Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) het vanjaar sy eerste groot groep skoolverlaters opgelewer, en die prestasie van Tatum Ferrier by Hoërskool Stellenbosch wys die onskatbare waarde van hierdie belangrike bemagtigingsprogram. Die uitgebreide Atterbury Trust-familie is besonder trots op Tatum, wat met ’n gemiddeld van 95.83% en ’n handvol vakpryse in matriek aangewys is as Hoërskool Stellenbosch se dux-leerling.
Baie geluk dat met die dux-toekenning! Is dit iets wat jy in jou visier gehad het, en wat het jy gedoen om dit te bereik?
Ek het vanjaar gemik om my beste te gee in alles wat ek aanpak, omdat dit my laaste jaar as lid van die MOI-program was om te kan wys wat ek kan doen. Ek het ook probeer om elke dag met ’n positiewe houding aan te pak sodat ek nuwe uitdagings tegemoet kon gaan en as ’n groei-geleenthede te benut.
Hoe het jou paadjie destyds met MOI s’n gekruis?
My ma het in 2020 haar werk verloor, en ek sou nie in Hoërskool Stellenbosch kon aanbly nie, omdat ons nie die skoolgeld kon bekostig nie. My registeronderwyseres en van my ander onderwysers het my van MOI vertel, en het namens my kontak gemaak. Ons het ontmoet en ek is aanvaar, en is vanaf 2021, my Graad 9-jaar, deel van dié program. Dit het beslis my lewe verander!
Wat het die holistiese ondersteuning van MOI vir jou beteken oor die afgelope vier jaar?
MOI het my geleer dat alles met God se hulp moontlik is. Elke Maandag het tannie Simonet en tannie Jenene na Hoërskool Stellenbosch toe gekom en vir ons die belangrikheid van geloof geleer. Dit is hierdie geloof wat my in staat gestel het om groot te droom en om steeds nog groter te droom.
Wat maak Hoërskool Stellenbosch so spesiaal?
Elke leerder ondersteun die ander en onderwysers het ’n passie vir hulle werk. Dit voel soos ’n familie, want leerders motiveer mekaar om aan alle aktiwiteite deel te neem. Die onderwysers loop ook die ekstra myl in hulle vakke om te verseker dat elkeen in die klas die werk verstaan, maar ook om ’n passie vir die vak te kweek by leerders. Dié skool is akademies, kultureel en op sportterrein baie goed!
Wat was vir jou die hoogtepunt van jou hoërskool-loopbaan?
Dit was toe ek vir die eerste keer eerste gestaan het, in Graad 11. Voor dit was so ’n prestasie net ’n droom, maar met harde werk, toewyding, deursettingsvermoë en geloof het die Here my geseën met eerste plek. Dis hoekom ek wil hê elke MOI-leerder moet droom en hul drome najaag, want dit kan jou lewe verander.
Wat is volgende vir jou, noudat jy klaar is met matriek?
Ek wil BRek (Rekeningkunde) aan Stellenbosch Universiteit studeer. Ek is baie lief daarvoor om komplekse probleme op te los en Rekeningkunde behels baie keer dat jy kreatiewe oplossings vir probleme moet vind. Ek het vanjaar werkskadu by Moore ouditeure in Stellenbosch gedoen met die bemiddeling van die Atterbury Trustspan en dit het my doodseker gemaak van my loopbaankeuse. Ek glo dat ek hierdie passie eendag in die wêreld van finansies sal kan gebruik om besighede te help om hulle beste te bereik. En dan is my droom om eendag alles te doen wat ek nie as ’n kind kon doen nie, soos om te reis.
Het jy ’n boodskap vir nuwe Graad 6 MOI-leerders van 2025?
Ek wil julle aanmoedig om nooit op te hou droom nie! Mag julle met al julle krag gaan vir dit wat julle in die lewe het. Moenie toelaat dat julle huidige omstandighede bepaal waarheen julle op pad is nie, en hou aan hoop vir ’n beter toekoms. Benut elke geleentheid wat MOI vir julle aanbied om te groei ten volle, en mag elkeen van julle groei tot ’n sterk leier van die toekoms!
Jy kan die MOI- program ondersteun deur ’n leerder se skoolfonds te borg of ’n bydrae tot akademiese materiaal of buitemuurse aktiwiteite te maak. Skenkers kan bydra deur Donasiewinkel of kontak ons op [email protected].