Luister na die podcast

Oud-Springbok Kobus Wiese is welbekend as rugbyspeler wat deel was van die Rugby Wêreldbeker-wenspan van 1995, maar min mense weet dat hy ook die eienaar is van ‘n reeks koffiewinkels, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Kobus se kleintyd-liefde vir kos en kook het gelei daartoe dat hy en sy vrou, Belinda, hul eerste koffiewinkel, Wiesenhof, oopgemaak het. Dié het oor die jare gegroei tot 65 koffiewinkels met nog 20 tot 25 internasionale koffiewinkels in die pyplyn vir 2016.
“Die koffiewinkel is die eetplek van die toekoms waar mens vriende kan ontmoet of ’n sake-afspraak kan nakom,” sê Kobus. “Dit is bekostigbaar, aanpasbaar en enigiemand kan soontoe gaan: ouma, oupa, sakeman, sakevrou en skoolkinders.”
Koffiewinkels is ook die “nuwe kantoor” vir entrepreneurs. Kobus sê dit raak al hoe gewilder en is ook die rede waarom studente in koffiewinkels rondhang wanneer hulle nie klasdraf nie.
“Dit is die fantastiese ding omtrent entrepreneurskap – jy hou aan leer. ’n Mens is nooit volleerd nie en daar is heeltyd nuwe idees.”

Vertel ons ’n bietjie meer van jouself.
Ek het grootgeword in Namibië op die pragtige woestyndorpie Lüderitz, waar my pa in die mynbedryf by Anglo-American gewerk het. Ek het skoolgegaan in die Paarl en verlief geraak op die pragtige Boland. Ná skool het ek onderwys gestudeer, so ’n bietjie rugby gespeel en in Gauteng beland waar ek my loopbaan voortgesit het. Ek is maar ’n doodgewone ou wat hou van die doodgewone dinge in die lewe, soos ’n goeie rooiwyn, ’n goeie koppie koffie en ’n lekker tjoppie op die vuur. Belinda is destyds aan my voorgestel deur my ou boesemvriend, Balie Swart, en ons het twee kinders, Le Roux en Deveny. Hulle is tans by my ou alma mater, Paarl Gimnasium, so ons gaan maar terug na my wortels toe.

Hoe het jy in die koffiebedryf beland?
Dit kom al van kleinsaf. My ma was ’n baie goeie kok en bakster. Ek het gehelp in die kombuis en die gogga het my gebyt. Ek het agtergekom dat ek ’n natuurlike aanvoeling daarvoor het. Ek kook nie uit ’n boek nie, maar “op gevoel”. Dit is lekker om ná ’n lang dag vir ’n paar pelle ’n lekker pot te maak of iets nuuts te beproef. Ons het onbepland in die kosbedryf beland. Ek en Belinda het ’n koffiewinkel gekoop om ons eie onderneming te begin, as ‘n eerste stap na entrepreneurskap, wat ons droom was.

Het jy verwag dat koffie en koffiewinkels so groot sou word soos dit nou is?
Die afgelope 15 tot 20 jaar het koffie wêreldwyd geweldig gegroei. Waar kitskoffie eers ’n tendens was, is goeie koffie nou ’n kommoditeit. Dit word net meer en meer gewild. Vir baie mense is dit nou iets waarsonder hulle nie hul dag kan begin of afsluit nie.

Het kitskoffie nog steeds ’n monopolie of het mense se smaak meer gesofistikeerd geword?
Smaak het gewis meer gesofistikeerd geword. Al meer lande begin koffie produseer, maar die vraag is steeds groter as die aanbod. Suiwer koffie is, naas olie, die tweede grootste handelskommoditeit in die wêreld. Koffiegebruik neem net steeds toe.

Baie van jou’95-Wêreldbeker-spanmaats het nou hul eie ondernemings. Is dit so dat rugbyspelers hou van entrepreneurskap?
Dit is ’n interessante opmerking waarmee ek saamstem. Ek glo ’n entrepreneur word gebore. Dis mense met ’n droom, wat hul eie ding wil doen en sterk in hulself glo, bereid is om ’n kans te waag, moue op te rol en die harde werk te doen. Na my mening kan volwaardige entrepreneurs nooit gewone kantoorure werk nie. Dit is nie in hul geaardheid nie. Sport is ’n goeie leermeester en dié wat presteer in sport sal ook makliker entrepreneurs word. Hulle weet hoe om druk te hanteer en hou van die onbekende. Net soos met sport gaan jy nie altyd suksesvol wees nie, maar dis nie wat saak maak nie. Jy moet aanhou probeer en nuwe weë verken om sukses te behaal. Die ou wat nie bereid is om dit te doen nie, sal nie ’n entrepreneur kan wees nie, want hy sal tou opgooi ná die eerste probeerslag wat nie werk nie.

Sit sport en entrepreneurskap in jou DNS?
Ek glo so. Baie van ons word groot met die droom om ons provinsie of land te verteenwoordig in sport, maar jy is nooit die enigste een nie. Die kompetisie en die druk is geweldig. Dis dieselfde met entrepreneurskap. Jy is nie die eerste ou wat ’n koppie koffie, ’n hamburger of ’n kar wil verkoop nie. Daar is duisende mense wat voor jou gekom het en daar sal duisende na jou wees. Die kompetisie is fel, maar die sukses gaan aan die ou wat dit die graagste wil hê.

Hoe werf julle nuwe klante en hoe kies julle nuwe persele?
Eerstens moet ’n mens ’n goeie produk hê wat verseker dat kliënte dit geniet en wil terugkom. ’n Vriendelike glimlag alleen gaan nie mense vir ’n derde of vierde keer terugbring nie, maar benewens die produk moet ’n mens ’n lekker gemaklike, verwelkomende omgewing skep. Die koffiewinkel is die eetplek van die toekoms waar mense vriende kan ontmoet of ’n sake-afspraak nakom. Mense eet ’n goeie biefstuk of sushi sporadies, maar in ’n koffiewinkel kan jy sewe dae per week iets kry wat na jou smaak en sak sal wees. Ligging word altyd genoem as deurslaggewend vir die sukses van ’n onderneming, maar ek glo ook dat as jy iemand ’n rede gee om na jou plek te kom, sal hy dit doen. Ek sal verby drie restaurante ry na ’n vierde een toe vir die regte redes, wat kan insluit lekker koffie, ’n vriendelike bestuurder, beste biefstuk, sagte sitplekke, of baie ander redes. Mense is bereid om ’n bietjie verder te ry as jy vir hulle die regte rede gee. Ons is van die eerste handelsmerke wat na ander liggings gaan soek het as gevolg van die ekonomie. Deesdae is dit geweldig duur om in ’n winkelsentrum in te gaan en ons het besluit om die sogenaamde “captive” markte te ondersoek, soos hospitale, ’n Makro-winkel, kantoorblokke en skole. Die mark is baie anders as ’n paar jaar gelede toe ’n mens net in ’n winkelsentrum ’n restaurant of ’n koffiewinkel kon kry.

Wat is jou grootste sakefout tot dusver?
Aan die begin, wanneer ’n mens nog onervare is, het jy meer adrenalien as verstand. Jy is braaf, jy vertrou almal, en jy is goedgelowig. Reg aan die begin was ek in ’n vennootskap met ’n ou wat my om die bos gelei en baie geld gekos het, maar ’n mens leer uit daardie foute. Die grootste les vir my is: As jy dit nie self doen en elke dag daar is nie, moet jy liewer jou geldjies in die bank hou.

Die res van die onderhoud kan hier gelees word: http://maroelamedia.co.za/goeiegoed/klipkouers-jacques-gesels-met-kobus-wiese/