Dit is so bevredigend om ons beursstudente te volg soos hulle as alumni hul eerste treë in die arbeidsmark gee. Maar as jy medies geswot het, soos Dokter Ellen-Marie Trautmann, wat boonop regdeur haar ses jaar van studies ‘n A-gemiddeld gehandhaaf het, is daar nog ’n paadjie om klaar te stap voor jy heeltemal gekwalifiseer is. Ons het gaan hoor hoe dit met hierdie presteerder gaan waar sy besig is met haar eerste internskapjaar in die Noord-Kaap se grootste hospitaal, die Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal in Kimberley.

Hoe verskil die omstandighede daar in Kimberley van dié in George waar jy as student gewerk het? Wat was vir jou die grootste aanpassing?
Hulle praat van Kimberley se beroemde Groot Gat, maar hulle noem nooit Kimberley se berugte slaggate in elke straat nie! Dis omtrent soos ’n hindernisbaan om hier te bestuur! En daar is heeltemal te min plekke waar mens ’n lekker koppie koffie kan drink!

Maar op ‘n ernstiger noot, die grootste aanpassing is die baie lang ure wat ek by die werk deurbring. Vir die eerste drie maande het ek my Sjirurgie-rotasie gedoen. Dit beteken dat jy benewens die gewone “kantoorure” ook ’n gemiddeld van sewe nagskofte per maand gehad het waartydens mens vir meer as 30 uur per slag op jou voete is. Ek het ’n paar wonderlike pasiënte gehad wat in die oggend ná my skof dwarsdeur my moegheid kon sien en hul eie pyn eenkant toe sou skuif om te vra hoe dit gaan en of ek oukei is… Ek het altyd probeer om hulle soveel tyd en aandag te gee as wat hulle verdien al was ek uitgemergel! Dit is regtig moeilik. Die Health Professionals Council of SA (HPCSA) keur nie sulke lang ure amptelik goed nie, maar die riglyne word ongelukkig geïgnoreer as daar nie genoeg personeel is nie.

Mens se verantwoordelikhede is natuurlik nou ook heelwat meer as toe jy ’n student was en jy bevind jouself boonop weer aan die onderpunt van die leerkurwe, waar jy baie vinnig die nodige vaardighede moet aanleer om lewens te kan red. 

Is jy die enigste interndokter by die hospitaal, of is daar ’n groep van julle?
Ek is dank vader nie die enigste een nie! Hahaha, dit sou ’n nagmerrie wees! Ons is 26 eerstejaar interns en ongeveer dieselfde aantal tweedejaars. Die interns word tussen die verskillende dissiplines verdeel sodat daar sowat ses interns in elk is, tussen ginekologie, sjirurgie, interne medisyne, ensovoorts.

Die interns kom vanaf al die mediese universiteite regoor die land. Ons kon weens COVID-19 ongelukkig nie ’n volledige groeps-oriëntasie hê nie, so daar is heelwat van die ander wat ek nog nie eers ontmoet het nie. Daar was ook ’n verdere komplikasie deurdat die Noord-Kaap Departement van Gesondheid ekstra intern-posisies oopgemaak het en eers nadat daardie groep hier aangekom het, is hulle ingelig dat daar nie meer geld was om hulle te betaal nie! Hulle is gestrand gelaat met  die onkostes wat hul aangegaan het om hierheen te trek, en met huurooreenkomste  wat reeds geteken is. En die hospitaal het toe boonop minder personeel as waarvoor beplan is, wat die druk op ons ander vergroot het…

Dis regtig ’n baie lang, swaar pad om ’n dokter te word! Wat was dit wat jou gemotiveer het om dié pad te kies; en is dit iets wat jy van kleinsaf wou doen?
Ek was van baie jonk af bewus van ander se swaarkry en die verskil tussen dié wat het, en dié wat nié het nie. Ek onthou toe ek 10 was het ek die “planne” geteken vir die kinderhuis wat ek eendag sou bou. Ek dra daardie gevoel van ongeregtigheid van kleinsaf saam met my.

Soos ek grootgeword het, het ek besluit dat medies ’n goeie manier sou wees om my intellektuele vermoëns in te span, terwyl ek terselfdertyd my hartsbegeerte vervul om ander se swaarkry te verlig. As dokter sou dit my ook geloofwaardigheid en invloed gee om groter positiewe veranderinge binne die gemeenskap te kon aanbring. Maar dis ’n baie lang pad en ek reken die moeilikste jare lê voor my met hierdie internskap en die gemeenskapsdiensjaar.

Was jy al ooit jammer oor jou besluit? Hoe bly jy gemotiveerd – wat geniet jy die meeste omtrent jou werk?
Ja, om eerlik te wees, was daar al tye wat ek spyt was oor my besluit om medies my loopbaan te maak. Dis meestal wonderlik om met my pasiënte te werk, maar dit kan baie oorweldigend wees. Dit beproef mens se geestelike, fisiese en emosionele uithouvermoë soos min ander beroepe. En ongelukkig is dit nie die moeilike pasiënte of siektes of dood wat hierdie beroep so moeilik maak nie – dit is eerder die disfunksionele stelsel waarbinne ons hier in Suid-Afrika moet werk. Die stelsel verwag meer van ons as wat enige beroep behoort te doen, maar keer ook dat jy jou werk vir jou pasiënte’ doeltreffend doen weens beperkte hulpbronne. Die mediese beroep sou meer heilsaam en medelydend gewees het as die personeel nie oorwerk en uitgebuit was nie, en indien dokters net soveel vir hul eie en hul kollegas se welstand omgegee het soos vir hul pasiënte s’n. Wat ongelukkig gebeur is dat baie dokters koud, hard en hiërargies word.

Ek kry motivering deur my langtermyn doelwit om binne gemeenskappe te werk en om veranderinge aan te bring wat meer as een mens op ’n slag aanraak. Ek wil help om siekte te voorkom deur opvoeding en veranderinge aan die sosiale omgewing, eerder as om net die oneindige rye siek mense te behandel. Elke oggend kies ek om op te staan en voort te gaan om op daardie dag my heel beste te doen, totdat ek eendag my doelwitte kan bereik.

My gunstelingdeel van my werk is die persoonlike interaksie met pasiënte; om hulle dag beter te maak met ’n glimlag, ’n gedeelde grappie, ’n gesprek wat wys dat ek hulle omstandighede verstaan, of deur vir hulle antwoorde en oplossings te gee. Dit verg so baie vertroue om ’n verhouding met ’n pasiënt op te bou; dis ’n baie unieke posisie om in te wees.

Is daar ‘n bepaalde spesialisveld wat jou interesseer – watter soort dokter reken jy wil jy wees oor nog 10 jaar?
Ek stel baie belang in familiemedisye, binne Openbare Gesondheid of as ‘n gespesialiseerde algemene praktisyn. Albei hiervan kyk na gemeenskappe soos ek hierbo genoem het, en die faktore wat mense se gesondheid beïnvloed, en hoe nie net persoonlike opvoeding nie, maar ook regeringsbeleid oor faktore soos rook, alkohol of suikerbelasting, bevolkings se gesondheid kan affekteer. Palliatiewe sorg, waar mens met terminale siektes werk, is ook ’n baie spesiale veld, en na aan my hart.

Jy skryf ook stories oor haweloses vir die George Herald, as ’n uitvloeisel van ’n gemeenskapsprojek oor haweloosheid wat jy in jou laaste studiejaar gedoen het. Vertel ons meer van hierdie projek?
Daar is agt mense se lewensverhale, vanaf hul kinderjare: hoe hulle op straat beland het, hul ervaring van haweloosheid en hul toekomsvooruitsigte en drome. Vier van hulle het ek by ’n oornag-skuiling ontmoet en die ander vier deur ‘n voeding- en ondersteuningskema genaamd Cremhog in George. Ek het tot dusver vyf van hulle stories in George Herald gedeel; elk met ‘n ander fokuspunt rondom navorsing oor gesinskonflik, gesinsgeweld, dwelmmisbruik, geestesgesondheid en verwaarlosing van bejaardes. Die projek self het bestaan uit agtergrond en navorsing oor die huidige situasie rondom haweloosheid in Suid-Afrika, insluitend die maatreëls waarmee haweloosheid in Suid-Afrika bekamp probeer word en watter lesse uit internasionale voorbeelde geleer kan word.

My studie het ook ’n persoonlike, en groter doelwit gehad, om insig en begrip vir die hawelose gemeenskap te kry en om by hulle te leer wat hulle nodig het en hoe ek vanuit die gesondheidsektor vir hulle van diens kan wees. My groter doelwit is om al die relevante navorsing in een plek te plaas in ’n formaat wat maklik leesbaar is, saam met voorstelle oor ingrype wat dalk haweloses kan help, en ook verdere haweloosheid kan probeer voorkom. Die artikels vir George Herald het ’n manier geword om dít waarmee haweloses sukkel onder die George-gemeenskap se aandag te bring en om dalk ’n verandering te bewerkstellig in die manier waarop die probleme rondom haweloosheid benader word. Eerstens om tot die besef te kom dat die oorsake van haweloosheid wyer is as armoede; dat dit dikwels vloei uit gesinskonflik, verslawing, gesinsgeweld en groepsdruk, en dat hierdie aangeleenthede aangespreek moet word om haweloosheid te bekamp. Tweedens, die besef dat baie mense net een ongeluk weg is van haweloosheid, en dat baie van ons nie só anders is as daardie hawelose persoon wat jy dalk beskou as vuil en minderwaardig nie. Derdens, dat dit belangrik is om aan haweloses ’n stem te gee in ’n samelewing wat so graag sy eie oplossings afdwing op ander sonder om te luister na die behoeftes van die groep wat hy sogenaamd wil bystaan.

Hoe sal jy potensiële donateurs aan Atterbury Trust se beursfonds inspireer om skenkings te maak? Wat het hierdie beurs vir jou beteken?
Atterbury Trust gee uitstekende geleenthede aan die volgende generasie van professionele mense.  Eerstens het hulle finansiële hulp baie bygedra tot my onafhanklikheid en my geesteswelstand. Ek het op 16 by my pa en stiefma ingetrek en dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe. Ek het geïsoleer gevoel en het baie min ondersteuning by die huis gekry. En toe ek universiteit toe is, het die stres net toegeneem en my huislike omstandighede het vererger. My ma het desperaat probeer help sodat ek kon uittrek, maar sy het nie die vermoëns gehad om daarvoor te betaal nie. As mens medies swot is dit ook baie moeilik om sakgeld te verdien – ek het vir ‘n rukkie probeer om au pairwerk te doen, en private klasse aan te bied, maar my ure was so onvoorspelbaar en my toetse gereeld en baie!

In my derde jaar het Atterbury Trust aan my ’n beurslening toegestaan, en toe kon ek my eie woonplek bekostig. Ek kan nie beskryf hoe baie verligting dit gebring het nie. Ek kan nie beskryf hoe ek kon groei en blom danksy hierdie hulp nie. En Leonie se wonderlike leiding het my gehelp om my toekomsplanne te vorm, om my sterk en swak punte te identifiseer en om ondersteun te voel binne die Atterburygemeenskap. Hulle prop jou nie net in ’n betaalstaat in en vergeet daar van jou nie – hulle maak seker jy ontwikkel en het die geleentheid om te groei. Hulle doen moeite om jou te help om jou potensiaal te bereik.

Baie dankie, Atterbury. Ek weet ek was met my mal ure nie altyd die maklikste mens om in die hande te kry nie, maar ek het alles wat julle gedoen het, so baie waardeer.

Kliek hier om Ellen-Marie se jongste gevallestudie vir George Herald te lees. “The homeless need your help: mental health and homelessness” vertel die verhaal van die hawelose Johan. Om meer uit te vind oor Atterbury Trust se beursfonds en hoe jy kan bydra tot die verder studies van hardwerkende, dinamiese, talentvolle jongmense, kliek hier.