Atterbury Trust is altyd aktief op Mandeladag, en hierdie jaar was daar aktiwiteite beide in Gauteng en in die Wes-Kaap om Madiba se verjaardag te herdenk. Danelle Strydom en Surisa Schwalb, wat omsien na Atterbury Trust se studentesake en projekte, vertel meer.

Julle is by soveel projekte betrokke, hoe het julle besluit waar om vanjaar Mandeladag se 67 minute van diens deur te bring? Wat was die oorwegings?
Die tema vir Mandeladag hierdie jaar was, “Die nalatenskap leef voort deur jou”. Om aan te sluit by die tema het ons besluit om hierdie jaar te fokus op organisasies wat omsien na kinders.

Kom ons begin by die Gautengplanne, en wie almal deelgeneem het?
Loerie Jeugsentrum is ’n nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie wat geen staatsubsidie ontvang nie. Hulle stap ook al ’n lang pad saam met Atterbury Trust en ons Terugploeg inisiatief en daarom het ons gesluit om hulle te nooi vir ’n dag van bederf.

Die kinders en personeel van die sentrum was ons eregaste en dit was ’n dag propvol pret en plesier by ons Terugploeg-fasiliteit. Die Atterbury Property-span het ook hulle 67 minute saam die kinders kom spandeer, en as skenking het hulle kosblik-items ingesamel.

Wat is dit omtrent Loerie Jeugsentrum wat dit spesiaal in Atterbury Trust se hart maak?
Die Loerie Kinderhuis  huisves tans 32 minderbevoorregte kinders wie se ouers weens die ernstige ekonomiese agteruitgang van ons land glad nie in staat is om hulle self te versorg nie. Die kinders word op versoek en met die toestemming van die ouers in ons sorg geplaas. Die sentrum fokus regtig op elke liewe kind se behoeftes, en hulle behoorlike voeding en skolastiese vordering is vir die trustees en die personeel van uiterste belang.  Waar moontlik laat hulle die kinders deelneem aan alle buitemuurse aktiwiteite, sport, kampe en uitstappies.

En in die Kaap? Ons hoor die planne het bietjie aanpassing gekort weens die reën? Hoe het julle die dag gered?
In die Kaap het ons besluit om Akkerland, die kleuterskool wat ons reeds ondersteun in Jonkershoekvallei, op te helder deur die speelareas te verf en skopfietse te skenk.

Die 18de Julie se uitreik het inderdaad uitgeren so ons het nuwe planne gemaak, en solank die skopfietse na die skool geneem. Dit was ’n groot treffer in die nattigheid! ’n Week later het ons MOI-leerders van Hoërskool Stellenbosch solank die voorbereidingswerk kom doen om ’n skopfietspad en parkeerplekke op die terrein te verf, en hulle het roomys gebring om saam met die kleintjies te geniet.

Op 1 Augustus het Atterbury Trust, Atterbury Wes-Kaap, RLB Pentad en vriende van die Atterbury Trust die dag by Akkerland spandeer. Ons het al die ou bande waarop die kinders speel, vervang en geverf, die sandput geskuif en skoongemaak en ’n pragtige skopfietsbaan en ander areas geverf. Daar is boereworsrolletjies en roomys geniet en Akkerland se speelarea is nou mooi helder en reg vir hope pret.

Hoeveel kleintjies is daar by Akkerland, en hoe is Atterbury Trust Wes-Kaap by die skooltjie betrokke?
Die skooltjie groei goed en daar is nou 20 kinders vanaf agt maande tot vyf jaar. Ons voorsien hulle van Startwell-pap sodat die kleintjies elke dag ’n voedsame ontbyt kry, en ons hou ook ’n klein verjaarsdagpartytjie by die skool vir elke kind se verjaarsdag. Wanneer ons vars produkte ontvang deur Terugploeg, maak ons seker dat die skool sy deel kry, en verder help ons waar ons kan soos uitdagings by die skool opduik.

Wat is die grootste behoefte by beide Loerie Jeugsentrum en Akkerland, waarmee ons skenkers kan help deur ’n belasting-aftrekbare donasie aan Atterbury Trust te maak?
Omdat die Loerie kinderhuis geen staatsubsidie ontvang nie, is die trustees self verantwoordelik vir alle lopende uitgawes soos skoolgelde, voedselvoorsiening, vervoer, mediese onkostes, water, elektrisiteit, lone en so meer, wat ’n reuse bedrag per maand beloop.

Akkerland ontvang ook op die oomblik geen staatsubsidie nie en die maandelikse bydrae van die ouers is minimaal. Akkerland is dus afhanklik van donasies om alle onkostes te delg. Die kinders ontvang ontbyt en middagete by die skool en op die oomblik is ons grootste uitdaging om vars en gesonde kos te bekom vir hulle middagetes.

As jy graag ’n skenking wil maak en Atterbury Trust help om die kinders van Loerie Jeugsentrum en Akkerland te ondersteun, kliek hier. Ons kan 18A belasting-sertifikate uitreik vir enige donasie. Enige navrae oor Loerie Jeugsentrum kan gerig word aan [email protected], en vir navrae oor Akkerland, kontak gerus vir [email protected].