Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief het onlangs die Graad 10s op ’n drie-dag-kamp geneem, en die jongklomp het gemotiveerd en geïnspireerd teruggekeer. Programbestuurder Jenene Petersen vertel meer.

Is hierdie kamp ’n gereelde deel van die MOI program? Wat is die oogmerk?
Ja dis een van die jaarlikse hoogtepunte, wanneer ons die leerders se oorgang na senior-fase bevestig. Daar word klem gelê op die realiteit dat hulle ‘n verdere fase in hulle skoolloopbane betree en dat hulle nou die rolmodelle vir ons Graad 8s en 9s is. Teen Graad 10 is hulle deur die uitdagende fase van hoërskool-aanpassing met die vinnige spoed waarteen die akademie afgehandel word en die magdom vakke. Teen dié tyd het hulle bewys dat hul aanpassing kan hanteer, en die toekoms kan binnegaan met al die hulp tot hul beskikking. Vanjaar se tema was “Ken jou vriende” en die kamp het ’n verskeidenheid uitstappies ingesluit om die leerders se wêreld te verbreed met blootstelling.

Hoeveel leerders het saamgekom, en was dit die hele Graad 10-groep?
Hierdie jaar se Graad 10s was die kleinste groep nog met 11 leerders vanaf vyf verskillende skole in  die Paarl, Stellenbosch en Strand.

Julle het in die mooi Rocklands kampterrein in Simonstad tuisgegaan… wat maak hierdie so ‘n geskikte terrein vir wat julle wou bereik met die kamp?
Dit is die tweede keer wat ons die Graad 10 kamp by Rocklands aanbied. Rocklands is geleë teen die berghange agter Simonstad en dit het die mooiste uitsig oor  Valsbaai en die Kaappunt Nasionale Park. Ons gebruik die kleiner kampterrein wat privaat is en dit bied ruimte vir leerders om tuis te voel. Die geriewe is puik en bekostigbaar en ons het ’n private ontspanningsarea en swembad gehad.

Simonstad is verken met besoeke aan die Simonstad Vlootmuseum, Boulders-strand met die pikkewyne, die Akwarium by die Waterfront en die Logos Hope, ’n skip met die grootste boekwinkel wat op die see vaar.

Wat het vir jou as programleier uitgestaan omtrent die kamp?
Omdat die groep so klein was vanjaar kon ons elkeen van die leerders die geleentheid gee om speletjies en Bybelstudie te lei. Dit was pragtig om te sien hoe die leerders leierskap uitoefen –  wie die voorloper is met die idees, wie die idee bevestig en die res wat inkoop en die idee in aksie omsit. Ek het dit geniet om die span-dinamieka in aksie te kon sien, en dit was insiggewend om die kinders se unieke karaktereienskappe en komplementerende persoonlikhede van naby te ervaar.

Ons laaste aand saam was kosbaar, met 11 leerders wat vyf verskillende skole verteenwoordig, maar saam ’n simbool van familie-eenheid gevorm het.

Wat is die grootste uitdaging omtrent so ’n kamp?
Ons het al beleef hoe een persoon se negatiewe ingesteldheid die res van die groep negatief kan beïnvloed. Dit vereis meer intensionaliteit van die kampfasiliteerders om almal geïnspireerd te hou sodat mens hou by die kamp se doelwitte.  Ons het begrip vir die uitdagende agtergrond en soms uitdagende huislike omstandighede van meeste van ons leerders, maar ons weet ook dat elkeen by MOI uitgekies is vir hoë hoogtes. Die uitdaging is veral groter wanneer ons leerders terugkeer ná ’n lang skoolvakansie by die huis. Dan lyk die afdraande pad baie makliker as die opdraande pad teug na die skool en die koshuis met reëls en mense vol veeleisende verwagtinge.

Was daar enige terugvoering van die leerders wat vir jou spesifiek betekenisvol was?
Ek sal vir Ischke Antonie van Paarl Gimnasium uitsonder: “Die graad 10 kamp is een van die dinge wat ek altyd sal onthou. Die kos was lekker en die plek was rustig. Als was net wonderlik, maar die beste van als is die mense – almal het saamgewerk en niemand was uitgesluit nie. Ons het soos ’n groot familie die paar dae aangepak en dit sal ek nooit vergeet nie.”

Wat is volgende op die program vir die Graad 10s, en hoe lyk die MOI program as geheel vir die volgende paar maande? Waarna sien jy uit?
Ons begin nou met beroepsblootstelling, en beplan besoeke aan verskeie organisasies wat ’n wye verskeidenheid van beroepsvelde verteenwoordig: vanaf finansies, regte, joernalistiek, drama, menslike hulpbronne en programmering, tot verpleegkunde, somatologie en ingenieurswese, asook vakmanskappe vir beroepe soos elektrisiën, timmerman (skeepbou) en tekenaar.

Dan sien ons ook uit na ’n opwindende fondinsamelingsinisiatief. Agtien leerders het deelgeneem aan ’n beeldhoukunsprojek en hulle 18 werke word tydens die Woordfees op Stellenbosch uitgestal. Die beelhouwerke word op 25 en 26 September op ’n “silent auction” verkoop om die befondsing van meer MOI leerders te bewerkstellig.

Ons nuwe siklus begin binnekort met die MOI-keuringsproses vir nuwe beurshouers. Die aansoekvorms vir Graad 6-leerders is reeds uitgestuur na laerskole. Die keuringspan is gereed en ons datums is bespreek vir die onderhoude en psigometriese assesserings. Ons sien uit daarna om nog ’n groep kinders die geleentheid te gee om hul hoërskoolloopbaan saam met MOI aan te durf.