Atterbury Trust se beursleningprogram gee al vir 27 jaar lank vir verdienstelike studente die geleentheid om verder te studeer, en om deel te word van ’n uitgebreide netwerk van omgeemense wat stelselmatig teruggee en belê in die toekoms van ons land.

In 2025 betree altesaam 32 Atterbury Trust-graduandi die arbeidsmark. Danelle Strydom, wat betrokke is by die bestuur van studente en projekte, vertel meer:

“Dit was vir ons van die begin af kernbelangrik dat die beursprogram volhoubaar is, en dat ons elke jaar nuwe studente kan insluit, sodat ons uiteindelik ’n stroom van welwillendheid, ondersteuning en omgee het wat hopelik nooit sal opdroog nie.”

Studente gaan deur ’n streng keuringsproses, wat persoonlike onderhoude met personeel van die Trust en Atterbury Property insluit, om seker te maak dat elke kandidaat die visie deel en wanneer hulle klaar studeer het, help om die beursleningprogram te laat voortbestaan. “Ons wil met die program ’n generasie van nuwe jongmense ondersteun wat hard werk, verantwoordbaar is, omgee vir hul medemens, en wat Atterbury Trust se waardes deel en sal uitbou,” sê Strydom. Sy noem die voorbeeld van Hanco Stone, vanjaar ’n finalejaar B.Com Besigheidsbestuur-student. “Hanco het elke geleentheid wat die Trust-span aan hom gebied het, aangegryp en nou het die Atterbury Property-ontwikkelingsafdeling vir hom ’n internskap aangebied.  Ons glo hy sal nog ver gaan.”

Wat maak Atterbury Trust se beursprogram anders as ander rentevrye lenings? Behalwe vir die finansiële hulp word die studente wat in die program aanvaar word, ook ondersteun met gereelde mentorskapsessies, studentefunksies waar hulle kan bande bou, werksgeleenthede en blootstelling aan die arbeidsmark met waardevolle netwerke. Die finansiële hulp, verduidelik Strydom, is in die vorm van ’n rentevrye lening wat die studente in oorleg met die Trust-paneel begin terugbetaal sodra hulle die arbeidsmark betree. Sodoende ploeg elke begunstigde terug om weer ander studente die geleentheid te gee. “Dit hou hulle ook langer by ons betrokke, en die mentorskap wat hulle vir huidige studente bied, is net so waardevol soos die geldelike bydrae. Baie van hulle word lewenslange skenkers.”

Elke jaar se studentegroep lewer uitblinkers op, wat dit vir die Atterbury Trust-span geweldig bevredigend maak, vertel Strydom.

Atterbury Trust se deurvloeikoers is tans 97% met studente wat in 2024 ’n akademiese gemiddeld van 72% behaal het. Altesaam 13 van Atterbury Trust se 2024-graduandi het hul graad met ’n gemiddeld van bo 70% behaal.

Maar akademiese prestasie is nie al wat tel nie. In die afgelope twee jaar is daar baie moeite gedoen om werksgeleenthede vir Atterbury Trust studente te identifiseer. Volgens Strydom het hulle raakgesien dat die studente die behoefte het om ’n maandelikse inkomste te verdien vir noodsaaklike uitgawes wat nie deur die rentevrye lening gedek word nie. “Atterbury Trust se uitgebreide projekte het baie hande nodig, en in 2024 kon ons ongeveer 890 geleenthede skep vir studente om ’n inkomste te verdien. Sowat R270 000 is aan die studente wat van die werksgeleenthede gebruik gemaak het uitbetaal, wat hul weer verder ondersteun het met basiese maandelikse uitgawes.”

Volgens Strydom neem dit afgestudeerde studente gemiddeld sowat vyf jaar om hul lenings terug te betaal. Die Trust-span sit met elke gegradueerde wat die arbeidsmark betree en bepaal die bedrag wat hy of sy maandeliks kan terugbetaal. “Ons is ongelooflik trots op die studente wat so getrou en so vinnig as moontlik terugbetaal,” sê Strydom. “Hierdie terugbetalings befonds weer maandeliks ons huidige uitkerings. Te danke aan die graduandi se terugbetalings en ons getroue donateurs is ons vanjaar in die bevoorregte posisie om 79 nuwe studente in die Atterbury Trust-beursprogram te kon verwelkom.”

Om ’n student se studiedroom te bewaarheid, kan ’n donasie gemaak word aan die  Atterbury Trust: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/

Atterbury Trust is geregistreer as ‘n Publieke Voordeelorganisasie (PVO) en is gemagtig om Artikel 18A-sertifikate vir belastingaftrekkingsdoeleindes uit te reik vir donasies deur individue aan die Atterbury Trust.