By Terugploeg se blokhuis hou die jagseisoen die span besig. Ons hoor meer by Atterbury Trust se finansiële en operasionele bestuurder Ananja Koen en Terugploeg se blokman Branden van Meyeren, een van die Pretorianers wat voordeel getrek het uit Werksaam, Terugploeg se werkskeppingsbeen.

Is julle baie besig op die oomblik?
Branden: Die jagseisoen duur gewoonlik van Mei tot Augustus, en in dié tyd hoop ons om soveel as moontlik karkasse te ontvang vir verwerking. Op dié stadium kry ons so 10 karkasse per week.

Baie jagters skenk die vleis aan Terugploeg – wat maak julle dan met daardie karkasse?
Ananja: Ons vra gewoonlik vir die skenkers wat hul behoefte is en indien hul gemaklik is gee ons die ekstra vleis en ook sopbene vir ons begunstigde organisasies en verwerk die res van die vleis om te verkoop om sodoende die werksgeleenthede wat deur Terugploeg geskep word, te help befonds. Indien die jagters graag wil hê dat die vleis ook geskenk word, verwerk ons dit tot maalvleis en skenk dit dan aan ons netwerk van organisasies.

Hoeveel stoorplek het julle beskikbaar?
Ananja: Ons het gelukkig redelik baie stoorplek omdat daar tydens die beplanning en oprigting van ons vleisverwerkingsfasiliteit op die Terugploegperseel genoegsame verkoelingsfasilteite gebou is.  Op dié manier kan ons vir organisasies vleis skenk soos hul nodig het, eerder as ’n oormaat wat hulle dalk nie self kan stoor nie, en wat dan na vermorsing lei.

As jagters vir hul eie gebruik vleis wil laat verwerk, watter dienste bied julle aan?
Ananja: By Terugploeg kan jy jou vleis laat verwerk soos by enige ander slaghuis. Die vleis kan in biltong, droëwors, wors, maalvleis en so meer verwerk word. Die volledige besonderhede en ons pryslys is op ons webtuiste beskikbaar, en ons kan ook die karkasse kom oplaai indien die volumes dit regverdig. Ons bied ook die opsie om verwerkte vleis af te lewer.

Hanteer julle alleenlik wildsvleis?
Branden: Nee, ons kry nogal baie beesvleis in, veral buite jagseisoen. Ons kan dit ook verwerk. En as dit stil is by die blokhuis is, help ek ook met groete laai by Terugploeg!

Branden, vertel ons meer van jou eie agtergrond – hoe lank al is jy ’n blokman en hoe het jy by die beroep uitgekom?
Branden: Ek het reeds op skool in die vakansies by slaghuise gewerk, en op 18, na ek met skool klaargemaak het, het ek permanent by ’n slaghuis begin werk. Danksy die welwillendheidsorganisasie Kairos in Florauna, wat mense wat swaarkry help, het ek later die geleentheid gehad om by BSBH Slaghuis in Mahem opleiding as blokman te ontvang. Ek het nou vyf jaar ondervinding.

En hoe het jy by Terugploeg uitgekom?
Branden: Ek het deur Jacorita van Kairos gehoor dat Atterbury Trust ’n blokman nodig het vir die Terugploeg slaghuis en het toe vir ’n onderhoud gegaan.  As deel van die onderhoud het ek my vaardighede by Uitkyk Vleismark vir Ananja gedemonstreer, om te wys dat ek wel oor die nodige kennis beskik.

Ek werk nou al net meer as twee jaar by Terugploeg, en het in dié tyd só baie oor wildsvleisverwerking geleer onder oom Diets van der Sande.  Hy is so kundig met resepte en wors-maak – die fynere vleisverwerkingvaardighede waarvan ek nie kennis gehad het nie. Ek is dankbaar vir die opleiding by BSBH, want dit het my die basiese kennis geleer wat ’n blokman benodig en nou kan ek net beter en beter doen!

Hoeveel mense werk by die Terugploeg slaghuis?
Branden: Behalwe oom Diets en ek, wat voltyds werk, kry ons soos ons dit nodig het, as daar baie vleis inkom, twee ekstra blokmanne in wat kom help karkasse breek, verwerking doen en seker maak die slaghuis word elke dag silwerskoon gelos.

Hoe kan jagters van julle dienste gebruik maak, en hoe skenk mense vleis?
Ananja: Jagters kan die slaghuis op 066 283 1786 kontak wanneer hulle ’n jag beplan, en dan skeduleer die Terugploegspan die vleisverwerking. Skenkings is altyd welkom, en as jy vleis wil skenk, kontak die slaghuis direk, of stuur ’n epos na [email protected].