Atterbury Trust Wes-Kaap se been van Triomf Kliniek het in September weer ’n hoogs geslaagde mammogram-kliniek aangebied, in samewerking met ’n aantal weldoener-organisasies. Surisa Schwalb, Atterbury Trust se Wes-Kaapse Finansiële en Projekbestuurder, vertel meer.

Atterbury Trust Wes-Kaap het ’n voortdurende fokus op gesondheidsdienste. Wat kan jy ons daaromtrent vertel?
Die behoefte na behoorlike gesondheidsorg met waardigheid word al hoe groter, selfs hier in die Wes-Kaap waar ons staatshospitale en -klinieke nog redelik goed funksioneer. Ons het die afgelope twee maande begin met die Eyecare4Kids-projek wat help om brille aan skoolkinders tussen ses en 18 jaar te verskaf, en dan was daar ook die jaarlikse mammogram-kliniek net so voor Borskankerbewustheidsmaand. ’n Klein bietjie hulp maak so ’n groot verskil!

Wat is die agtergrond rondom die mammogram-kliniek?
Ons het ’n baie goeie verhouding met Screen Her Save Her en pak graag projekte saam met hulle aan. Dit was die tweede jaar dat ons die mammogram-projek in die Wes-Kaap saam met hulle aanpak; en in Pretoria is die projek al in sy derde jaar.

Baie organisasies saam met wie ons hande vat, het ’n meerderheid vroue wat nie toegang het tot kwaliteit gesondheidsorg nie, so dit is vir ons ’n fokuspunt. Ons bied die mammogram-kliniek in samewerking met Keystone Radiology se Screen Her Save Her-inisiatief, en met die medewerking van Atterbury Property se Richmond Corner winkelsentrum, waar die vroue verwelkom is met ’n lekker koppie koffie op ‘n regte sopnat Kaapse Wintersdag.

Daar word natuurlik waardevolle lesse geleer as jy ’n projek herhaaldelik aanbied, so ons het vanjaar geweet om die kliniek al vroeg te begin bemark sodat vroue uit die algemene publiek ook van die dienste kon gebruikmaak. Richmond Corner se bemarkingspan het ingespring om die projek te ondersteun as deel van hulle bemarkingsprogram. Meer organisasies het ook betrokke geraak en sodoende kon ons meer vroue help, en selfs bietjie saamkuier op die dag.

Hoeveel pasiënte kon julle hierdie keer help, en waar het hulle vandaan gekom?
In totaal het 81 pasiënte die mobiele eenheid besoek in die byna agt dae wat dit aktief was. Dertig vroue wat andersins nie ’n mammogram kon bekostig nie, is geborg – 20 vroue vanuit Atlantis waar die Richmond Park Treasury Trust met die bemiddeling van die Atterbury Foundation bedrywig is, en nog tien dames uit Die Womanhood inisiatief van die Hanna Charity & Empowerment Foundation waar ons in samewerking met die InVia-gemeente in Stellenbosch betrokke geraak het. Atterbury Trust het ’n bussie in Stellenbosch wat ons kon gebruik het om die vroue te vervoer. Verlede jaar kon ons slegs 13 vroue borg ,so ons is baie dankbaar dat ons dit meer as verdubbel het vanjaar!

Hoekom was hierdie kliniek vir julle betekenisvol?
Uit die vroue wat geborg is, was daar 27 wat vir die heel eerste keer in hul lewe ’n mammogram gehad het. Vroeë diagnose is van onskatbare belang met borskanker, omdat dit soveel meer moontlikhede vir behandeling aan ’n pasiënt beskikbaar stel. Ons weet ook uit ervaring dat so baie mense net nie kan bekostig om die nodige gesondheidsorg te ontvang nie, en so dikwels kry hulle eers ‘n diagnose as dit reeds te laat is om effektiewe behandeling te ontvang. Daarom is dit vir ons en vir Triomf Wes-Kaap so belangrik om die regte organisasies bymekaar te kry om meer en meer mense wat in daardie posisie is, te help.

Van die 30 vroue was daar agt met ’n geskiedenis van borskanker in die familie en 10 met familielede wat ’n ander vorm van kanker het. Daar was ook vier jonger vroue, onder 40, wat ’n familiegeskiedenis van kanker het, maar wat normaalweg weggewys sou word omdat hulle te jonk is vir roetine-mammogramme. So ons was baie bly dat ons hierdie vroue spesifiek kon help.

Watter terugvoering het julle gekry van die vroue wat die kliniek bygewoon het?
Dit was alles baie positief; die pasiënte kon nie ophou praat oor hoe vriendelik en professioneel die Screen Her Save Her-span is en hoe goed die mobiele eenheid ingerig is nie.  Dit was vir baie van hulle ’n lekker uitstappie, veral danksy die saamkuier en die gasvryheid van die Atterbury Propertyspan van Richmond Corner.

Wat is volgende by Triomf Wes-Kaap?  Beplan julle enige ander klinieke?
Vir die res van die jaar fokus Triomf Wes-Kaap op Eyecare4Kids om brille te kry vir leerders wat dit nodig het. Dit skakel natuurlik in by ons ander fokuspunt van opvoeding, en ons wil gratis oogsorg vir soveel as moontlik leerders bewerkstellig.

Kontak vir [email protected] indien jy die dienste van ’n oogarts wil borg of dalk self ’n oogarts is wat bereid is om kinders se oë gratis te toets.