Sodra die jakarandas begin blom, weet die Atterbury Trust-span ’n nuwe seisoen breek aan vir hoopvolle studente wat net een geleentheid nodig het. Ons het oor die afgelope 26 jaar vir 864 studente dié geleentheid gegee en hulle het 675 grade behaal. Tans is daar 167 studente aktief deel van die studiebeursleningsprogram. Danelle Strydom in Pretoria en Surita Schwalb uit Stellenbosch vertel meer.

Hoeveel onderhoude is vanjaar gehou?
Ons het in totaal 262 aansoeke ontvang vir 2025, en toe ’n kortlys van 136 kandidate saamgestel, met 95 onderhoude in Pretoria en 41 in Stellenbosch. Die akademiese gemiddeld vir die kandidate wat aansoek gedoen het is 77%, en die gemiddelde huishoudelike inkomste is R330 000 per jaar, of sowat R27 500 per maand.

Ons onderhoudproses duur gewoonlik amper twee maande waartydens ons deeglik deur elke liewe aansoek lees, ons kortlys kandidate identifiseer en dan met die onderhoude begin.

Ons stuur ook teen 12 Desember vir elke voornemende student terugvoering sodat hulle die nodige beplanning kan doen vir volgende jaar.

As julle begin met die onderhoudproses, waarvoor kyk julle uit?
Wanneer ons ’n kandidaat nooi vir ‘n onderhoud, beteken dit hulle het reeds uitgestaan op hulle aansoekvorm. Die onderhoude is vir ons belangrik sodat ons die studente kan leer ken en vir hulle die geleentheid kan gee om hulle hart vir ons te wys.

Ons gesels met die studente om duidelikheid te kry oor hulle finansiële behoeftigheid. Ons maak seker die rigting wat hulle kies is ’n weldeurdagte besluit van hulle kant af en dat hulle verseker is van werk na afloop van hulle studies. En dan kyk ons wat die student onderskei in terme van vasberadenheid, betrokkenheid in die gemeenskap, hulle toekomsplanne, uitkyk op die lewe en of hierdie student ’n ambassadeur vir Atterbury Trust kan wees.

Hoeveel nuwe studente gaan julle aanvaar vir 2025?
Om seker te maak ons behou die uniekheid van ons program wat verder strek as bloot finansiële ondersteuning, beperk ons die aantal nuwe studente in die program tot ongeveer 65. Die persoonlike band, betrokkenheid by ons studente en die skep van geleenthede vir groei soos Leonie du Preez se Gro-program en die werksgeleenthede by die Atterbury Teater en Die Bosveld verseker dat ons studente baie meer as ’n tersiêre kwalifikasie agter hulle naam het aan die einde van hulle universiteitsloopbane, As daar jaar na jaar geluister word na die getuienis van die graduandi, besef ons opnuut watter betekenisvolle en in sommige gevalle lewensveranderende rol die Atterbury Trust-span in die studente se lewens gehad het, wat opnuut bevestig dat die manier hoe ons die program aanpak, werk.

Was daar ’n storie onder die kandidate wat besonders was in terme van wat hulle oorwin het om te kom waar hulle is?
Die een storie wat uitgestaan het is ‘n student wat haar eerste jaar se studies baie goed voltooi het, maar moes staak weens befondsing en moes teruggaan huis toe. Sy het die vaardighede gebruik wat sy in haar eerste jaar van studies geleer het om te begin werk. Maar sy wil graag volgende jaar terug gaan en haar studies voltooi.

Die goue draad wat deurtrek met al die studente is hulle vasberadenheid om suksesvol te wees. Hulle laat nie toe dat hulle omstandighede hulle onderkry nie, inteendeel sien hulle dit as motivering. Hierdie is die kandidate wat ons met trots ons ambassadeurs noem.

Wat maak Atterbury Trust se rentevrye studiebeurslenings anders?
Ons besef jaarliks met die onderhoude hoeveel talentvolle studente net een geleentheid nodig het en ons kan daardie geleentheid vir hulle bied. Ons weet vir baie studente is die finansiële aspek die maak of breek. Maar dis vir ons belangrik om verder ’n pad te stap met die studente en vir hulle die nodige hupstoot te gee vir as hulle eendag die arbeidsmag betree. En om dit te verseker, skep ons vir die studente ’n netwerk waarby hulle kan inskakel. Ons nooi die studente na Atterbury se kantore toe vir beursfunksies of sommer net ’n lekker middagete saam. Ons het vanjaar ook vir die eerste keer ’n finansiële kursus, Laat Jouself Geld, aangebied waar studente kon leer van begrotings en verantwoordelike geldbestuur. Leonie du Preez is al vir meer as tien jaar betrokke as lewensafrigter wat ’n intensiewe en impakvolle pad met die studente stap. Studente wat ekstra sakgeld broodnodig het, kry die geleentheid om te werk en iets te leer van die wêreld van werk. Ons is ook gelukkig om ’n hele netwerk van “Vriende van die Atterbury Trust” het wat ook behulpsaam is met loopbaanblootstelling en moontlike werksgeleenthede.

Hoe kan die iemand betrokke raak of ’n verskil maak in ’n student se lewe?
Daar is drie maniere: jy kan ’n finansiële bydrae maak om vir ’n student die nodige hulp en ondersteuning te bied; jy kan jou tyd gee en ’n mentor wees vir ’n student; of jy kan help met werksgeleenthede – ons studente staan altyd reg om meer te leer, ervaring op te doen, of selfs ’n paar rand ekstra te verdien. Dit bly ’n absolute voorreg om te kan deel in hierdie fase van die studente se lewe, en ons nooi mense uit om deel van ons program te word.

Kontak ons gerus by [email protected] indien jy meer wil weet, of maak ’n donasie by https://atterburytrust.org/shop/studentebeursborgskappe/