Nuwe bloed, en nuwe energie. Hiervan bring Ananja Koen, die nuutste toevoeging tot the Trustspan, in groot maat met haar saam. As die nuwe finansiële bestuurder van Atterbury Trust hou Ananja haar oog op die behoorlike beheer van geldsake asook geleenthede vir toekomstige uitbreiding en groei, sodat nog meer hulp uitgerol kan word om die gemeenskap, en ons beursstudente, te help. Sy vertel meer.
Waar is jy gebore en getoë?
Ek het grootgeword en skoolgegaan in Pretoria en toe gaan studeer in Potch. Jou hart is maar waar jou mense is en my mense is in Pretoria.
Jy het verlede jaar by Zahn Hulme se Trustspan aangesluit, en sy is vol lof vir jou goeie werk. Wat is jou postitel by Atterbury Trust, en wat, in breë trekke behels jou verantwoordelikhede?
Dit is ’n baie groot kompliment. Ek is die finansiële bestuurder en is grotendeels verantwoordelik vir finansies en volhoubaarheid van die Trust in die toekoms. Verder raak ek ook dié jaar meer deel van die operasionele bestuur. Ons is ’n klein spannetjie by die Trust so almal moet inspring en help met die reëlings en organiseer van al ons verskillende projekte en aktiwiteite. Dit is vir my regtig lekker, want jy is betrokke by iets van alles.
Waar was jy voorheen? Vertel ons iets van jou professionele ervaring? Hoe het jy by Atterbury Trust uitgekom?
Ek het na afloop van my studies my klerkskap gedoen by ’n relatiewe klein firma in Pretoria en toe ’n jaar by Hello Group in Centurion gewerk. Ek was op die uitkyk vir ’n ander geleentheid en het aanvanklik aansoek gedoen vir ’n ander pos by Atterbury. Ek het nie daardie pos gekry nie, maar toe bel Ronel, die menslike hulpbron-bestuurder, en vra of ek dalk sou belangstel in ‘n ander beskikbare posisie by die Trust. Ek het toe vir Zahn ontmoet, die Trust se storie gehoor, en die res is geskiedenis!
Op watter projekte werk jy tans, en wat is vir jou die grootste uitdaging?
Ons is vanjaar besig met heelwat nuwe inisiatiewe wat ons gaan loods in vennootskap met GrootFM en ons fokus ook meer op die langtermyn volhoubaarheid van die Trust en hoe ons meer instansies en individue kan mobiliseer om betrokke te raak. Vir my was die grootste uitdaging tot op hede gewees toe ons verlede jaar na afloop van die studente beursonderhoude moes saamsit en besluit, gegewe ons beperkte begroting, aan watter studente beurslenings toegestaan kan word en vir wie ons moes nee sê. Dit het my weereens laat besef hoe groot die nood is om jong mense by te staan om hulle lewens te kan verander. Dit motiveer my om nog harder te werk en om meer mense betrokke te kry, dat ons sodoende meer studente kan ondersteun.
Wat geniet jy die heel meeste omtrent jou werk by die Trust?
Die feit dat dit nie soos werk voel nie, ek glo ons is die Here se hande en voete hier op aarde. Dit is ’n groot voorreg om aangestel te word om ’n verskil te kan maak. Hoe harder en slimmer ons met die Trust se finansies werk, hoe groter is die impak en die verskil wat die Trust kan maak.
Is daar een projek wat jy as jou baba beskou? Vertel ons meer daarvan.
Soos ek vroeër genoem het, wil ons meer mense mobiliseer om betrokke te raak by die Trust, en een van die inisiatiewe is die Atterbury Trust Donasiewinkel wat in die volgende maand of twee bekendgestel gaan word. Dit is ons eerste fase van ’n aanlynwinkel. Ek is baie opgewonde oor die projek en ek hoop dat ons hiermee meer individue en organisasies van buite te kry om bydraes aan die Trust te maak. Ons glo dat elke mens sterk voel oor ‘n bepaalde aspek, of dit nou opvoeding, Afrikaans, kuns en kultuur of die welstand van mees weerloses in die gemeenskap is. Die Trust is werksaam op al hierdie terreine en met meer eksterne ondersteuning, kan ons bestaande en beproefde projekte ‘n soveel groter impak maak. Ons het groot drome vir die Trust en ek glo dit is een van die meganismes wat gaan help om hierdie drome waar te maak in die lang termyn. Die Atterbury Trust is ’n Publieke Voordeelorgansisasie met ’n lang geskiedenis van uitstekende deurvloeisyfers van studente, ’n positiewe bydrae tot die uitbou van Afrikaans, kuns en kultuur en gemeenskapsprojekte soos die Triomfkliniek en bydraers kan belastingvoordele verkry deur hulle liefdadigheidsbydraes via die Trust te kanaliseer.
En wie is Ananja as sy by die huis is? Saam met wie woon jy, wat doen jy graag in jou vrye tyd, wat is jou persoonlike passies?
Ek en my man, Tiaan, is vanjaar 10 jaar saam. Hy is my grootste ondersteuner en ek is elke dag dankbaar vir die voorreg om getroud te wees met my beste vriend. Ons het laasjaar ’n vierpotige hondekind met die naam Thys bygekry. My hoogtepunt van die dag is om ná werk saam met Tiaan en Thys te gaan stap. Met die afsondering weens die coronavirus is dit natuurlik nou vir eers nie moontlik nie, en ons mis dit! Ons staptyd is “ons” tyd en dan kan ons net lekker gesels en afsluit van die dag en al sy dinge. Soos my man sal sê, ek is ’n sosiale vlinder en ons is geseënd met ‘n hegte familie en vriendekring en daar is vir my niks lekkerder om saam met my hartsmense tyd te spandeer nie, of dit nou om ’n braaivleisvuur, ’n Saterdagoggend “park run”, ’n markie iewers of ’n lekker naweek weg is. Kan nie wag dat die gesondheidskrisis onder beheer kom sodat ek weer al daardie lekker dinge kan doen nie!
Atterbury Trust se goeie werk in die gemeenskap word wyd erken en waardeer. Het jy in jou agterkop dalk ’n hartsprojek, wat jy graag sal wil inbring by wat reeds gedoen word?
Ek dink daar is so baie geleenthede maar iets wat my na aan die hart lê is om‘’n platform te skep waar studente kan werk soek, hetsy vakansiewerk of ’n permanente werk na afloop van hul studies. Ek beleef al hoe meer dat dit vir baie gegradueerde studente ’n uitdaging is om werk te kry, weens verskeie redes. Ek glo ons het by Atterbury die nodige netwerk van vennote en medewerkers en vriende om iets hieraan te doen, om die afgestudeerdes te help met werksgeleenthede. Hopelik kan ons so iets in die nabye toekoms uitrol.