Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) het in Desember 2024 weer ’n leierskapskamp vir beurshouers aangebied in Rocklands, Simonstad. MOI Programbestuurder Jenene Petersen vertel meer.

Wie het almal die kamp bygewoon?
Dit was ons jaarlikse leiersberaad waar die hele groep beurshouers teenwoordig is, en dit was ook die laaste kamp vir 2024 se 20 matrikulante, wat tot ons groot trots almal geslaag het met Baccalaureus-vrystelling! Daar was altesaam 75 leerders teenwoordig.

Was daar ’n bepaalde tema vir die kamp?
Ja, ons het besluit op Bande van Vriendskap as ’n gepaste tema vir die drie-dag kamp, want deel van MOI se krag lê juis in die bande wat die jongmense uit verskillende gemeenskappe en skole hier in die program smee, met mekaar, met ons as programleiers en met die groter span van Atterbury Trust en Atterbury Foundation NPC wat so hard werk aan die volhoubaarheid van MOI. Ons hoop dat hulle elkeen in die toekoms sal kan staatmaak op die bande wat hulle by MOI gesmee het, en baie vir mekaar sal beteken. 

Het julle vir die matrikulante iets spesiaal gedoen, aangesien dit hul laaste kamp was?
Die matrikulante het die geleentheid gekry om hul leierseienskappe ten toon te stel deurdat hulle die fasilitering behartig het, en dit was baie bemoedigend om te sien hoe mooi hulle die ander kon lei en mentor. Uit die terugvoering wat hulle agterna gegee het, blyk dit ook dat hulle tot nuwe insigte gekom het oor hulself en die waarde van spanwerk opnuut besef het. Hulle het genoem dat hulle besef het dat ’n leier nie alle groepe mense op dieselfde manier benader nie, dat daar waarde is daarin om elke mens sy of haar individuele stem te gun en dat hul tot die besef gekom het dat alles waardeur ’n mens in jou lewe gaan, deur God met ’n doel op jou pad geplaas is sodat jy lewenslesse kon leer.

Wat kan jy deel omtrent die aktiwiteite?
Een van die hoogtepunte was Leonie du Preez van Grolife se Vlymskerp sessie, die jeugprogram wat die leerders lei deur die werkinge van Liggaam, Verstand, Siel en Gees en hoe dit alles saamwerk om jongmense “vlymskerp” in die lewe te laat staan. Daar is spanbou-speletjies gespeel, openlik gesels in groepe en waardevolle lesse geleer van ‘n holistiese kerngesonde leefwyse.

Dan was daar ook ’n uitstappie strand toe, en dit was baie interessant om te luister na die gesprekke onder die leerders tydens die uitstappie. Die opgewondenheid oor die mooi natuur, die hoogtepunte van die vorige leierskamp, die uitsien en raai-raai waar die volgende leierskamp gaan wees en die bande van vriendskap wat reeds daar is as hulle mekaar weer ontmoet tydens die lang Desembervakansie.

Ons het een aand saam die nuwe Lion King-fliek gekyk. Die volgende oggend het die Bybelstudie gehandel oor die impak van ons keuses en hoe ons keuses van vandag ons toekoms impakteer. Ons het die vraag gestel, “Na wie luister jy?” Hierby het ons die belangrikheid van mentorskap beklemtoon en die matrieks genooi om vorentoe ’n mentorrol in te neem met hul jonger MOI maats, en hulle te begelei en motiveer deur hul hoërskooljare. Die uitsig vanaf die kamp oor die wye Atlantiese oseaan is te groot om in te neem. Die leerders kon nie genoeg in kry van die pragtige natuur van berg en see nie, en mens kon nie anders nie as om stil te raak van binne en die grootheid van God se skepping te waardeer.

Julle het in Januarie baie goeie matriekuitslae gehad – vertel ons meer?
Ons het ons meriete toekeningsgeleentheid op 11 Januarie in die Paarl gehou en kon weereens, vir die vyfde jaar in ’n ry, ’n 100 persent slaagsyfer vier. Ons matrikulante het ook almal met Baccalaureus (Universiteit-vrystelling) geslaag. Tatum Ferrier (Stellenbosch Hoërskool) en Ajay Abrahams (Parel Vallei Hoërskool) het met A-gemiddeldes geslaag en saam het hulle 13 vakonderskeidings. Beide van hulle studeer vanjaar BRek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tatum is ook aangewys as die Dux-leerder van Stellenbosch Hoërskool met ’n algehele gemiddelde van 92,14%.

Ellen Jurgens en Whitly Juries is onderskeidelik derde en vierde – Ellen was by La Rochelle Meisies Hoërskool en het ’n gemiddeld van 76,85% en drie vakonderskeidings behaal, en Whitly, ook van Stellenbosch Hoërskool, het 76,57% as gemiddeld en ook drie vakonderskeidings in die sak.

Wat is die volgende MOI aktiwiteit wat beplan word?
Volgende op die kalender is die Graad 12-loopbaanvoorligtingsnaweek, wanneer ons vanjaar se matrieks wegneem vir ’n naweek om te beplan vir die volgende fase van hulle lewe.

Ons het ’n psigometris wat elke leerder 1:1 sien en gesprek voer oor die top drie studierigtings en die instansies waar hulle aansoeke moet indien. Die psigometris bespreek die belangrike punte waarvan die leerders moet bewus wees wanneer aansoeke voltooi word, soos sluitingsdatums, stawende dokumente, NBT afsprake wat ’n vereiste is by sekere universiteite. Ons gee ook advies aan die leerders hoe om voor te berei vir ’n onderhoud, hetsy vir vakansiewerk en/of beursonderhoude, en verskaf inligting oor die ander tersiëre opsies behalwe universiteite waar hulle ook kan aansoek doen.

Ons kry die ouers in op die tweede dag om hulle in te lig wat bespreek is en motiveer ouers om deel te wees van die aansoekproses. Dit is ook ‘n geleentheid vir ouers om vrae te rig aan die fasiliteringspan.

KAMPINSIGTE
MOI leerders vertel wat hulle weggeneem het van die kamp:

  • “Ek dink voor ek praat want woorde dra krag, en aksies het gevolge, en mens moet aan jou medemens dink”
  • “Om ‘n leier te wees kom met groot verantwoordelikheid en dit beteken soms om teen die stroom te swem”
  • “Ek het na die kamp vir myself die doel gestel om elke dag na my volle potensiaal te streef deur my volle self te wees”
  • “Die hoogtepunt vir my was om saam met Tannie Leonie te praat – sy het my geleer dat mens verskillende emosies kan ervaar, en hoe mens dit kan hanteer”
  • “By die kamp moet mens jouself toelaat om die waarde van elke aktiwiteit in te sien, en jouself oopstel om jou manier van dinge doen dalk bietjie aan te pas”