Atterbury Trust se beursstudente is een en almal ‘n inspirasie. Ons gesels met LLB student Carla Coetzee, wat in Garsfontein saam met haar ma en jonger suster woon en tans ook deeltyds werk by Atterbury se finansiële afdeling.

Hoe lank is jy al deel van die beurslening-program, en hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?

Hierdie is die derde jaar wat ek deel is van die program. Ek was vir 14 jaar ’n ballerina en elke tweede jaar het ons studio ’n konsert by die Atterbury Teater gehou. Ek het meer navorsing gedoen oor die teater waar ek vir jare my passie uitgeleef het en uitgekom by die Atterbury Trust en die beurslening-program.

Jy swot regte; wat het jou gemotiveer om dié studierigting te kies?

Ek het my BCom Regte-graad in 2024 voltooi en is tans besig met my LLB-graad. Ek studeer regte omdat ek glo in die krag van die reg en geregtigheid. Ek wil ’n stem wees vir dié wat nie altyd die geleentheid het om gehoor te word nie of nie bewus is van hul regte nie. Deur regte te studeer, doen ek die nodige kennis en vaardighede op wat gebruik kan word om daardie stemme te versterk en vir ander op te staan wanneer hulle dit die nodigste het. Ek glo dat die regstelsel ’n belangrike rol speel in die beskerming van menseregte en bevordering van ’n regverdige samelewing.

Wat  beteken Atterbury Trust se bydrae vir jou akademiese lewe? 

Alhoewel Atterbury Trust soveel meer as net finansiële ondersteuning bied, sou ek nie vandag gewees het waar ek is as dit nie vir die deurgaanse werksgeleenthede en emosionele ondersteuning was wat die Trust bied nie. In my vrye tyd werk ek by die Atterbury Teater se kroeg, en ek werk ook deeltyds in Atterbury se finansiële afdeling. Hierdie werksgeleenthede help my nie net finansieel nie, maar rus my ook toe met waardevolle ervaring en vaardighede wat my op verskeie maniere bevoordeel – nie net in my toekomstige loopbaan nie, maar ook tans in my akademiese lewe. Die dissipline, tydsbestuur en praktiese insig wat ek daagliks aanleer, verbeter my studiebenadering en versterk my begrip van sekere konsepte waaroor ek in vakke soos belasting en rekeningkunde geleer het en ook hoe daardie konsepte van toepassing is in die wêreld buite my studies.

Jy en jou sussie en ma is ’n hegte span. Is jou sussie ook deel van die beursprogram? Wat het julle deur al die jare by mekaar geleer?

Ja my sussie, Shani, is tans ’n tweedejaar-student en het aan die begin van haar eerstejaar deel geword van die beurslening-program. Nadat my pa oorlede is, en soos wat ons moes aanpas deur die jare, het ons geleer dat spanwerk ’n wenresep is. Ons het geleer dat dit beter is om bymekaar te “stick” en mekaar te ondersteun, want wanneer een van ons party dae nie ons alles kan gee nie, is die ander twee daar om die res te doen.

Is daar ’n mentor of ervaring in die program wat besonders vir jou uitgestaan het?

Leonie du Preez van GRO Life, ons lewensafrigter by Atterbury Trust, het ’n diepgaande en positiewe impak op my lewe gehad. Sy het my nie net ondersteun en gehelp om vorentoe te beweeg nie, maar my ook geleer om met hoop en deursettingsvermoë na die toekoms te kyk, ten spyte van die uitdagings en struikelblokke wat ek al moes oorkom. Bianca Lovecchio onder wie ek tans in die finansiële departement by Atterbury werk, het my die waardevolle insig gegee dat akademiese terugslae nie my toekoms definieer nie. Sy het my laat besef dat dit nie net gaan oor ’n moeilike toets of eksamen nie, maar oor hoe jy herstel, aanhou probeer en sterker vorentoe beweeg.

Wat is jou droom vir die toekoms – in jou beroep én persoonlik?

My droom is om ’n lewe te lei wat getuig van die ondersteuning en geleenthede wat ek deur die jare ontvang het. Ek glo dat wanneer jy baie ontvang het, dit jou verantwoordelikheid is om iets terug te gee. Daarom is dit my droom om eendag my eie regspraktyk te stig wat spesialiseer in kinderreg. Ek wil soveel as moontlik pro bono werk doen om kinders en families by te staan wat nie in ’n posisie is om regskostes te kan betaal nie. My visie is om ’n ruimte te skep waar mense gratis of bekostigbare regshulp kan ontvang, en terselfdertyd wil ek regstudente betrek sodat hulle waardevolle praktiese ervaring kan opdoen wat hulle loopbane en begrip van gemeenskapsdiens sal verryk.

’n Ander droom wat baie na aan my hart lê, is om eendag ’n groot familie van my eie te hê. Ek is ongelooflik lief vir kinders en, omdat ek en my sussie in ’n klein gesin grootgeword het, verlang ek daarna om eendag ‘n huis vol van liefde en lewenslus te hê.

As jy met ander jongmense kon praat wat dalk moedeloos voel, wat sou jy vir hulle sê?

My raad sou wees om nie toe te laat dat jou verlede jou toekoms bepaal nie. Leer daaruit en gebruik dit om sterker te word en wyser besluite in die toekoms te neem. Elke fout of struikelblok kan ‘n leergeleentheid wees wat jou help groei en jou pad na sukses vorm.

Met die hulp van donateurs wat bydra tot Atterbury Trust kan ons meer studente soos Carla help om hulself toe te rus om ‘n blywende verskil aan ons samelewing te maak. Jy kan help deur by ons Donasiewinkel ‘n skenking te maak