Produk Beskrywing

ELVIS BLUE SOEK NET AANDAG!

In Junie van hierdie jaar vertrek gewilde sanger en liedjieskrywer Elvis Blue op die avontuur van ‘n leeftyd, met die oog daarop om jou aandag te trek!
Vanaf 1 Junie sal Elvis man-alleen op sy fiets vanaf George tot in Nelspruit ry – ‘n afstand van 1500 km – en hoekom? So sê Elvis:

“Hoekom op aarde sal ek vanaf George na Nelspruit op ‘n fiets ry? Ek doen dit om jou aandag te kry! Net vir ‘n oomblik! En nou dat ek moontlik jou aandag het, kan ek jou vra dat ons saam iets betekenisvol doen in die lewens van weerlose kinders wat jou hulp nodig het. Ek weet nie van jou nie, maar ek weier om te leef in ‘n wêreld waar kinders met leë magies moet skool toe gaan en iets probeer leer. Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het om skool toe mee te gaan nie. Dat daar slimkoppe, sportmanne en musiek maestros is wat nooit die geleentheid sal hê om bo hulle omstandighede uit te styg nie. Dis wat ek wil hê ons saam moet aanspreek! Daar is so baie geraas en behoefte en hopeloosheid rondom ons, soms raak ons afgestomp daarvoor. En my hart raak ook seer wanneer ouers nie vir hulle kinders kan sorg nie, of wanneer ‘n kind se omstandighede net onmoontlik lyk. Al kan ek net vir ‘n paar kinders doen, wat ek wens ek vir duisende kon doen, dink ek dis nog steeds die moeite werd!”

Honger beïnvloed daagliks sowat 9. 6 miljoen kinders in Suid Afrika. Voedselonsekerheid is gekoppel aan ‘n wye reeks nagevolge, insluitende sosiale en gedragsprobleme en is gekoppel aan gesondheidstoestande soos groeibelemmering, verdwerging, swak konsentrasie en lae immuniteit. Suid Afrika het ook een van die mees ongelyke onderwysstelsels per wêreld, wat gebuk gaan onder swak of afwesige infrastruktuur, oorvol klaskamers en kroniese onderprestasie wat die toekoms van ons kinders en dus ons land in gedrang laat. Menige sosiale opnames wys ook dat ‘n tekort aan skryfbehoeftes en uniforms asook skoolgeld ‘n uiters nadelige uitwerking op skooldeelname het en veroorsaak dat ‘n hoër en hoër koers van kinders tussen 7 en 18 glad nie skool klaarmaak nie. Elvis, te same met Innibos, Suid Afrika se gewildste fees, wil hierdie sake aanspreek met die “Elvis Blue ry vir Skoolgeld” toer. Atterbury Trust is een van Suid-Afrika se mees gerekende liefdadigheidstrusts wat al vir meer as 26 jaar betrokke is by veral opvoeding, voeding- en gemeenskapsopheffingsprojekte. In vennootskap met die Atterbury Trust, sal Elvis poog om fondse in te samel en te bestuur – insluitende ander behoeftes, om aanvanklik hoofsaaklik twee liefdadigheidsorganisasies, een gebaseer in George, en die ander een in Nelspruit, te ondersteun. Beide Life Community Services in George en die Daaitjie Orphan Project in Nelspruit spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders direk aan.

Elvis se roete vanaf George na Nelspruit loop as volg:

Totale roete
1511,9km
15154 m klim

 

1 Junie
George – Uniondale – 111.4km  (2 176m klim)
2 Junie
Uniondale – Oppivlak – 103.5km (1 052m klim)
3 Junie
Oppivlak Padstal – Graaff- Reinett – 129.4km  (471 klim)
4 Junie
Graaff-Reinett – Middelburg – 140km  (1 891m klim)
5 Junie
Middelburg – Venterstad – 133.4km  (739m klim)
6 Junie
Venterstad – Smithfield – 112.3km (921m klim)
7 Junie
Smithfield – Hobhouse – 104.5km (944m klim)
8 Junie
Hobhouse – Ficksburg – 124.9km (1 349 klim)
9 Junie
Ficksburg – Bethlehem – 94.9km (928m klim)
10 Junie
Bethlehem – Vrede – 149.9km (1 275m klim)

11 Junie
Af dag (Braai!!)

12 Junie
Vrede – Morgenzon – 103.2km (878m klim)
13 Junie
Morgenzon – Badplaas – 138.7km (1 362m klim)
14 Junie
Badplaas – Nelspruit – 99.4km (1 575m klim)

 

Strava skakel: https://www.strava.com/routes/3171126006528520674

 

Besighede en die breë publiek kan betrokke raak deur finansiële donasies of die skenk van enige skoolbenodighede. Die publiek kan ook ‘n vrywillige skenking maak wanneer jy jou Innibos kaartjie koop, asook via Elvis Blue so sosiale media platforms en op die Atterbury Trust se webstuiste via die Donasiewinkel. Alle finansiële donasies sal via die Atterbury Trust vir liefdadigheidsdoeleindes ingesamel en verantwoordelik bestuur word.

Meer inligting:
Kona Brown
[email protected]