Die geleenthede wat saam met die Atterbury Trust se beursleningsprogram kom, verander die lewens van jongmense soos Diederik du Toit, ’n regstudent van Pretoria wat hom tans in Frankryk bevind op ’n uitruilprogram. Hy vertel ons meer.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?
Ek en my ouer broer, Jacobus, het op skool deur ’n spysenieringsmaatskappy as kelner begin werk by Atterbury se jaareind-funksies vir ekstra geld. In die proses het ek gehoor van die Atterbury Trust-beursprogram. Ek het letterlik elke stukkie inligting wat ek aanlyn oor Atterbury kon opspoor verorber om seker te maak dat ek ’n behoorlike aansoek indien. Ek het nog maar altyd gewerk om ekstra geld te verdien, en elke geleentheid wat ek kon kry, aangegryp sodat ek kon spaar, want ek het destyds gedink ek sal my eie studies moes betaal. So het ek in matriek byvoorbeeld 17 verskillende werke gehad, van tuinwerk tot kelnerwerk. En ek het hard geleer en darem steeds ‘n goeie matriekpunt bereik – ek het onderskeidings in ses van my agt vakke gekry. Jacobus werk vandag vir Atterbury as operasionele bestuurder by Castle Gate.

Jy studeer regte by Akademia, hoor ons. Waar kom jou belangstelling in die regte vandaan?
Ek het pas my derde jaar klaargemaak. My matriekplan was eintlik om ’n beurs te probeer kry om oorsee te swot, maar ná my matriekvakansie het ’n groep van ons Kaap toe gegaan.  Ek het besef daar is soveel meer aan Suid-Afrika as net Pretoria, en ons het so ’n wonderlike land, dat ek eerder hier wou swot. Dit was toe al baie laat, en toe ek begin rondkyk, was Akademia die enigste universiteit wat nog aansoeke vir die volgende jaar aanvaar het. Hulle het my binne agt uur nadat ek aansoek gedoen het, laat weet dat ek kwalifiseer – die diens wat ek by Akademia kry was nog altyd uitstekend, en ek was nog nooit spyt dat dit is waar ek uitgekom het nie. Ek het ’n voorliefde en ’n talent vir tale en het op regte besluit ná ’n loopbaan-advies sessie.’n Regsgraad is relevant in soveel verskillende loopbaankeuses, want regskennis geld oral, so jy leer hoe werk die ekonomie, hoe werk families, wat gebeur as iemand gebore word, en as iemand sterf… letterlik alles van versekering tot besigheid. Daar is soveel ruimte vir kreatiwiteit wat die interpretasie betref.

Hoe het dit gekom dat jy nou in Europa is, en vir hoe lank duur die uitruilprogram?
Ek het op skool goed gedoen in Frans, en toe ek in my eerstejaar was het my Franse onderwyseres van Menlopark Hoërskool my genader om ’n paar van haar leerders te tutor. Dit het goed gegaan en toe sy met kraamverlof gaan het sy my gevra om vir ’n wyle te help met klasse en toesig, en dit het gewys dat ek klasgee kon baasraak en dit geniet. Sy het my toe aangeraai om aansoek te doen vir hierdie uitruilprogram waaraan sy self destyds deelgeneem het, waar studente geplaas word in Franse skole en universiteite om Engels te gee. Dis ’n ses-maande kontrak vanaf Oktober tot April en ek is nou hier in ’n piepklein plattelandse dorpie 50 km oos van Parys, Congis-sur-Therouanne, waar ek by ’n skool vir 800 studente Engels leer. Daar is twee van ons hier – die ander ou is van Colombië, en ons deel ’n woonstel op die kampus en werk ’n maksimum van 12 uur per week. Dit val meestal binne my universiteitsvakansie so dit werk goed uit, en ek geniet dit vreeslik baie!

Maar jy doen ook ander werk, reg?
Ja, ek “juggle” ‘n paar goed saam met my studies, wat natuurlik eerste kom. Ek werk al vir omtrent ’n jaar aanlyn vir ’n Kanadese maatskappy in die gesondheid en IT sektor, en hulle laat my toe om my tyd te bestuur rondom my studie-vereistes. Ek is ook ’n medevoorsitter van Akademia se regsvereniging en die Franse werk wat nou vir ses maande bygekom het, verg sowat twee uur per dag, en beteken ek verdien nou dubbel my salaris. Niks het gestop vandat ek Frankryk toe gekom het nie; alles gaan voort, en die idee is om in 2025 klaar te studeer aan my LLB-graad.

Wat geniet jy die meeste omtrent Frankryk?
Dis lekker om in Europa te wees met toegang tot al die ander lande rondom, so ek kan regtig my horisonne verbreed. My suster, Matilde-Rose, studeer veeartsenykunde in Boedapest met ’n internasionale beurs, die Hungerium Stipendium, so ons kan saam Europa verken, wat ’n ekstra bonus is.  Ons was byvoorbeeld onlangs saam in Parys.

Jy was betrokke by die Laat Jouself Geld kursus – wat het dit vir jou beteken, en kon jy praktiese raad daaruit kry?
Ja, beslis, dit was ’n wonderlike kursus, en ek het so baie geleer. Ons het direkte kontak met finansiële raadgewers gekry sodat ons elkeen ons unieke situasie ten beste kon leer bestuur – moet jy eers jou skuld afbetaal, moet jy eers jou belastingvrye spaar-vergunning begin benut; jy kon sulke vrae vra en dadelik ’n antwoord kry. Dit was soos ’n ekstra vak op universiteit, met soveel relevansie, veral omdat ek so baie belangstel in finansies en finansiële geletterdheid.

Is daar ’n bepaalde veld waarin jy graag eendag sal wil werk?
Ek stel belang in baie verskillende velde, maar my groot droom sou wees om in ruimtereg te spesialiseer. Dit het betrekking op die groter lugvaartbedryf, maar ek sal wat gee om te kan betrokke wees by die skryf van beleid of wetgewing rondom organisasies soos Space-X en Nasa en ander in die ruimtesektor. Ek het reeds my oog op ’n firma in Stellenbosch waar hulle ruimtereg beoefen, maar dalk sal ek kyk na iets wat ’n wyer toepassing het, soos intellektuele goedere-reg omdat ek baie belang stel in ontwerp en patente. Ek is ook geïnteresseerd in besigheid en hoe beleggings en finansies werk, so sakereg en korporatiewe reg is ook opsies; so ook internasionale reg, waar mens byvoorbeeld sou kyk na uitdagings waar verskillende lande moet saamwerk omdat ’n uiteinde almal raak! En op die oomblik praat almal oor kunsmatige intelligensie en hoe dit die regte gaan raak, so dit is ook ’n onderwerp wat my interesseer.

Waar wil jy wees oor vyf jaar – is daar enigiets spesifiek wat jy wil aanpak, voltooi of ondersoek?
Omdat my belangstellingsveld so wyd is, kan ek nie regtig voorspel in watter industrie ek my oor vyf jaar sal bevind, en of ek as prokureur sal werk of my regskennis op ‘n ander manier sal toepas nie. Maar ek het ’n stel doelwitte wat ek teen dan wil bereik het, soos: ek wil al klaar wees met my klerkskap en wil my Meestersgraad verwerf het; ek wil teen dan my Atterbury Trust-lening terugbetaal het; en wil ook graag elke jaar die maksimum bydrae tot my belastingvrye spaar-vergunning maak (jy mag net R36 000 per jaar belastingvry spaar tot ’n maksimum van R500 000 in jou leeftyd); ek sal graag ’n noodfonds in plek wil hê wat my vir ses maande sal kan onderhou; ek sal sal graag ’n beleggingsportefeulje wil hê wat deur ’n beleggingsmaatskappy vir my bestuur word. Ons het baie rondgetrek toe ek ’n kind was omdat my ouers nie eiendom besit het nie, so ek sal ook baie graag eiendom wil koop vir die belegging en stabiliteit. En dan sal ek ook baie graag ’n verskil wil maak in watter veld ek my ook al bevind. Ek voel ek kan in baie rigtings gaan, en het ook al geleer dat God ’n plan het vir elke lewenspaadjie. Ek sal wel aanhou om aansoek te doen vir nuwe geleenthede, en nuwe vaardighede bly aanleer waar ek kan, sodat ek nuwe deure kan oopmaak en kan aanhou om nuwe geleenthede vir myself te skep.

Atterbury Trust se beursleningsfonds is afhanklik van donasies, en word deursigtig en verantwoordelik bestuur om elke jaar ’n groep dinamiese studente soos Diederik te help om hulle studiedrome waar te maak. Jy kan bydra deur Donasiewinkel https://atterburytrust.org/donasiewinkel/ , en terselfdertyd ‘n belastingvoordeel geniet vir enige skenking.