Wilmien Uys is ’n finalejaar chemiese ingenieurstudent by die Universiteit van Stellenbosch, en was ook ’n leier by haar koshuis, Irene. Ons hoor by hierdie uitblinker-beursstudent wat haar toekomsplanne is…
Vertel ons die storie van waar jy vandaan kom, en jou familie.
Ek het grootgeword op die pragtige plattelandse dorpie Montagu, waar my pa steeds ’n vrugteboer is. Ek en my sussie, wat nou ’n derdejaar teologie student op Stellenbosch is, het albei in Montagu gematrikuleer. My oudste broer is tans in matriek op Robertson en woon by my ma en my stiefpa – my ma is daar ’n onderwyseres. Ek het ook ’n ouer stiefbroer en stiefsuster aan my ma se kant, wat albei al werkend is. My pa en my stiefma het pragtige blondekop, blouoog tweelingseuntjies van drie, asook ’n baba dogtertjie van sewe maande. Ek het dan ook ’n stiefsussie aan my pa se kant, wat nou in Graad 3 is.
Hoe het jy by jou vakrigting uitgekom – was ingenieurswese van kleinsaf in jou visier? En hoekom spesifiek chemies?
Ek het ’n hele klompie beroepe oorweeg, maar ingenieurswese het die meeste vir my uitgestaan. My oom is ’n metallurg en hy en my tannie het vir omtrent sewe jaar in Botswana gewoon. Ons het elke jaar in die Junie-vakansie daar gaan kuier toe ek in die laerskool was, en hy het my altyd vertel van sy interessante werk. Ek het toe in Graad 11 in Kaapstad by sy werk gaan “shadow” en daar gesels met ’n meisie wat toe net klaar gestudeer het. Sy het my finaal oortuig om chemiese ingenieurswese te studeer. Ek het ook vir aanlegtoetse gegaan en ook by ander maatskappye gaan “shadow”. Ek het op die ou end my rigting gekies omdat ingenieurswese so ’n breë veld met baie werksgeleenthede is.
En hoe het jy by die Atterbury Trustbeurs uitgekom? Hoe belangrik was dit vir jou om hierdie beurs te kry?
Ek het toevallig saam met ’n goeie vriendin en haar ouers see toe gegaan in matriek. Daar het ek ’n vriendin van hulle ontmoet wat by Atterbury werk en sy het my potensiaal raakgesien en die inligting en aansoekvorms aangestuur. Ek het voor dit aansoek gedoen vir ’n klomp ander beurse, maar was nêrens suksesvol nie. Ek weet nie hoe en of ek ooit sou kon studeer sonder die beurs nie – of my pa met die nuwe kleintjies by die huis en ’n ouer sussie op universiteit, dit ook nog sou kon bybring nie. Atterbury Trust se beurs is dus ’n groot seën vir my.
Vertel ons van jou tyd as onderprimaria by jou koshuis? Wat geniet jy omtrent koshuislewe?
Ek was vir die eerste drie jaar van my studies in Irene, en verlede jaar onderprimaria. Dit was ongelooflik verrykend, leersaam en lekker. Ek woon vir my finale jaar in ’n woonstel saam met ’n paar vriendinne – ’n eerstejaardroom wat waar geword het. Die idee is om vir oulaas as ’n groep ’n klompie lekker dinge te doen op Stellenbosch, maar ook om geleidelik na die “regte wêreld” ingelei te word, deur te leer om huishoudelike dingetjies te doen, soos huur betaal, krag koop, self kos maak… Die meeste van my tyd gaan in akademie (finalejaar projekte, skripsie en so meer) en om vir oulaas die tyd en vryheid van die studentelewe en nuwe ervarings saam met my universiteitsvriende te kan beleef.
Ingenieurswese is tradisioneel ’n manlik-gedomineerde veld… is dit jou ervaring dat dit verander; en voel jy daar kan meer gedoen word om vrouestudente aan te moedig? Of is dit nie regtig meer ’n kwessie nie?
Daar is beslis nou meer vrouestudente as wat daar selfs net ’n paar jaar gelede was. In ons klas is daar min of meer ’n gelyke aantal mans- en vrouestudente. Ander dissiplines, soos bedryfsingenieurswese het byvoorbeeld weer meer vrouens en meganiese ingenieurswese meer mans. Die bedryf is dalk manlik gedomineer, maar ek glo dat daar oor die volgende klompie jare ’n geleidelike skuif gaan kom omdat al meer vrouestudente ingenieurswese kies en maatskappye wêreldwyd meer bewus raak van hul personeel se diversiteit.
Wat is jou planne vir volgende jaar?
Ek wil graag begin werk volgende jaar. Ek het vakansiewerk gedoen by ’n diamantmynmaatskappy in Kaapstad en sal dalk daar probeer inkom. Ek sal graag in die Wes-Kaapse omgewing wil werk, alhoewel chemiese ingenieurswerk meer geredelik beskikbaar is elders in die land.
Atterbury Trust bring graag voormalige beursstudente en huidiges bymekaar uit in die hoop dat julle ervarings kan deel en by mekaar kan leer. Reken jy dit kan betekenisvol wees voel om ’n beursalumnus as ’n mentor te hê?
Ja, beslis. Ek geniet dit om te luister na mense met meer ondervinding as ek en dit sou baie insiggewend wees om te hoor hoe my voorgangers die skuif van student na jong werkende ervaar het. Dit sal lekker gewees het om iemand te hê wat dieselfde paadjie as ek op universiteit gestap het en wat kan raad en insig gee, en later as ek die werkende wêreld betree, kan lei met raad en selfs met praktiese goed soos moontlike werksonderhoude of verblyfopsies.
Wat beteken die Atterbury Trustbeurs vir jou? Watter argument sou jy inspan om aan voornemende beursfonds-skenkers te bewys dat ’n donasie aan die beursfonds ’n beduidende verskil maak?
Die beurs is vir my baie belangrik. Dit het my die geleentheid gegee om my droom-studierigting te volg, wat my die vaardighede en gereedskap gee om ’n bevoegde en selfstandige burger van ons land te wees. Dit het ook grootliks bygedra tot my persoonlike ontwikkeling en groei, want die verantwoordelikheid om ’n sukses te maak van my kursus en my beurs terug te betaal, is daar. Dit het my laat besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees en dus geniet en waardeer ek my kursus asook my tyd op Stellenbosch soveel meer.
Atterbury Trust is trots daarop dat ons baanbrekers kan help om hul drome waar te maak. Jou donasie tot die beursfonds is van onskatbare waarde. Om meer uit te vind, of te skenk, kliek hier.