Triomf Kliniek het onlangs agt jaar oud geword. Atterbury Trust se Projek- en studentekoördineerder, Danelle Strydom, kyk terug na agt produktiewe, deernisvolle jare van sorg met waardigheid aan die mense van Pretoria-Wes.

Baie geluk met Triomf Kliniek se verjaardag! As julle terugkyk op daardie klein begin en waar die kliniek vandag is, wat is jou gewaarwordinge?
Triomf Kliniek het in 2014 met die bemiddeling van die Atterbury Trust klein begin met ’n droom van Iris Roscher en haar broerskind, Dr Marc Roscher, en ons staan dankbaar dat Triomf Kliniek vandag soveel meer gratis mediese dienste aan minderbevoorregtes kan bied. Maar ook, veral, vir die wonderlike dokters wat bereid is om betrokke te raak sodat ons vir mense wat andersins nie behoorlike mediese aandag in staatshospitale kan kry nie, uitsonderlike diens te kan verskaf.

Al is die diens vir die pasiënte gratis, weet ons daar is bedryfskostes om ’n kliniek van hierdie gehalte aan die gang te hou. Kan jy ’n voorbeeld gee van die sorg wat beskikbaar is vir Triomf se pasiënte?
Ja daar is beduidende kostes, van kostes om die fasiliteit in stand te hou, elektrisiteit, internetdienste en  versekering tot medikasie, toerusting en ander eksterne dienste. Die Triomf Kliniek bied ’n verskeidenheid dienste sonder enige koste aan kwalifiserende pasiënte, insluitende oogtoetse, tandheelkunde en die verskaffing van kunsgebit, en ons dek ook die kostes as die dokter ‘n pasiënt byvoorbeeld vir ’n mammogram, skanderings of bloedtoetse verwys.

Deel bietjie die indrukwekkende syfers met ons?
Altesame 4 962 pasiënte het sedert Julie 2014 by die kliniek hulp ontvang. Daar is tans 16 vrywilligers wat aktief by Triomf-kliniek betrokke is, waarvan 14 dokters is.

Die vrywilligers verdien ’n toekenning vir hul engele-diens! Wie is hulle en watter spesifieke bydrae lewer elkeen?
Elke individu of instansie wat tyd en kundigheid vir Triomf gee, kry beslis ’n engeltoekenning! Dis te danke aan hierdie mense dat ons meer pasiënte kan help:

  • Dr Mark Roscher – dermatoloog
  • Dr Jeanette Joynt – dermatoloog
  • Prof. Steve Rossouw – internis
  • Dr Riana Malan – algemene praktisyn en vrouegesondheid
  • Dr Ugeshnie Naidoo – dermatoloog
  • Dr Gerrie Moolman – oor-, neus- en keelspesialis
  • Dr Tommie Swart – algemene praktisyn
  • Dr Helene Basson – ortopediese chirurg
  • Dr Odette Koch – ortopediese chirurg
  • Dr Gerhard Herbst – algemene praktisyn
  • Dr Jannie Kock – oor-, neus- en keelspesialis
  • Dr Jonelle Meyer – dermatoloog
  • Dr Christivan Maas – tandheelkunde
  • Dr Dirk Maree – plastiese chirurg

Dan is daar ook die maatskaplike werker Kara Pieters en Spec-Savers Hillcrest wat beslis ‘n eervolle vermelding verdien vir alles wat hulle doen en bydra!

Ons is ook baie gelukkig dat Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) jaarliks ‘n noemenswaardige borgskap aan Triomf Kliniek bewillig deurdat medisyne maandeliks verskaf word en Triomfpasiënte ook gratis teatertyd by ZAH ontvang.

Wat sou jy sê was oor die afgelope agt jaar die grootste uitdagings en hoe is hulle oorkom?
Omdat ons dokters vrywillig werk en hul tyd dus beperk is, groei ons waglys ongelooflik vinnig. Daar is steeds soveel mense wat in nood is en basiese mediese sorg verlang. Dit bly permanent ’n uitdaging, maar ons sien dit eerder as ’n geleentheid om meer medici betrokke te kry by Triomf Kliniek.

Die mees onlangse inisiatief was die velkankerbewusmakingsdag op 1 September. Hoe het dit verloop?
Ons het ’n baie suksesvolle dag gehad en 10 pasiënte is gespreek. Elkeen se velletsels is geskandeer in ’n deeglike vel-ondersoek en in drie gevalle is daar iets gevind wat verdere ondersoek nodig het. Dié pasiënte is na Dr Jonelle Meyer, een van ons vrywilliger-dermatoloë, verwys. Al hierdie pasiënte is ook toegerus met inligting om meer weerbaar teen hierdie potensiële lewensgevaarlike siekte te wees.

Ons verneem die volgende spesiale inisiatief is Triomfantelik Vrouwees op 24 September. Wat gebeur op dié dag?
Triomfantelik Vrouwees is ’n ontspan-en-bederf oggend by die Atterbury Teater saam met Hannon Botma, wat ten bate van Triomf Kliniek plaasvind. Hy gaan op vermaaklike wyse praktiese wenke deel oor hoe om die meeste van jou voorkoms te maak. Wat hierdie oggend meer spesiaal maak is dat die opbrengs van die kaartjieverkope aan Triomf Kliniek geskenk word. Bydraes soos hierdie is ’n welkome aanvuller sodat ons nog meer pasiënte kan help.

Oor twee jaar is die kliniek 10. Wat hoop jy sal julle teen daardie mylpaal bereik hê?
Ons wil aanhou groei, so ek hoop vir nog meer vrywilliger-dokters met nog wyer areas van spesialisasie! Die oogmerk is om meer mense meer gereeld kan help, en ons lang waglys te laat krimp.