Atterbury Trust-beursstudente is deur die bank inspirerend, en Simeon Kruger het met sy prestasies by NWU se onlangse prysuitdeling weer gewys hoekom. Hierdie slimkop is nie net die top-presteerder in sy derdejaar elektromeganiese ingenieursweseklas nie, hy het al die ander ingenieurstudente in die hele fakulteit uitgestof. Ons het direk by die gebore en getoë Witbanker gaan hoor hoe só ’n buitengewone prestasie bereik word…
Sjoe, ons is baie trots op jou! Wat is die geheim van jou sukses?
Uit en uit harde werk. Op skool was ek ook die toppresteerder in Hoërskool Generaal Hertzog. Ek dink nie ek is noodwendig die slimste student nie – ek dink ek werk net eenvoudig harder as almal!
Dis presies wat die universiteit gesê het van my oudste broer, Petrus, wat ook Ingenieurswese geswot en ook goed presteer het. Dis my inspirasie! Ek dink as jy my klasmaats vra wie die hardste werk, dat my naam sal opkom – my vriende sê gereeld vir my “Moenie te hard werk nie” wanneer hulle my groet. Die Atterbury Trust se lewensafrigter, Leonie, het selfs met my geraas in my eerstejaar omdat ek in my tydsbeplanning nie veel tyd vir ontspanning ingebou het nie!
Die harde werk het sy nadele – ek het nie veel van ’n studentelewe nie, omdat ek meeste van my tyd agter die boeke spandeer. Mens moet bepaald sekere opofferings maak om te bereik wat jy wil, en my sosiale lewe het hieronder gely. Ek glo darem ook dis belangrik om te prioritiseer.
Dan glo ek ook mens moet vir jouself doelwitte stel en werk om by hulle uit te kom. Ek was vir 10 jaar in ’n skool waar jy self elke dag bepaal het hoeveel werk jy die dag gedoen het en hoeveel huiswerk jy wil doen. Niemand het jou gedwing nie, en as jy nie genoeg werk vir jou dag beplan het nie, het jy agter geraak. Jy moes letterlik aan die einde van elke dag neerskryf op ‘n “goal card” watter bladsye jy die volgende dag gaan doen – en dit wat jy nie gedoen gekry het nie, was huiswerk. So, van kleins af het ek geleer om doelwitte te stel en verantwoordelikheid te neem vir wanneer ek hulle nie in die gegewe tyd bereik het nie.
Is jy ‘n gebore ingenieur? Kan jy ’n staaltjie uit jou kinderjare deel wat dit bewys?
Ek dink nogal so, hoewel ek nie dink baie mense dit altyd raakgesien het nie. Verskeie onderwysers het gedink ek sal ’n rekenmeester wees omdat ek baie goed was met rekeningkunde.
Maar as kind was daar beslis tekens! Ek was verskriklik lief vir cowboyflieks. Ek sou hulle oor en oor kyk, en dan buite gaan en hulle uitspeel. Ek sou dan my eie perd bou: eers span ek ’n tou tussen twee pale en sit ’n kussing bo-op as die saal. Ek sou my belt fatsoeneer as ’n toom, en PicknPay-sakke ‘onder die “saal” sit, sodat ek my voete in die handvatsels kan sit, en dit was my stiebeuels. Ek sou krieketpaaltjies,’n swaardskede, ou haelgeweer doppies en ander goeters uit my kas gebruik om vir my ’n “Sharps rifle” te maak. En dan sou ek op die tou sit en van kant na kant swaai, en dit was hoe ek my perd gery het! My ouers het gedink dis baie snaaks, maar as as ek nou daarna kyk, was dit nogal innoverend! Dan was wiskunde was ook altyd een van my sterk punte op skool, maar ek was nie een van daardie kinders wat aan karre gewerk of elektroniese goed uitmekaargehaal en weer aanmekaar gesit nie.
Hoekom spesifiek elektromeganies? Wanneer het jy dit besluit en wat is dit omtrent die spesifieke spesialisveld wat jou aangetrek het?
Dit is eintlik ’n bae snaakse storie. My broer, Petrus, het elektriese Ingenieurswese geswot, en ek het vir myself gesê dat ek nie dieselfde wil doen nie. Ek het nie regtig belanggestel in meganiese ngenieurswese nie, so ek het vroeg besluit dit ook nie. Maar toe ek my oë uitvee, toe besef ek dat ek nou albei doen.
Die grootste bepalende faktor was my geloof. Ek het baie gebid oor wat ek moet gaan swot, en het gevoel dat die Here my by elektromeganies wil hê en het daarby gebly. En nou, halfpad deur my finale jaar, kan ek sien hoe die Here my paaie vir my reguit gemaak het in verskeie opsigte, onder andere hoe ek nie keuring gekry het vir Medies by Tuks nie, hoe ek gesukkel het om beurse te kry en dies meer.
So, my besluit was meer ’n geloofsbesluit as enige iets anders, en ek het die besluit eers laat in my matriekjaar gemaak. Ek glo dit sal as ek werk soek van waarde wees dat ek iets van beide elektriese en meganiese ingenieurswese weet. Ek weet miskien nie alles nie, maar ek kan met elektriese ingenieurs gesels oor kragstelsels, transformators en induksiemotors. Ek kan ook met meganiese ingenieurs gesels oor termodinamika, hitteoordrag en resonansie-toestande van ’n masjien.
Ons wil bietjie meer oor jou persoonlike lewe ook hoor. Vertel ons van die Kruger-gesin.
Ek het twee ouer broers. Petrus is ses jaar ouer as ek en het pas pa geword. Hulle woon in die Kaap. Hy het sy graad en sy meestersgraad gecum, en hoewel hy nie meer ingenieurswerk doen nie, is hy aangestel in sy huidige werk danksy sy ingenieursagtergrond. Josua is drie jaar ouer as ek en het pastorale berading en sielkunde geswot, en daarna in 2018 sy honneurs gedoen in sielkunde. Hy gee tans skool in Sjina om sy studieskuld af te betaal, en daarna glo ek sal hy sy meesters in sielkunde te doen. Hy het ook albei sy grade gecum. Ons was al drie in die Witbank Christian Academy, hoewel ek in my Graad 9 jaar oorgeskuif het na Hoërskool Generaal Hertzog omdat dit beter was vir universiteitstoelating.
My pa is ’n pastoor en my ma ’n apteker. My ma is die meer wiskundige een wat my gehelp het met huiswerk, terwyl my pa meer kunstig is en my gehelp het met opdragte.
Hoe het dit gebeur dat jy ‘n Atterbury Trust beurs gekry het – en wat sou gebeur het as jy nié die beurs gekry het nie?
My meisie in matriek het gehoor van die beurs, self aansoek gedoen en my aangemoedig om dit ook te doen. Ironies genoeg het ek toe die beurs gekry en sy nie! Die Atterbury Trust beurs het my deurgedra; hoewel dit net ’n gedeeltelike beurs is en nie my volle klasgelde dek nie, betaal dit my handboeke en ander ekstras. Ek sou miskien nog met die prestasiebeurse wat die universiteit aan my toegestaan het deur my eerstejaar kon kom, maar ek weet nie wat ek vir die res van die tyd so gedoen het nie. My ouers het altyd vir my gesê ek moenie myself daaroor bekommer nie en dat die Here vir ons ’n uitweg sou bring. Ek glo Atterbury Trust was die uitweg en ek is besonders dankbaar daarvoor. Atterbury Trust was die eerste organisasie wat hulle geloof in my gesit het en besluit het om my te ondersteun.
Wat is jou volgende stappe – swot jy verder of gaan jy werk soek?
Ek het genadiglik klaar werk gekry. Deur al my jare op universiteit het ek aangehou om oral aansoek te doen vir beurse, sodat Atterbury Trust ander studente kon uithelp soos wat hulle my gehelp het. Maar ek is oral afgekeur, wat my moed nogal gebreek het – ek het gevrees dat ek ook nie werk sal kry nie. Maar in Desember het ek uiteindelik reggekom by Omnia, wat ’n beurs toegestaan het wat al my finalejaar-klasgelde dek, waarvoor ek vir ’n jaar by hulle moet werk. Die Atterbury Trustbeurs gaan dus nou vir verblyf (wat in die verlede betaal is deur my broer se studielening wat hy nou probeer afwerk). Ek begin dus volgende jaar in Sasolburg werk.
Hoekom in jou opinie is die Atterbury Trust se beursfonds belangrik, en wat het dit vir jou persoonlik beteken?
Wat Atterbury Trust se beursfonds vir my besonders maak, is dat dat velkleur of geslag nie ’n rol speel nie. My ervaring in die laaste vier jaar is dat dit ongelukkig meestal ’n realiteit is wanneer maatskappye beurse toeken. Vir Atterbury Trust gaan dit oor jou omstandighede en hoe baie jy die beurs nodig het. En ek voel dit behoort eintlik die maatstaaf te wees vir wie finansiële ondersteuning kry.
Dis ook belangrik dat Atterbury Trust nie voorvereistes het oor die kursus wat geswot moet word nie. Atterbury Trust se beurs stel jou in staat om dit te gaan swot wat jy wil swot, sonder dat jy hoef te bekommer oor of daar beurse in daardie studierigting is.
Een van die belangrikste aspekte is natuurlik ook hoe mooi Atterbury Trust na hulle studente omsien. Dit sluit in die GRO sessies wat twee keer ’n jaar gehou word om seker te maak dat die studente oukei is, en die moeite wat die hele Atterbury Trustspan doen om by hulle studente uit te kom, en ook te probeer sorg dat die studente by die funksies in Pretoria kan uitkom. En mens weet ook dat sou jy vasbrand en nie weet waarheen om te draai nie, hetsy emosioneel of akademies, sou Atterbury Trust gehelp het waar hulle kon, en dit is gerusstellend.
Atterbury Trust belê in jong mense se lewens, en verwag nie regtig dat hulle iets daaruit terugkry nie. Ander maatskappye se beurse het almal ’n werksverpligting na die tyd – Atterbury Trust het nie. En hoewel mens die beurs moet terugbetaal wanneer mens begin werk, is dit rentevry, so Atterbury Trust maak eintlik die verlies aan rente-inkomste. Maar nogtans is hulle bereid om talle Afrikaanse studente te ondersteun, wat só onbaatsugtig is.
Wat het dit vir my persoonlike beteken? Sonder Atterbury Trust sou ek waarskynlik nie kon klaar swot nie. Of ek sou nie geld vir handboeke, of vanjaar se verblyf kon bekostig nie. Atterbury Trust stel my in staat om my Ingenieursgraad in vier jaar te verwerf, en ek wens almal van Atterbury Trust kon volgende jaar by my gradeplegtigheid wees, want ek voel hulle deel in daardie sukses.
Waar hoop jy om oor vyf jaar te wees?
Vir die afgelope vier jaar was my fokus net om my graad binne vier jaar klaar te maak, en hom dan hopelik ook te cum. Ek het nog nie baie verder as dit gedink nie.
My plan is egter om volgende jaar in Sasolburg te begin werk vir Omnia, en hoewel my beurs by hulle my slegs verplig om een jaar te werk, hoop ek om langer daar te wees en deur hulle EIT (Engineer in Training) program in Sasolburg by die afdeling uit te kom waar ek die beste pas. Die program duur drie jaar, en sulke EIT programme lei mens ook dikwels op om te kan registreer as ’n professionele ingenieur by ECSA (Engineering Council of South Africa). Ek sal daarna waarskynlik probeer om verder te swot, hetsy ’n meestersgraad of ’n MBA.
Maar dit sal bowenal weereens vir my ’n gebedsaak wees. Ek kan nie glo dat die Here my paaie so gerig en gelei het om my tot hier te bring, en dat Hy dan nie verder ’n plan het vir my nie. So ek kan soveel planne maak soos wat ek wil, maar op die ou end is dit Hy wat my paaie vir my rig, en die laaste vier jaar se gebeurtenisse is ’n getuienis daarvan.
Jou donasies help ons om uitblinkers soos Simeon by te staan terwyl hulle hul kwalifiseer om by te dra tot ons land se toekoms. Om te skenk, of meer uit te vind oor die opsies, kliek hier.