Bernard van der Westhuizen (wenner) saam met sy familie

Breda van Niekerk van Koro Creek Bushveld Golf Estate was die brein agter Jou Groot Kans, ’n unieke projek wat mense die kans gegee het om hulle naam in die hoed te sit om ’n spogeiendom te wen, en terselfdertyd ’n skenking te maak ten voordeel van Atterbury Trust se Omgeefonds. Ons het meer gehoor by Breda en Atterbury Trust se Ananja Koen.

Vertel ons meer van “Jou GROOT Kans” – waar kom die idee vandaan, en presies wat behels dit?

Baie idees is soms so eenvoudig dat jy wonder of dit ooit kan werk, veral as dit soos ‘n plan voel wat ‘n kleuter kon uitdink. Meeste van my idees is so basies dat ek myself telkens afvra, is dit nou die beste waarmee jy vorendag kon kom? Die snaakse ding is dat wat voel of my mees absurde idees my telkens verstom as ek sien waarheen dit  lei en wat mens regkry as jy net begin en met die regte gesindheid iets aanpak.

Ek is al vir baie jare betrokke met residensiële verkope aan die eiendomskant van Atterbury en weet van die werk wat die Atterbury Trust oor baie jare in behoeftige gemeenskappe doen. Ek het my hulp aangebied as mentor en ondersteuner en is toe onlangs genooi na ’n Atterbury Trust beursfunksie. Ek is opnuut aangegryp deur die beursprogram wat so ‘n mooi inisiatief is en het besef dat ek graag wou help, maar ek het nie geweet hoe nie…

Ek het baie hieroor gedink en uiteindelik by Atterbury se jaareindfunksie, het ek vir Louis van der Watt genoem dat ek wonder of mens ’n erf kan verkoop met kaartjies soos toe ons destyds op skool geld ingesamel het…

Nou ja, ’n jaar of wat later en hier het iemand nou ’n erf gewen met ’n lootjie net soos met ’n skool se fondsinsameling!

Ek is ’n waarde-drywer van beroep, so natuurlik was die idee dat ons hiermee soveel as moontlik geld insamel, ’n uitstekende kans om te wen bied, nasionale blootstelling kry vir Atterbury Trust en Koro Creek en mense maak baklei vir ’n beperkte aantal lootjies. Ons het saamgewerk met Atterbury Trust se mediavennoot GROOTfm wat verseker het dat ons goeie blootstelling gekry het – die kompetisie is op die stasie geloods, en die wenner se naam is getrek op hul televisieplatform Die GROOT Ontbyt, op kykNet.

Maklik en eenvoudig!

Breda van Niekerk

Waar is die eiendom geleë, en wat maak dit so spesiaal?

Koro Creek Bosveld en Gholf Landgoed is ‘n bosveld-gholflandgoed geleë in Nylstroom/Modimolle in Limpopo, net minder as 90 minute vanaf Pretoria. Dit bied al die geriewe van ‘n veilige woonlandgoed met ‘n skilderagtige gholfbaan en oord met geriewe, lodges, gastehuise en toegang tot ‘n privaat wildsplaas.

Erf 3024 is 1 500 vkm groot en is ‘n spog-erf met ’n waarde van ongeveer R550 000.

Daar is ‘n baie goeie rede waarom ons onlangs 50 erwe in die ontwikkeling verkoop het … hier kry jy ‘n Bosveld huis op ’n kampioenskap-gholfbaan, wilde diere, wonderlike mense en ongelooflike waarde naby die stad.  En nou kan een van Atterbury Trust se weldoeners ook daar kom woon!

En hoekom het jy juis vir Atterbury Trust gekies vir hierdie grootse gebaar?

Dis eenvoudig. Ek vertrou die geloofwaardigheid van die Atterbury Trust. Ek weet dat die geld aangewend sal word waar dit ‘n verskil kan maak en mense sal help wat die beste sal doen met die kans wat hulle kry…

Wat was julle hoop vir die  kompetisie?

Ons wou mense opgewonde maak en die geleentheid gee om vir ’n redelik bekostigbare bedrag deel te wees van ’n projek waar jy ’n verskil kan maak in jou gemeenskap, maar ook die kans staan om ’n wonderlike prys te wen. #JouGROOTkans was ‘n maklike manier om die ou op straat in staat te stel om by te dra en ’n groot verskil te maak. Die opbrengs  sal aangewend word vir studentebeurse aan behoeftige Afrikaanse studente sowel as projekte in die gemeenskappe waar ons betrokke is.

Die wenner is pas aangewys op Die GROOT Ontbyt. Kan jy al deel wie dit is, en wat die wenner se reaksie was toe hulle die nuus kry?

Ananja: Ons het verlede Vrydag 1 November die gelukkige trekking gedoen op Die GROOT Ontbyt en die gelukkige wenner is Bernard van der Westhuizen. Jy kan die lewendige trekking hier kyk:

Hoeveel geld is toe ingesamel ten bate van die Omgeefonds?

Ananja: Daar is in totaal R337 000 ingesamel deurdat 298 mense ‘n lootjie gekoop het. Ons is so trots op die projek en elke persoon wat bereid wat om ‘n kaartjie te koop en so weer ons hande sterk te maak.

Waar kan mense meer te wete kom oor Koro Creek?

Al die inligting oor die landgoed is hier beskikbaar: www.koro-creek.co.za

Waar kan mense meer te wete kom oor Koro Creek?

Al die inligting oor die landgoed is hier beskikbaar: www.koro-creek.co.za