Die eg-Afrikaanse, nou Amerikaner, Paul Wolmarans is een van Atterbury Trust se gewaardeerde donateurs, en borg al die afgelope paar jaar die studie-onkostes van beursstudente terwyl hy hul ook die kosbare bonus van buitelandse blootstelling bied. Hy verduidelik wat hom motiveer om so ’n verskil te maak.
Jy woon en werk al die afgelope twee dekades in Florida in die VSA, en is die besturende direkteur van ’n groep maatskappye wat betrokke is in die konstruksie-, eiendoms- en vervaardigingsbedrywe. Hoe het jy by Atterbury Trust betrokke geraak, en hoekom het jy besluit om ’n beurs beskikbaar te stel?
Voor die VSA was ek 18 jaar betrokke in die bou- en vervaardigingsbedryf in SA en Suider-Afrika. Hierdie ondervinding het die fondament geskep vir ons VSA besigheid. My grootwordjare in Centurion het die grondslag geskep vir al my lewenservaring. Die omgewing van ons jeug het ’n direkte impak op dit wat ons bereik. Ek glo dat dit gepas is om op ’n positiewe manier terug te gee aan die omgewing wat ons gevorm het. Bo en behalwe dit, is daar soveel meer plesier daarin om te gee as om te ontvang.
Ek het na organisasies in Suid-Afrika gesoek wat beurse bied en het op die Atterbury Trust afgekom. Ek het ’n e-pos aan Zahn Hulme gestuur en sy het dadelik ’n aanlynvergadering gereël. Van daar af het dinge gebeur om my en Elfriede se droom om by te dra tot die opvoeding van belowende kinders in Suid-Afrika ’n werklikheid te laat word.
Wat was jou bepalings vir die ontvanger van die beurs?
Dit moet ’n leerder aan HS Centurion wees – my alma mater – wie se huistaal Afrikaans is en wat potensiaal het om ’n tasbare positiewe verandering aan hulle gemeenskap te kan maak na voltooiing van hulle studies. Die beurslening is spesifiek beskikbaar aan studente wat in die konstruksiebedryf of verwante ontwerp-dissiplines belangstel. Indien daar nie sulke kandidate by HS Centurion is in enige gegewe jaar nie, dan aan kandidate wat belangstel om in die STEM rigtings – wetenskap, tegnologie, ingenieurswese of wiskunde – te studeer. Finansiële verdienstelikheid speel ’n definitiewe rol, maar staan nie in die eerste plek nie. Ons gee ook vir verdienstelike beurshouers die geleentheid om tydens hulle studiejare by een van ons maatskappye in die VSA vakansiewerk te doen, hoewel daar geen werksverwante verpligting is na voltooiing van hul opleiding nie.
Verstaan ek reg dat jy een student borg van eerstejaar tot hul gradueer voor jy ’n volgende beurs sal befonds?
Nee, ek bring elke jaar een bykomende student aan boord tot hul gradueer. Ons is nou in ons derde jaar, so daar is tans drie studente – eerstejaar, tweedejaar en derdejaar. Dit beteken dat daar op enige gegewe oomblik tot vyf studente in ons program sal wees.
Chloe Blignaut, derdejaar argitektuurstudent by Tuks, is die eerste van dié studente vir wie jy ’n vakansiewerkgeleentheid gebied het. Wat kan jy ons vertel van die ervaring om ’n student te akkommodeer met vakansiewerk? En hoekom dink jy dis belangrik dat die private sektor betrokke raak by sulke programme?
Indien die privaatsektor nie betrokke raak nie, wie sal – die regering? Die gedagte met die program is om as verdere motivering te dien vir die student wat goeie vordering maak gedurende hulle eerste twee jaar op universiteit. Die blootstelling aan die onbekende in die VSA verg nuwe moed en bou nuwe vaardighede wat nie op universiteit geleer word nie. Hopelik verbreed dit ook die studente se visie oor wat hulle kan bereik met hulle eie loopbaan. Nie net sien hulle ’n ander omgewing, ’n ander kultuur en ’n ander pas van die lewe nie, maar hulle sien ook by ons ’n familie wat uit presies dieselfde omgewing as hulle kom. Dit is dus moontlik om ’n toekomsvisie of “brug” te bou tussen waar hulle tans is en hulle toekomsmoontlikhede. So ’n visie of “brug”, gekoppel met die reeds getoetse vermoë en hardwerkendheid van die student, bou hopelik karakter en deursettingsvermoë. Hierdie eienskappe sal hopelik die studente in staat te stel om ’n buitengewone groot bydrae aan die toekomstige Suid-Afrika te maak. Tesame met Atterbury Trust gee ons hulle die boustene om ’n positiewe impak te kan maak.
Verstaan ek reg dat jou seuns ook by jou besigheid betrokke is, en is dit reg dat julle almal Amerikaanse burgers is? Behou julle nou bande met Suid-Afrika op ander maniere as hierdie wonderlike beursgeleentheid wat julle aan ’n verdienstelike jong student gee?
Ja, ons het vier seuns: drie ingenieurs wat betrokke is by ons maatskappye en een dokter. Ons het ’n familiegeskiedenis van langer as 270 jaar in SA en ons bly Suid-Afrikaners in ons harte. Ons het uitgebreide familiebande en vriendekringe wat ons gereeld terugbring om tyd te spandeer. Die Laeveld bly een van ons gunsteling plekke in die wêreld!
Maak ’n lewenslange impak in ’n verdienstelike student se lewe deur by te dra aan Atterbury Trust se beursleningfonds. ’n Artikel A18-sertifikaat vir belastingdoeleindes is beskikbaar vir alle skenkings. Sien hierom meer uit te vind.