Terugploeg het aan die begin van die jaar die fokus van ’n algemene bestuurder gekry, in die vorm van Jacques Pauw, wat voorheen ’n onderwyser by Hoërskool Maragon in Mooikloof was. Hy vertel ons meer van sy nuwe rol.
Van onderwyser tot hulp-organisasie se bestuurder… vertel ons hoe jy en Atterbury se paadjies gekruis het?
As gelowige mens glo ek dat die paadjie so vir my beplan was. Ek beskou dit nie as ’n blote toevalligheid dat my paaie met dié van Atterbury en Terugploeg gekruis het nie. My liefde vir onderwys het uiting gevind in my verhoudinge met kinders en medepersoneel. Dit was eintlik soos ’n uitreik na my medemens wat nou weer by Terugploeg in ’n ander formaat plaasvind.
Wat is dit omtrent Terugploeg wat jou aangetrek het, en wat het jou die skuif laat maak?
Terugploeg en die mense en instansies wat Terugploeg ondersteun, het my diep geraak en het my laat besef dat daar tog steeds baie mense is wat “omgee” en dit wat hulle bereik het, inderdaad terugploeg in die gemeenskap.
Jy is nou sowat twee maande in die rol – hoe vergelyk jou verwagtings vooraf met die realiteit?
Atterbury Trust het dit van die begin af duidelik gemaak dat dit ’n nuwe pos is waarin ek self die koers moet bepaal. Met dit in die agterkop het mens nie korttermyn-verwagtings gehad waar jy binne twee maande sou wees nie en het dit maar aanvanklik ’n rukkie gevat om my voete te vind. Dit voel egter of ek elke dag iets nuuts leer, wat vir my lekker is. Dit was juis een van die redes waarom ek die skuif gemaak het, om ’n nuwe uitdaging aan te pak.
Gee vir ons ’n voorbeeld van ’n Terugploeg-dag wat jou sover geïnspireer het?
Een van Terugploeg se begunstigdes is ’n projek wat by ’n laerskool in Centurion families wat in nood is, ondersteun. Terwyl ons besig was om die kospakkies voor te berei, het daar ’n leerder verbygestap en aandagtig na die hopies kos gestaar en toe met trots gesê, “My gesin is een van die gesinne wat so ’n hopie kos kry.” Dit het my diep geraak en herinner aan die feit dat kinders nie kan droom as hulle honger is nie.
Sonder om name te noem, was en bly dit inspirerend wanneer vars kos, vleis en meel aan ouetehuise wat in nood is, oorhandig word, om hulle onvoorwaardelike dankbaarheid te sien en ek geniet dit ook om op ’n persoonlike vlak met hulle te gesels en hulle moontlik te bemoedig.
Hoe lyk ’n tipiese dag in die rol – wat is alles op jou doen-lysie?
Op hierdie stadium is daar absoluut geen tipiese dae nie, en bied elke dag sy eie uitdagings. Sommige dae is ek by die logistieke van uitdeel betrokke, ander dae skakel ek met die onderskeie donateurs wat kos aanbied en dan is ons Trustspan ook besig met die beplanning en inrig van die vleisverwerkingsfasiliteit wat ons in die nuwe Terugploeggebou gaan vestig. O ja, ons is ook hard besig om die mooontlikhede van werksgeleenthede wat deur Terugploeg gefasiliteer word, te ondersoek. Ons wil graag aan werklose mense die geleentheid bied om ’n verskeidenheid van ambagte en vaardighede aan te leer. Daar is geleenthede vir karwagte, blokmanne, en so meer.
Wat is jou visie as algemene bestuurder – hoe hoop jy om by te dra tot Terugploeg se sukses, en hoe hoop jy om Terugploeg te sien ontwikkel?
Die oorspronklike visie met die totstandkoming van Terugploeg was om ’n verspreidingspunt te wees waar instansies met dieselfde doelstellings saamkom om sodoende ’n groter verskil te kan maak. Hierdie visie is die kern wat op die korttermyn vergroot en uitgebrei moet word. Op die langtermyn is die visie om Terugploeg te ontwikkel as instansie wat regtig aan die naam “Terugploeg”, betekenis gee. My wens is dat Terugploeg ’n baken van hoop sal wees waar nie net kos uitgedeel word nie, maar mense ook bemagtig kan word om eendag moontlik self terug te ploeg en om mense in die algemeen op te hef. Dit gaan in kort dus nie net oor die kos nie, maar ook die mens.
Vertel ons meer van Boersaam?
Sonder om op die stadium te veel weg te gee, is Boersaam ’n Terugploeg inisiatief wat dit gaan moontlik maak vir goedhartige beesboere en die publiek om saam te boer om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Hou die inisiatief dop, want hier kom nog groot dinge – so vroeg as Aprilmaand!
Laastens, wie is Jacques as hy by die huis is? Saam met wie woon jy? Waar bly jy? Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?
Ek is baie familievas en ag my familie as ’n prioriteit in my lewe. Ek woon in die ooste van Pretoria, waar ek ook grootgeword het, saam met my pragtige vrou Lelani en my twee hondekinders, Eddie en Steve, albei beagles. Ek geniet dit om tyd saam met my vrou deur te bring en daar is min dinge wat ek so geniet soos ’n kuier om ’n braaivleisvuur met vriende en familie. Wanneer ek enigsins ’n kans kry, is ek mal daaroor om na die bosveld toe te gaan. Ek geniet veral voëlkyk en kamp.