Ek het nie altyd die “perfekte onderhoud” antwoord as mense my vra hoekom ek Bedryfsingenieurswese gaan swot het nie, maar my storie gee my net soveel meer sekerheid dat ek werklik in my roeping stap. En ek is oneindig dankbaar teenoor Atterbury Trust wat vir my die geleentheid gegee het om my droom te verwesenlik.
Na matriek het ek op ‘n oorsese sendingjaar gegaan en vertrou dat Jesus in die jaar vir my sal wys in watter rigting ek moet swot. Teen September het ek steeds geen idee gehad nie, omdat ek, soos altyd, die perfekte keuse wou maak. Na familielede en vriende Bedryfsingenieurswese voorgestel het, na aanleiding van my belangstellings, het ek my ma uit Nepal uit gebel en gevra dat sy namens my aansoek doen vir Bedryfsingenieurswese, alhoewel ek geen idee gehad het wat dit behels nie. Ek het nie eers geweet ek gaan wiskunde doen nie! Ons het ook nie geweet wanneer die sluitingsdatum vir dié kursus is of wat die vak- en gemiddeldvoorvereistes is nie. Wonder bo wonder was die sluitingsdatum eers twee weke later en het ek ook aan al die voorvereistes voldoen. Na die eerste week van klas, waar ek eintlik kon uitvind waarvoor ek ingeskryf het, het ek geweet dat Bedryfsingenieurswese verseker deel van my roeping is.
Ek sal nooit genoeg kan dankie sê aan Atterbury Trust en sy mense vir die dag wat hulle besluit het om ‘n beurs aan my toe te staan nie. Hulle het soveel meer gedoen as net geld in my rekening inbetaal. Atterbury Trust het vir my die geleentheid gegee om na vier jaar weg te stap met ses van die beste vriende wat mens ooit kan kry, die ongelooflikste herinneringe van koshuis, kampus, dinees en landloop USSA toere, en natuurlik ‘n graad. Atterbury Trust het belang gestel daarin om my as mens te ontwikkel, met soveel geleenthede om na praktiese gesprekke te gaan luister, vir enige iets van hoe om jou CV te laat uitstaan bo die ander 1 000 werksaansoeke, tot hoe om jou geld te bestuur.
Bo en behalwe, het Atterbury Trust vir my dit vir my moontlik gemaak om die roeping op my lewe te verwesenlik. Dankie, dankie, dankie!
Suane Cilliers