Gerhard van der Westhuizen en Rayno Strauss het ’n dekade gelede besluit om ’n insamelingsaksie te begin om behoeftige kankerlyers te help met hulle mediese onkostes. Die jaarlikse Survivor Gholfdag is in November vir die tiende keer by die Pretoria Country Club gehou. Gerhard vertel ons meer.

Julle het albei self kankerbehandeling ontvang en vandaar die bewustheid gekry van die geweldige onkoste wat by sulke behandeling betrokke is. Ons wil eerstens weet hoe dit vanjaar met julle albei gaan?
Dit gaan met ons albei baie goed! Ons is gesond (wel n bietjie oorgewig!) Ons velle en ons harte is propvol.

Hoe het die Survivor Gholfdag in die afgelope 10 jaar ontwikkel, en waar staan julle vandag daarmee? Het julle enige borge wat julle wil uitsonder?
Die eerste gholfdag is begin met slegs 24 deelnemers. Die tweede jaar 60 en van jaar drie af was ons ’n vol baan van 144 spelers. Ons het elke jaar ’n klomp spelers op ’n waglys en kan ongelukkig nie almal by die gholfdag akkommodeer nie. Ten spyte van die feit dat almal nie kan gholf speel op die dag nie, ontvang ons jaarliks ’n klomp donasies van besighede in ons netwerk sowel as van die mense op die waglys.

Soos die gholfdag gegroei het, het ons elke jaar meer geld ingesamel, sodat ons nou jaarliks bykans R2 miljoen inkry – meer as die eerste paar jare se opbrengs tesame! Ons het ’n netwerk van wonderlike dokters wat betrokke is en na wie ons pasiënte kan stuur vir ’n behoorlike ondersoek en diagnose soos ons versoeke om hulp ontvang. En die fonds word deursigtig deur Atterbury Trust bestuur sodat ons weet dat elke sent wat ingesamel word, op die heel beste manier aangewend word. En dan het ons Jakaranda FM en GrootFM wat ons help om die storie wyd te vertel sodat ons meer mense betrokke kry. Ons het ’n tweede kans gekry en voel dat as jy lewe en jy het het die vermoë om iemand te help – hetsy met geld, of met tyd, of enige hulpbron – dat jy half ’n verpligting het.  En dit is vir ons so lekker om met al hierdie mense saam te werk om ’n sinvolle en daadwerklike verskil te kan maak in die lewe van diegene wat dit die nodigste het.

Hoeveel geld is oor dié tyd ingesamel, en hoeveel kankerpasiënte kon julle al bystaan?
Ons het al sowat R14 miljoen rand ingesamel. Ons kon verlede jaar met die inkomste van die 2023 Survivor Gholfdag 18 mense help, en ons het selfs bietjie wyer as kanker gegaan. Ons fokus merendeels op kinders, hoewel ons ook volwasse pasiënte help, en mense buite kanker wat in groot nood is.

Kan julle met ons een of twee besondere gevallestudies deel van pasiënte in wie se lewe julle ‘n aangrypende verskil kon maak met die fonds?
Een van die eerste kinders wat ons gehelp het met die befondsing van ’n beenmurgoorplanting was ’n seun genaamd Melti. Melti was vyf jaar oud toe ons betrokke geraak het. Hy is nou 14 en perdfris en gesond.

Ons het ook een jaar  saam met die Sunflower Fund ’n “donor drive” gedoen by ons gholfdag waar ons vir al die spelers die geleentheid gebied het om te registreer op die Sunflower Fund se databasis om kankerlyers wat onderandere beenmurgoorplantings moet ondergaan, te help. Genadiglik was een van die spelers wat op die dag geregistreer het ’n pasmaat vir ’n pasiënt, en nog ’n lewe is gered!

Julle bewillig ook elke jaar ’n bedrag aan Atterbury Trust se Omgeefonds; hoekom het julle juis op Atterbury Trust besluit?
Ek het self  ’n lewenslyn by die Atterbury Trust gekry toe ek ’n student was en het eerstehandse ervaring van die verskil wat deur die Atterbury Trust gemaak word. Ons glo saam dat die toekoms van ons land in die jeug se hande is en dat die opvoeding van dié jong mense die sleutel tot ’n voorspoedige toekoms is vir ons mooie land en sy mense.

Wat is julle droom vir die Survivor Gholfdag – is daar enige spesifieke planne vir die toekoms wat julle kan deel?
Ons droom is om soveel as moontlik mense te kan help! Dit maak nie sin dat geld in die pad moet staan van mediese behandeling nie. 

Hoe kan mense betrokke raak by volgende jaar se gholfdag?
Enige person of besigheid kan betrokke raak deur ’n bydrae te maak, hetsy finansieel of met tyd en vaardighede. Ons is ongelooflik dankbaar vir almal wat ons help om ’n verskil te maak. Ek glo dat die belangrikste deel van die hulp wat ons bied, nuwe hoop op die lewe skep: en dat die waarde van hoop moeilik kwantifiseerbaar is. Dit is baie meer werd as rand en sent!

Om meer uit te vind of betrokke te raak, kontak Gerhard van der Westhuizen by 082 301 5278  of vir Rayno Strauss by 082 579 5756.