Johan Badenhorst, veteraan reisiger van die Voetspore reeks, is ook die gereelde seremoniemeester by Atterbury se Versnit musiekfees. Ons vra vir Johan die 10 brandende vrae!
Jy en Atterbury is ou vriende. Vertel ons daarvan?
Dit het begin met die musiekspel Stuur Groete aan Mannetjies Roux. Ek, Chris Torr en Laurika Rauch het ʼn platform gesoek vir die verhoogproduksie. Atterbury het ʼn nuwe teater geopen. Beter sinergie kon mens nie kry nie. Van meet af aan het ek baie tuis gevoel binne die Atterbury-opset. Julle is gemaklike mense sonder pretensie wat daarvan hou dat dinge gedoen word. Julle kan hard werk, hard speel, en het groot waardering vir wie ons as Suid Afrikaners en Afrikaners is. Stuur Groete aan Mannetjies Roux, as verhoogproduksie, het fenomenale sukses geniet. Eers vir vier weke om die nuwe Atterburyteater te open en as trekpleister vir die Lynnwood Bridge ontwikkeling te dien, maar daarna ook in Kaapstad, Johannesburg en Bloemfontein. Dit is verder my voorreg, die afgelope paar jaar, om ook by Versnit betrokke te wees. Dis nou ʼn produksie met styl…
Wat is jou familie-opset?
Ek en Alma is vanjaar 25 jaar getroud. Ons het drie kinders wat tans al drie op universiteit is. Al drie studeer B Comm. Nina en Heleen op Tukkies en Streicher op Stellenbosch.
Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is ʼn Nataller in murg en been: gebore in Durban, skoolgegaan by Laerskool Nongoma en Hoërskool Empangeni. Dis die platteland; dit gee mens ʼn baie goeie basis. Maar ek is reeds sedert 1978 in die Transvaal/Gauteng!
Voltooi die sin: Ek weet ek is Afrikaans/’n Afrikaner, want…..
Afrikaans is sekerlik die mooiste, mooiste taal. En dan is ʼn ware Afrikaner ʼn mens met ʼn oop gemoed. ʼn Ontvanklike mens. Ek sien dit met my reise in Afrika – die mense wat die heel beste op die kontinent aanpas is die Afrikaner. Dis wonderlik om ʼn Afrikaner te wees, maar dit moet nooit in stryd staan met Suid-Afrikanerskap nie. Die een sluit nie die ander uit, en daar kan geen konflik tussen die twee wees nie.
Hoe lyk jou ideale Sondagmiddagete, en aan die keersy, wat is die vreemdste ding wat jy op jou omswerwinge aangebied is om te eet?
Sondagmiddae, in die somer, braai ons. In die winter, skaapboud, aartappel, boontjies, pampoen… Boerekos. Maar ek het geen probleem daarmee om te eksperimenteer met nuwe geregte nie. Vreemd was nog nooit vir my vreemd nie. Wat ek wel nie eet nie, ten spyte daarvan dat ek al baie die geleentheid gehad het, is Afrika se sogenaamde boskos – apies, ietermagô, vlermuise, slange. So honger was ek nog nie.
Wat het jy uit al jou baie reise geleer?
Ek was nie juis ʼn ongeduldige mens nie, maar vandag is ek geduld se baas. Dit is die effek van vier weke op ʼn rivierboot op die Kongo. Of vier uur deur die spitsverkeer van Nairobi. Of ʼn week se wag in Aswan vir jou voertuie om per vragskip op te daag vanaf Wadi Halfa. In jou reise, en ook in die res van jou lewe, moet jy leer om te begroot vir geduld. Jy sal dit altyd nodig kry.
Noem drie bekendes wat jy graag saam met jou wou nooi op Voetspore?
Soos almal van ons sou ek vir Madiba wou nooi. Dit is verstommend hoe hy ook vir my as wit Afrikaanssprekende die kontinent geopen het. Ek sal hom net as waarnemer wil saamnooi, dat hy die gevolge van sy staatsmanskap kan waarneem. Maar ander manne wat ek graag in die geselskap sou wou hê is die eertydse ontdekkingsreisigers. Nie Livingstone nie. Ek dink hy was dalk te veel van ʼn korrelkop. Ook nie Richard Burton nie. Sy ego was te groot. Maar dalk John Hanning Speke, ontdekker van die oorsprong van die Nyl, en Samuel Baker, die eerste man wat, met sy vriendin aan sy sy, stroomop kon vaar in die Nyl, deur die moeras van die Sudd, tot die valle wat hy na Lord Murchison vernoem het. Dit was in 1864.
Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Dat ek my televisieproduksie kan voltooi en aflewer vanaf enige plek in die wêreld. Dit bestaan reeds (teoreties), maar die kostes is nog te hoog. Tans lewer ons nog die reekse af op ʼn kasset en harde skyf.
Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Die uitbreek van die Golfoorlog van 1990. Ek het toe gedink niks sal ooit meer dieselfde wees nie. En dit was nie. Daar was 9/11, verdere oorloë, ISIS – dis asof die wêreld daardie dag besluit het om in ʼn wentelbaan van tirannie en geweld te verval, veral in die Midde Ooste. Dis so jammer en tragies, en ek is nie seker of dit in my leeftyd tot ʼn einde sal kom nie.
Atterbury Trust help graag om mense se drome waar te maak. As jy enigiemand wat jy op jou omswerwinge raakgeloop het se droom kon laat waar word, wie en wat sou dit wees?
Dit is werklik ʼn moeilike vraag, omdat ek glo elke mens moet daaraan werk om sy eie drome waar te maak. Atterbury Trust doen wonderlike werk, maar as jy mooi gaan kyk is daar harde werk betrokke vir elkeen wie se drome bewaarheid word. Ek is nie ʼn groot voorstander van liefdadigheid soos daar al vir te lank in Afrika in die naam van sogenaamde hulpverlening gedoen word nie.
Voetspore in Afrika se Groot Skeurvallei is pas klaar opgeneem. Dit is tans in naproduksie en sal vanaf Augustus 2015 op SABC2 te sien wees. Volg hulle op www.voetspore.co.za