Finansiële nood, bekommernis en verlange is maar net ʼn paar van die dinge wat kinderkankerpasiënte en hul ouers plattrek.

GROOTfm 90.5 het, as deel van hul jeugmaand #LOSITBETER-veldtog, hande met die Atterbury Trust, SPAR en Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC) gevat om terapie-teddiebere aan kinderkankerpasiënte uit te deel.

Dié terapie-teddies, beter bekend as hug buddies, is die inisiatief van Juane van Rooyen, ʼn skoonheidsprinses, graad 8-leerder aan die Hoërskool Waterkloof en stigter van die niewinsgerigte organisasie Fading Dreams – Keep Children’s Dreams Live.

Die terapie-teddies het ontstaan ná talle besoeke aan behoeftige kleuterskole waar Juane besef het dat sy kinders ʼn drukkie kan gee, maar dit nie blywend is nie.

Juane, haar ma, Jacqueline, en ʼn vriendin en psigometris, Miana Spies, het begin om terapie-teddiebere te maak. Die teddies, wat elkeen 5 kg weeg, het verskeie voordele, veral vir kinders wat trauma en leeruitdagings ervaar. Miana verduidelik die gewig van die teddie ʼn gevoel van ʼn blywende drukkie skep en impulse na die brein stuur wat die troostende effek van ʼn drukkie naboots.

Hierdie teddiebere hou merkwaardige terapeutiese voordele in en skep ʼn gevoel van sekuriteit, terwyl dit gerusstelling aan kinders bied.

GROOTfm 90.5 en die Atterbury Trust het Juane, Jacqueline en Miana genader om terapie-teddies in vier hospitale se pediatriese onkologiesale uit te deel, en so die kinders, wat geweldige trauma beleef, blywende drukkies te gee.

Ina Schompher, hoofbestuurder by CHOC se noordelike streek, het die span na Dr. George Mukhari-hospitaal, noord van Pretoria, vergesel om 25 van 120 terapie-teddies uit te deel. Unitas-, Steve Biko- en Pietersburg-hospitaal gaan ook terapie-teddies ontvang.

Schompher het genoem dat vroeë diagnose en volhoubare behandeling weens omstandighede en finansiële uitdagings die grootste probleme is wat kinders en hul ouers in hierdie stryd teëkom.

“Kinderkanker word steeds as ʼn skaars siekte beskou, en dit is nog ʼn uitdaging.” ʼn Skaars siekte word deur 1 000 en 1 500 diagnoses per jaar bepaal, en heelwat kinders word nie gediagnoseer nie, dus bly kinderkanker ʼn skaars siekte.

Leukemia (bloedkanker), breinkanker en limf- en nierkanker word die meeste by kinders gediagnoseer. Suid-Afrika se oorlewingsyfer is tans 50%, terwyl dit in die res van die wêreld tussen 75% en 80% lê. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wil tesame met CHOC en medici poog om die oorlewingsyfer vir plaaslike kinderkankerpasiënte na 60% teen 2023 te vermeerder.

CHOC bied tans behuising, finansiële ondersteuning, vervoer, drie etes per dag en selfs rou-ondersteuning vir ʼn minimum van ses maande aan gesinne.

Dié organisasie het 13 huise in sy streke wat vir behuising gebruik word, en die ideaal is dat ouers en kinders in hierdie huise bly vir ten minste die eerste sewe maande van behandeling, aangesien die risiko vir infeksie wanneer hul huis toe gaan, veels te hoog is.

Die koste om hierdie organisasie te bedryf, beloop vir slegs die noordelike streek jaarliks ʼn minimum van R600 000, met ʼn bykomende bedrag van R400 000 vir vervoerkostes. Elke gesin ontvang ook voedselpakkies met basiese niebederfbare items, wat R600 per pakkie beloop en waarvan ʼn gemiddeld van 60 pakkies per maand uitgedeel word. CHOC se grootste behoefte is dus volhoubare finansiële ondersteuning.

Vrywilligers vir fondsinsamelingsfunksies en ʼn teenwoordigheid in pediatriese onkologiesale is ook ʼn groot behoefte vir CHOC. Dis ʼn groot verantwoordelikheid om ʼn vrywilliger vir die organisasie te wees, en CHOC lei self die vrywilligers op sodat hulle die regte gereedskap vir hul rolle het.

CHOC werk in Gauteng-Noord en -Suid, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, asook die Oos- en Wes-Kaap, en het ʼn professionele span in elkeen van hierdie streke wat gesinne begelei, asook ʼn span van vier maatskaplike werkers in elkeen van die hospitale wat hul bedien.

Alhoewel jy nie ʼn kind se kanker kan genees nie, kan jy ondersteuning en liefde gee deur organisasies soos CHOC te ondersteun.