Duskant Okahandja is daar ’n klipkoppie met ’n gat, en die gat het ’n storie. Koos Greeff het die einste storie gaan opspoor en vertel hom op Maroela Media se webwerf…
Soos mens deur Okahandja noordwaarts beur sit die pragtige NG Kerk mos aan jou oostekant. Oorkant die pad is die Engen met die Wimpy waar ons boere-mense mos graag eet op pad na Henties of Etosha. Nou ry jy net so ʼn klipgooi verder dan sit daar ʼn eensame klipkoppie so teen die pad aan jou regterhand. Dis Moordkoppie daai en die plek herinner aan ʼn treurige verlede van moord en doodslag. Maar vandag wil ek nou nie praat oor daardie onheilighede nie.
Eendag het ek weer niks te doen nie en so loop klim ek vir Moordkoppie. Die arme plek is besaai van die bottels en blikke, en verdwaalde plastieksakke dwarrel ook daar rond, genoeg om ʼn mens diepgrondig te ontstig. Maar ek beklim en bevoel die plek. Amper heel bo merk ek ʼn gat in die spits van die koppie en die gat loop regdeur die rots van oos na wes. So ʼn kleinerige gat so ietwat groter as ʼn man se vuis. En ek wonder oor die gat se herkoms en my hart is nog meer boos oor die blikke en bottels.
Later van dae kuier ek by oom Koos van Zyl wat kortby Moordkoppie woon. En toe hoor ek met verwondering die verhaal van daai gat. Skynbaar het daar jare gelede ʼn Duitser neffens die klipkoppie gewoon. En die wêreld was woes en leeg en so moet die Duitser maar waghou oor sy bedryf. Dikwels met sononder en sonop dan maak die ou hom daar op die koppie tuis met sy ou voorlaaier en bespied die omgewing vir ongewenstes.
So sit suig hy weer die namiddag daar aan sy pyp en beloer die omgewing van onder sy hoed. Toe kom daar ʼn man aangeloop en die vent beklim sommer die koppie en begin praat. Lekker gekuier – die Duitsers en die vent – maar later merk die Duitser op dat die kuiergas die nimlike satan is. Maar hy skrik nie vir koue pampoen nie so hy sit vas en suie sy pyp en beloer die satan. Meteens vra die duiwel hom wat sy ding is daai wat hy so sit suie. “Ja,” verduidelik die Duitser, “dis my pyp.” Nou wil die duiwel opstuk ook ʼn trek vat, maar die Duitser struwel teë want volgens hom is satan darem te groot en sal hy die pyp stukkend suig. Net daar bied die Duitser aan om sy ou Sanna vir die duiwel te stop met tabak.
Maar in die lekker kuier vergeet die Duitser – oom Koos weet nie of dit opsetlik was nie, dat die Sanna reeds gelaai was met buskruit en lopers. In ieder geval; hy pak die Sanna se loop vol tot voor met lekker sterk boertwak en maak die bedryf aan die brand. En satan se kind suig en suig totdat die rookwolke later so afsak in die rivierleegte – amper soos ou van Hunks doer ver in die Kaap vanmelewe se dae. Meteens vat die buskruit vlam en daar is een massiewe knal toe is die satan skoonveld.
Die ou Sanna slaat een gat met die trugskop dwarsdeur die koppie se spits en die Duitser moes sy Sanna loop soek daar waar die teerpad nou loop. Toe hy uiteindelik die geweer het en weer terug op die klipkop geklim het toe merk hy na die oostekant ʼn hele poort in die berge. Die satan het skynbaar bo-oor die rivier gevlieg en doer anderkant teen die Bobbejaanberge te valle gekom. Daar het hy ʼn hele poort oop geval in die berg.
So vertel oom Koos vir die waarheid en hy is ʼn kerkmens. Die gat en die koppie sit nog daar en net so ook die poort in die berg. Dit het ek met my eie paar oge gesien so ek glo nogal vir oom Koos. As jy my nie wil glo nie, loop kyk self…
Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.