Atterbury Trust beursstudente het baie uitstaande eienskappe, en dis dikwels die ingesteldheid van geleenthede aangryp wat hierdie vasberade jongmense so spesiaal maak. Studente soos Hanco Stone, nou in sy derdejaar B Com Besigheidstudies by Tukkies, wat blom in sy deeltydse werk by Atterbury Property.  Ons hoor meer by Hanco en Ruan van Rooyen, onder wie se vlerk hy tans by Atterbury Property werk.

Vertel ons hoe jy vanjaar, tussen jou studies deur, deeltyds by Atterbury Property begin werk het.
Hanco Stone: Die werksgeleentheid het toevallig oor my pad gekom toe ek vir Mnr Louis van der Watt gecaddy het by ’n gholfdag. Hy het my daarna gebel en uitgevra oor wat ek weet van konstruksie, hoeveel vrye tyd ek tussen my studies deur het, en of ek sou belangstel om by Atterbury Property internskapwerk te doen. Hy het my toe met Derrick Pautz van die Atterbury Property ontwikkelingspan in verbinding gesit, en kort daarna het ek deeltyds daar ingeval. Ek is aanvanklik vir ’n drie-maande tydperk aangestel, en ek werk baie nou saam met Ruan van Rooyen, en sit hand by soos van my verwag word, op die projekte waaraan die span tans werk.

Ruan van Rooyen: Hanco word daagliks aangewys om verskeie take namens ons ontwikkelingspan uit te voer. Dit sluit die koördinering van huurders se inruimingsprosesse in, asook toesighouding oor konstruksie-aktiwiteite wat deel vorm van ons verskeie projekte. Die huidige projekte sluit die opgradering van die watersisteme by Castle Gate in, die opknapping van Die Boomhuis en die opknapping van Alvies Restaurant by The Village sowel as die hantering van defekte by Castle Gate Lifestyle

Hanco, toe jy begin dink het aan verder studeer, watter rigtings het jy oorweeg en hoekom? En wat het gelei tot jou finale besluit?
Ek het nog altyd geweet dat ek ’n passie vir die sakewêreld het, en of dit nou mynbou, konstruksie of finansies is, het ek nog altyd belanggestel om te weet hoe besigheid gedoen word en wat dit alles behels. Ek het myself dus soveel moontlik in posisies probeer plaas wat ek meer van besigheid kan leer, en dis dan ook hoekom ek besluit het om ’n besigheidsrigting te gaan swot.

Op ’n persoonlike noot, vertel ons iets van jou gesin. Waar is jou ouerhuis?
My ouer suster het LLB geswot by Stellenbosch Universiteit en is nou besig met haar artikels by ’n firma in Bellville in die Kaap. My ouers het twee jaar gelede van Rustenburg, waar ek gematrikuleer het, Pretoria toe getrek. My pa werk by ’n mynmaatskappy en my ma was ‘n onderwyseres maar nou hou sy die huishouding aan die gang.

Kan jy met ons deel wat jy die meeste geniet van die werk by Atterbury Property?
Dis vir my so lekker om daagliks in scenarios te wees waar ek nuwe dinge leer. Dis presies wat elke dag by Atterbury gebeur – daar is heeltyd nuwe mense, nuwe uitdagings en nuwe verantwoordelikhede, wat so stimulerend is. Die span laat mens baie welkom voel, so ek is elke dag opgewonde om werk toe te kom.

En wat is vir jou die mees uitdagende aspek van die werk?
Omdat hierdie ’n absolute nuwe wêreld vir my is, word daar elke dag verskeie nuwe uitdagings op my bord gesit, en ek leer nog aan al die terminologie, en werk daaraan om stadigaan my kennis van die werk te verbreed. So ek voel soms onseker, maar ek fokus daarop om elke uitdaging as ‘n geleentheid te sien om my kennis op te bou.

Die deeltydse werk terwyl jy swot is ’n lekker bonus by jou beurslening. Is daar ’n kans dat jy permanent by Atterbury Property sal werk?
Dit is beslis ’n bonus, en sjoe, ek is trots op my Atterbury epos-adres – ek is so dankbaar  vir die geleenthede wat op my pad gekom het danksy die Atterbury Trust beurslening. Dit is een van my koelste ervarings nog om hier te werk en wie weet wat die toekoms inhou… ek hoop dat ek deur harde werk en geloof nog ’n lang paadjie saam met Atterbury Property sal kan stap.

Wat beteken dit vir jou om deel van Atterbury Trust se beursleningprogram te wees?
Mens voel asof jy deel is van ’n netwerk vol geleenthede en opbouendheid, met mense wat daar is vir my, om my sterker te maak en voor te berei vir die toekoms wat op my wag. Ek is so dankbaar.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees? Wat is jou droom vir jouself?
Dis my droom om myself op te werk in die sakewêreld totdat ek hopelik eendag my eie besigheid kan besit, of in ’n bestuursposisie by ‘n sterk maatskappy kan wees. Dit gaan vir my oor hardwerkendheid, integriteit en energie, en dis my droom om my merk te maak in ‘n bedryf waaroor ek passievol voel.

Ruan, watter waarde reken jy is daar is vir julle as ’n ontwikkelingspan om studente op so ’n wyse in internskap-posisies in te neem?
Ons beskou dit as uiters waardevol om iemand soos Hanco in ons span te hê. Benewens sy sterk karaktereienskappe en gewilligheid om te help, is hy ook altyd bereid om ’n hand by te sit tydens sosiale en spanbou-geleenthede. Hy dra beslis by tot die positiewe dinamiek van ons span.

Jy kan ons help om nog hardwerkende dinamiese studente soos Hanco met hul studies te help, deur ’n skenking te maak waarvoor jy ’n Artikel 18- belastingsertifikaat sal verdien. Ons verwelkom ook deeltydse of vakansie-werksgeleenthede vir ons senior studente – enigiemand wat so ‘n geleentheid het, kan ons kontak by [email protected].