Adriaan Bergh en Melinda Bam is nie net ‘n gewilde glanspaartjie nie, dié twee omgeemense het onlangs betrokke geraak by Atterbury Trust se studenteprogram en sal soos hulle kapasiteit het, hul kundigheid deel om die volgende generasie te help om ook hul drome waar te maak. Ons hoor meer by die Berghs.
Hoe het dit gebeur dat julle paadjies gekruis het met dié van Atterbury Trust en sy beursleningprogram, en wat omtrent die program het julle aangegryp?
’n Goeie vriend van ons wat al baie jare by Atterbury werk, Gerrit van den Berg, het my in 2013 aan Louis van der Watt voorgestel. Louis het my van jongs af geinspireer met sy veelsydige benadering tot besigheid, en sedertdien ons eerste ontmoeting het ek so baie by hom geleer. In 2019 het ek die geleentheid gehad om deel van die Atterbury-familie te word as belegger in Atterbury Europa. Dit was Louis en Gideon wat destyds die saadjie by my geplant het dat Bergh Foundation betrokke moet raak by die Atterbury Trust, en dit wat vermag word binne die Trust is nog altyd iets waaroor ek en Melinda passievol is. Ek het toe vroeër vanjaar in Stellenbosch met Zahn Hulme gesels en sy het my meer vertel van dít wat die Trust alles doen en van al die praktiese moontlikhede waar ons betrokke kan raak. Daarna het ons saam met Zahn en Ananja om die tafel in Pretoria gaan sit om ons planne in aksie om te sit!
Hoe sien julle die rol wat julle twee kan vertolk in die program?
Adriaan:
Dit is vir ons ’n groot voorreg om in ‘n finansiële posisie te wees waar Bergh Foundation studente kan help om te gaan studeer. Ek en Melinda besef albei daar is ook baie waarde wat ons kan toevoeg op ’n persoonlike vlak met die studente. Ons sien uit om van die studente beter te leer ken en ons stories met hulle te kan deel sodat ons jongmense kan help inspireer. Ek sal graag ’n positiewe impak op die studente se lewens wil maak deur my lewenskennis te deel – ek glo dit is meer waardevol as die geld wat Bergh Foundation gaan gee.
Melinda:
Ek dink dikwels aan my en Adriaan se onderskeie paadjies, en dat ons die voorreg gehad het om mense te hê wat ons op verskeie maniere in ons loopbaan ondersteun en geïnspireer het. Dit is maklik om die impak van ’n ontmoeting, gesprek of stukkie wysheid op die regte tyd vir die regte persoon te onderskat, waar dit eintlik die mag het om die trajek van iemand se lewe te verander. Ons sien uit daarna om intensioneel so ’n rol te kan speel en die geleentheid te bied vir studente wat potensiaal en vasberadenheid toon om ’n hoër ideaal vir hulself te bereik. So ’n mentorskap bied leiding, praktiese ondersteuning en inspirasie wat hulle help om uitdagings te oorkom en hul volle potensiaal te verwesenlik. Ons sien die belegging nie slegs as ’n finansiële hupstoot tot persoonlike groei en sukses nie, maar ’n bydrae tot iets veel groter – die verbetering van gemeenskappe en die vestiging van ’n meer gelyke samelewing, deur in elkeen van die jongmense met wie ons werk, ’n kultuur van deernis en bemagtiging te kweek wat voortduur wanneer hulle self later teruggee en nuwe generasies inspireer.
Adriaan, ons verstaan jy het reeds uitgereik na twee huidige Atterbury beursstudente – vertel ons meer omtrent jou mentorskapidee en hoe hierdie aanvanklike ontmoetings afgeloop het?
Dit was vir my ontsettend waardevol om met gesoute besigheidsmanne te kon ontmoet toe ek nog ’n aspirerende jong entrepreneur was. Daarom het ek tyd gemaak vir ’n lekker koffie saam met twee van die studente. Hulle stories is inderdaad inspirerend en elk is so passievol oor sy rigting dat ek reeds vir een van die twee ’n deeltydse pos aangebied het by een van my besighede. Hy sal daar goeie ervaring en blootstelling opdoen terwyl hy ook kan bou aan sy finansiële ideale. Die ander student het ek gevra om bietjie navorsing te doen oor ’n oplossing wat hy my kan help ontwikkel vir een van my tegnologiese besighede. Dit was vir my verfrissend om met die twee jong manne te gesels en ek sien uit om hulle dop te hou en te sien ontwikkel. Natuurlik heg ek meer waarde daarin om verdieping in hul menswees te help ontgin en hul karakter te ontwikkel en nie noodwendig net besigheid te gesels nie. Ek sal graag vir hulle ’n voorbeeld wil wees van hoe ’n man op goddelike wyse optree en hoe elke aspek van jou lewe en besigheid met daardie eienskappe deurdrenk moet wees.
Julle gesinnetjie is aan die groei en julle verwag ’n dogtertjie volgende jaar – baie geluk! Hoe het ouerskap julle uitkyk op die lewe verander, en het dit bygedra tot jul besluit om by die Trust betrokke te raak?
Om ’n gesonde gesin te kan hê, is van onskatbare waarde vir ons. Ek sal nie noodwendig sê dit het my uitkyk op die lewe verander nie, maar dit het gemaak dat ek ’n beter begrip het van hoe lief God ons het. My gesin is my nommer een prioriteit en ek ag myself uiters bevoorreg om kinders te kan groot maak op so ’n wyse dat hulle die werklike waarde van die lewe sal verstaan en verder in die lewe sal gaan as wat ek en Melinda het.
Ek dink daar is min dinge wat jou so transformeer soos ouerskap, en alhoewel ons harte nog altyd ingestel was om ’n impak te maak, het ouerskap my die grootste bewussyn gegee van die tragedie as so ’n gesonde gesinseenheid ontbreek. Mense sal dikwels fokus op die behoeftigheid in finansiële terme wanneer hulle kyk na ’n beursprogram soos Atterbury Trust s’n en die studente wat dit bevoordeel, maar wat die meeste van hierdie studente ontbreek is veel groter as geld: dis iemand wat jou ondersteun, in jou glo, in jou kamp staan ongeag die terugslae van die lewe, jou herinner aan jou potensiaal en saam met jou groot droom. Dit is die grootste eer om te kan kyk na ons seuntjie se gesiggie soos dit ophelder as ons die vreemde wêreld om hom help ontdek. Die ewigheidswaarde daarvan is sekerlik die grootste ding wat ons in ons lewens sal vermag.
Watter lewenslesse sou julle vandag vanuit jul lewenservaring graag vir tiener-Adriaan en tiener-Melinda in die oor wou fluister (en dan ook deel met Atterbury Trust se beursstudente)?
Adriaan:
Sport is nie alles nie… haha! Ek was ’n kranige sportman en het deur ’n baie moeilike tyd gegaan toe ek na skool nie ’n sukses van sport gemaak het nie. Maar min het ek geweet dat dít wat vir my voorlê baie beter gaan wees as om ’n sportman te wees. Ek sal my lewe tans vir niks verruil nie. Gelukkig getroud met ’n pragtige seuntjie en vryheid om te kan leef en doen soos wat ons wil.
Melinda:
Ek sou vir my jonger self fluister dat ek nie hoef te mik vir 100%, perfek of volmaakte pogings nie. Die onnodige mismoedigheid en teleurstelling wat dit in my jong jare vir my veroorsaak het, het soveel vreugde in andersins suksesvolle seisoene van my lewe geroof. Vandag se lewe het reeds soveel druk, dat jou grootste teenstander nie in jou eie kop kan wees nie. ’n Volle resultaat is sekondêr teenoor ’n volle poging, die lesse te leer in die probeer en dikwels faal is van meer waarde as die wroeging om te slaag, of terugstaan omdat jy te bang is om te probeer. Geen enkele mislukking is genoeg om jou ideale te kelder nie – slegs die besluit om op te hou probeer.
Wat is julle hoop vir die toekoms van hierdie samewerkingsprojek? Van waar sal julle graag oor 10 jaar wil terugkyk?
Ek sal graag wil terugkyk en sien hoe daar beursstudente is wat vol sirkel gekom het, wat self die behoefte het om ook vir ander studente die geleentheid te gee om te kan studeer en ‘n ewigheids-impak op ander jongmense se lewe te maak.
Ek glo in ons droom om ’n betekenisvolle pad saam met ’n klomp studente te kan stap wat hul die nodige steun sal gee om ideale wat buite hul bereik voel, in hul greep te plaas, terwyl die gesindheid en behoefte gekweek word om dieselfde terug te ploeg. Ek glo dat ons pad saam met die Atterbury Trust ’n gemeenskap en familie vir behoeftige studente sal kweek wat persoonlik en tuis voel in hul lewensverhaal en menigte getuienisse skep dat rentmeesterskap van mens se gawes suksesse en talente slegs betekenisvol is as dit groter as net jouself is.