Die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) is in 2020 gestig met die oogmerk om bruin Afrikaanssprekende leerders wat leiereienskappe toon ’n hupstoot te gee wat hulle sal toelaat om hul volle potensiaal te bereik en uit te leef. MOI Koördineerder Jenene Petersen vertel meer van hierdie Wes-Kaapse baanbrekersprojek.

Waar het die idee vir MOI vandaan gekom – en vanwaar die naam? Hoe is Atterbury Trust betrokke?
Francois van Niekerk, stigter van die Mergon Groep en medestigter van Atterbury, het MOI drie jaar gelede geloods. Ek het gevra hy moet self vertel: “Ons bruin volksgenote is die meerderheid in die Wes-Kaap en ek wou Atterbury Trust se beursleningsprogram by veral die Universiteit van Stellenbosch afskop. Maar dit blyk toe ’n baie klein minderheid bruin studente slaag vanweë die groot kultuursprong en tanende moedertaal-onderwys.  Gevolglik is besluit om eerder behoeftige, maar belowende bruin hoërskoolleerders te borg ter voorbereiding vir stewige post-matriek opleiding.

Onlangs is ook besluit om Zahn en haar span se uitsonderlike werk by Atterbury Trust na die Wes-Kaap uit te brei. MOI is dus sedert 1 Julie 2022 onder die vaandel van die Atterbury Trust in Stellenbosch ïnkorporeer.”

MOI is gerig op behoeftige bruin Afrikaanssprekende leerders met leiereienskappe, sterk akademiese potensiaal, goeie karakter en die wil om te leer en presteer. Die omvattende beursprogram bied aan leerders die geleentheid om by ’n skool van hul keuse hulle hoërskoolloopbaan te voltooi. Die span koördineerders verseker dat alle struikelblokke op hulle ontwikkelingspad na hulle volle potensiaal uit die weg geruim word. Die leerders het toegang tot ’n koördineerder wat ook ’n gestruktureerde leierskapprogram aanbied om te help met die geestelike, emosionele, sosiale en kulturele aanpassing wat met die hoërskooloorgangsfase gepaard gaan. Atterbury Trust bestuur die fondse van die hoërskoolbeursprogram en bied ook vele geleenthede aan verdienstelike MOI beurshouers vir studiebeurslenings na matriek. Die Atterbury Trust -beursstudente bied ook ’n platform vir MOI leerders om in te skakel by ’n mentorskapprogram asook tutorskap vir akademiese bystand.

Hoe het die program ontwikkel in die afgelope paar jaar sedert dit gestig is?
In 2020 is daar afgeskop met 20 volbeurshouers en tans word 60 volbeurshouers by 13 verskillende skole ondersteun. Die eerste groep sal in 2024 matrikuleer. Ons getuig met dankbaarheid van ’n 100% slaagsyfer vir 2020 en 2021, wat weens die wêreldwye Covid-pandemie seker die twee mees uitdagende jare in die onlangse geskiedenis was. Van die uitdagings wat oorkom moes word, was die volgende:

  • Leerders moes aanlyn studeer in huishoudelike omstandighede wat nie altyd ’n gunstige leeromgewing bied nie;
  • Leerders moes noodgedwonge skuif na skole waar voortgesette opleiding toeganklik was;
  • Psigososiale uitdagings soos veiligheid, gesondheid en voedselvoorsiening is gemonitor en hulp moes aan behoeftige leerders voorsien word.
  • Data is deurgaans voorsien sodat studies en kommunikasie met leerders ononderbroke kon voortgaan.

In die proses is ’n multiprofessionele span saamgestel wat die jongmense se holistiese ontwikkeling ondersteun. Kommunikasie tussen die skool, ouers, leerders en MOI-koördineerder het die vier pote van die tafel gevorm.

Hoe kies julle die deelnemers aan die program?
Dit is belangrik om die teikenmark soos vroeër verduidelik te bereik, en bemarking word by opvoedingsinstansies in die wynland-omgewing gedoen. Die skoolhoofde van hierdie skole maak die aanbevelings. Geskikte kandidate moet aan die volgende kriteria voldoen:

  • Suid-Afrikaanse burger, Afrikaanssprekend en tans in Graad 6.
  • Behoefte om hoërskoolopleiding in Afrikaans te ontvang.
  • Handhaaf ’n gemiddeld van bo 70%.
  • Benodig finansiële steun vir skoolgelde (gesamentlike bruto maandelikse inkomste van huishouding minder as R20 000).
  • Toegewyde Christen, handhaaf streng morele waardes en beskik oor ’n sterk verantwoordelikheidsin.
  • Toon sterk leiereienskappe en die wil om te presteer.
  • Betrokke by buitemuurse aktiwiteite en/of gemeenskapsdiens.
  • Goeie gedrag deur huidige opvoedkundige instansie bevestig, geen kriminele rekord (of betrokkenenheid by enige kriminele aktiwiteite nie).

Die kandidate word deur ’n deeglike psigometriese assessering geneem waar gefokus word op kognitiewe, sosiale, emosionele en leierskapsvaardighede. Dan word ‘n kortlys saamgestel en onderhoude met die kandidate en hul ouers gevoer. Beurse word dan voorwaardelik toegestaan, waarna die leerders ingesluit word in ’n voorbereidingsprogram vir hoërskool gedurende hulle Graad 7-jaar, wat fokus op Afrikaans (moedertaal), Engels (addisionele taal) en wiskunde. Ouers word ook ondersteun om te verseker dat hulle skoolaansoeke na kwalifiserende hoërskole indien.

Na afloop van hul Graad 7-jaar word die kandidate wat die voorbereidingsprogram suksesvol afgehandel het en ook ’n voldoende slaagsyfer volgens die MOI-vereistes behaal het, dan ingesluit in MOI se omvattende hoërskoolbeursprogram.

Hoe werk dit prakties met die baie intensiewe ondersteuning wat aangebied word? Hoe word dit bestuur? En befonds?
MOI het afgeskop in vennootskap met MAD (Make a Difference Leadership Foundation) wat reeds meer as tien jaar ervaring het met die bestuur van ’n hoërskoolbeursfonds. MAD administreer die leerders se akademiese begroting. Dit sluit in skoolgelde, koshuisgelde, skooluniform, handboeke, skryfbehoeftes, sport en kultuur, etes en vervoer. Leerders ontvang ’n elektroniese toestel vir akademiese doeleindes asook ’n mediese fonds wat ook deur MAD geadministreer word.

Direkte kommunikasie met leerders, ouers en skole word deur die MOI-span behartig. Dit sluit in akademiese en emosionele intervensies, die geestelike ontwikkelingsprogram asook ’n leierskap-en mentorskapprogram.

Blootstelling is ’n groot tekortkoming in die lewe van meeste van die MOI-leerders en daarom word daar doelgerig gefokus om hulle die nodige blootstelling te bied om hulle wêrelde te vergroot en so ook hulle woordeskat en verbeelding te verbreed. Dit sluit onder andere besoeke aan museums en kuns- en kultuuronderrig in.

MOI se fokus is om die kandidate holisties te ontwikkel, daarom word daar tans slegs 20-25 leerders per jaar op die program aanvaar.  Die fokus is dus op diepte en nie wydte (jaag na getalle) nie. Die vraag na finansiële hulp vir gehalte opvoeding is baie groter as die aanbod. Dus word daar ’n groter fokus geplaas om te identifiseer met watter organisasies, met gemeenskaplike belang, ons kan saamwerk om die beskikbare poel van fondse te vergroot, sodat die teikenmark uiteindelik na die landelike streke kan uitbrei. Ons sal graag wil uitbrei na die Swartland, Weskus en Overberg asook Sentraal- en Klein Karoo. Die Noord-Kaap is ook in ons visier.

Wat is die droom vir MOI? Atterbury Trust se studentesuksesverhale is legio oor die amper kwart eeu wat dit al loop… waar hoop jy sal MOI wees oor 25 jaar?
Ons hoop om dan ’n sterk MOI-alumnispan te hê wat inkoop in die visie van “pay it forward” en beide finansieël en met mentorskap sal bydra ten bate van die jongmense wat ná hulle die MOI-program betree het.

Ons glo dat ons dan ook ’n gemeenskap van ander ondersteuners, insluitende befondsers, rondom die program sal hê, dat MOI landwyd gevestig sal wees as ’n volhoubare organisasie wat organies groei, met ’n MOI-kultuur wat die alumni as ’n familie sal saambind met gereelde byeenkomste en reünies. Maar meestal vertrou ons dat ons ’n generasie van leiers sal bou wat ’n impak maak in die ekonomie van ons land op nasionele, provinsiale en plaaslike vlakke.