulle van hul sosiale interaksie ontneem het en ons kon sien hulle sukkel emosioneel. Vir die meeste van hulle is daar min plek by die huis, en dis maar moeilik vir tieners om hulle emosies te verstaan, te verwoord en te verwerk.
Ons het toe met Jacques begin gesels oor hoe ons kuns, en vernaam beeldhouwerk, kon inspan om te help met emosionele welstand en sosiale interaksie. Daar is besluit op ’n jaarlikse kunsprojek met die Graad 8s, en dit het so goed afgeloop dat ons na die tweede jaar se sukses besluit het om dit uit te brei. Dis hoe ons gekom het waar ons vandag is, met ’n kunsveiling van 18 talentvolle jong kunstenaars se beeldhouwerk.
Dis so ’n mooi storie van jong kunstenaars wat hul talente ontdek en ontwikkel en terselfdertyd ook ander jong kunstenaars kan inspireer om dieselfde te doen. Die beeldhouwerk is in ’n groepomgewing gedoen wat die leerders se interpersoonlike vaardighede en samewerking bevorder het. Beeldhouwerk het hulle ook gehelp hoe om angs en stres te verlig deur meditatiewe en gefokusde aktiwiteite. Beeldhouwerk het leerders op ’n kreatiewe manier gehelp hoe om hulle emosies en gedagtes gestalte te gee.
Jacques, vertel ons meer van jou jou rol as kurator
In hierdie werkswinkel het ek 18 jong kunstenaars gelei in die skep van unieke stukke wat ons gedeelde menslikheid en onvolmaakthede weerspieël. As die kurator het ek aan die einde van die proses hulle werke afgerond met geometriese vorms, wat die dissipline simboliseer wat nodig is om die lewe te navigeer en ons drome te bewaarheid. So verteenwoordig elke beeldjie ’n mengsel van organiese vorms en gestruktureerde elemente, wat die balans tussen “chaos” en orde beklemtoon.
Die meeste van die leerders het nog nooit voorheen ’n kunsprojek voltooi nie. Wat was nodig in terme van leiding?
Jacques: Die skeppingsproses was een van samewerking tussen my as kurator en die tieners, waartydens ons die transformerende mag van beeldhouwerk beleef het. Die klein menslike figuurtjies wat uit dié proses gebore is, wys nie net die jong kunstenaars se kreatiwiteit nie, maar ook elkeen van hulle se unieke perspektief op die wêreld. Ek het gelei uit ’n tegniese oogpunt, maar dit was soveel meer as ’n tegniese oefening. As ’n kunstenaar was hulle entoesiasme en vars idees vir my geweldig inspirerend, en het my weer herinner aan die grenslose potensiaal wat mens binne jeugdige kreatiwiteit vind.
As jy die eindproduk evalueer, het julle die resultate bereik waarvoor julle gehoop het?
Jacques: Dit het ons wildste verwagtings oortref! Aan die begin was die proses vir ons amper belangriker as die eindresultaat, en die feit dat ons hierdie uitsonderlike reeks bronsbeelde het om te wys daarvoor, was ’n wonderlike bonus. As jy hierdie werke uitgestal te sien, word jy uitgenooi om te reflekteer oor hoe mooi ons kollektiewe onvolmaakthede is, en die krag van kuns as ’n huldeblyk aan vriendskap. Die werk wys nie net die kunstenaars se individuele talente nie, maar ook die gees van samewerking wat ons tyd saam gedefinieer het. Hul staan hul plek met trots vol in die Dylan Lewis Beeldhoutuin.
Jenene: Ons was inderdaad heeltemal oorstelp deur die gehalte van die werk wat ons leerders gelewer het. Ons nooi almal uit om te kom hulde bring aan die uitsonderlike reis waarop hierdie jong kunstenaars hulle bevind.
Wat word nou van die beeldhouwerke?
Jenene: Omdat die projek so suksesvol was, en die werk wat daaruit gebore is, so sterk, het ons besluit om die beeldjies deur middel van ’n aanlynveiling te verkoop. Die opbrengs van die veiling sal ingespan word tot die groter projek om Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief volhoubaar te maak. Die positiewe invloed op die leerders om kuns te kon skep wat so hoog geag word dat dit uitgestal kan word op ’n gerespekteerde platform soos Woordfees, en boonop te koop aangebied kan word, kan nie onderskat word nie. Die aanlynveiling is van 25 Augustus tot 6 Oktober oop, en mense kan in hul eie tyd bie: https://bit.ly/MOI2024_Reg
WAT SÊ DIE KUNSTENAARS?
Tyresse Abrahams, Hoër Jongenskool Paarl
Ek het aanvanklik nie in kuns belanggestel nie, maar my tyd saam met Oom Jacques het my perspektief verander. Die proses van beeldhou het my geduld geleer en my gehelp om my lewe vanuit ’n nuwe hoek te beskou. Dit het my laat besef dat die pad na sukses nie perfek hoef te wees nie, maar dat dit steeds mooi kan wees.
Sakira Fredericks, Hoërskool Stellenbosch
Kuns was nog altyd my passie, en MOI het my die geleentheid gegee om dit uit te leef. Terwyl ek met die klei gewerk het, het ek al my bekommernisse vergeet, wat my gehelp het om stres en angs te verminder en ’n kalmte te vind wat ek voorheen nie geken het nie. Kuns is ’n manier om myself uit te druk en vry te voel.
Jaydrian Botes, Hoërskool Laborie
MOI het ‘n groot impak op my lewe, deur vir my ‘n nuwe perspektief en beter onderwysgeleenthede te bied. Die kunsprojek het vir my ’n kreatiewe uitlaatklep gebied en my gehelp om stres te verlig. Deur beeldhouwerk het ek geleer om my kritiese denkvaardighede te verbeter en het ek ’n dieper waardering vir kuns ontwikkel.
Ischke Antonie, Paarl Gimnasium
Ek is ’n gewone meisie met groot drome. In die ateljee het ons nie net beeldjies van ons maats gemaak nie, maar ons het ook vriendskappe gesmee. Die proses was nie maklik nie, maar dit was ’n wonderlike ervaring om saam met mense te werk wat jou verstaan en ondersteun. Ek het geleer dat kuns ’n manier is om jouself uit te druk en jou passie te volg, sonder enige druk of verwagtinge.
Norica de Klerk, Hoërskool Durbanville
Die ateljee van Oom Jacques was ’n plek waar ek my passie vir kuns herontdek het. Hy is ’n inspirerende kunstenaar en die gevoel van die klei in my hande het my laat ontspan en my kreatiwiteit aangewakker. Dit was nie net die kuns self nie, maar ook die vriendskappe wat ek gesmee het wat my ervaring so spesiaal gemaak het. Kuns het my geleer om buite die boks te dink en om altyd oop te wees vir nuwe idees.