Siena Noordman is die onderwyseres by Jelly Beans dagsorgsentrum in Macassar, wat verlede jaar aangesluit het by die Startwell voedingsinisiatief wat deur die hoofborge WeBuyCars en Outsurance befonds en onder die vaandel van Atterbury Foundation bestuur word. Sy het ons vertel oor die impak van die program by haar skool.

Hoeveel kleuters is by jou skool, en wat is die voedingsbehoefte daar by julle?
Ons het 16 kleuters by ons skooltjie, en hulle kom uit baie arm huise waar die ouers nie altyd werk het nie, en dan is hul enigste inkomste die Sassa-tjek wat hulle elke maand vir die kinders kry. Van ons ouers kom soggens hier by ons aan en kom eet ook pap by die skool. Kinders sal soms iets skool toe bring vir middagete, maar dis nie elke dag nie, en dan moet ek vir hulle iets kan gee om te eet. Ons kry geen befondsing nie; en die pap wat deur die Startwell-projek geskenk word is al wat ons ontvang,so dit is baie welkom en word so waardeer.

Is dit ’n maklike produk om vir ’n groep kleuters te gee? Hou hulle daarvan?
Ja, dit is baie maklik – jy  gooi net warm water by en roer, die water  hoef nie eers te kook nie. Die kleintjies geniet die pap; as ons bietjie lank vat in die oggende, dan sal hulle kom vra, “Juffrou wanneer maak Juffrou die pap?” As ons sê, “Paptyd!” dan los hulle alles waarmee hulle speel en hardloop om by die tafels te gaan sit. En soms vra hulle vir nog, so ons staan maar reg!

Julle meet ook die kinders se groei. Sien jy vordering vandat julle begin het?
Ja, ons meet hulle en dis uitstekend om elke maand die verskil te sien wat die pap aan die kinders maak – wat groei betref maar ook hulle algehele vordering.

Sien jy ’n positiewe impak op hoe die kinders reageer in die klas?
Ja, ek sien beslis ’n verbetering – hulle kan makliker fokus op hul werk as voorheen. Hulle liggaamsontwikkeling is ook sigbaar, en ek reken hulle groei vinniger.

Wat dink jy van hierdie program? Hoekom is dit belangrik dat mense sulke programme ondersteun?
Ek dink dit is wonderlik om vir kind ’n bord gesonde kos te gee, en die blydskap in sy gesig te sien. Jy gee hulle hoop en jy help hulle om gesond te ontwikkel sodat hulle grootword sonder skete en kwale.  Ons is geweldig dankbaar vir almal wat bydra en dit moontlik te maak dat hierdie kinders nie honger hoef te gaan slaap nie.

Feite oor groeibelemmering, en die Startwell-voedingsprojek

  • Byna 30% van Suid-Afrika se kinders onder vyf ly aan groeibelemmering.
  • Dit is die gevolg van wanvoeding, en lei tot fisiese en kognitiewe onderontwikkeling wat die persoon dikwels lewenslank affekteer.
  • Dit is onomkeerbaar.
  • Die regte diëet, wat ryk is aan voedingswaarde, kan die toestand voorkom.
  • Die Startwell-voedingsprojek onder Atterbury Foundation se bestuur, voorsien tans meer as 2200 kleuters in behoeftige gemeenskappe regoor Suid Afrika van ‘n daaglikse maaltyd van spesiaal-geformuleerde pap met ’n hoë voedingswaarde.
  • Dit kos slegs R1 020 om ’n kleuter vir ’n jaar te voed en die siklus van armoede te help breek. Skenk hier:https://atterburytrust.org/shop/voed-n-kleuter-vir-n-jaar/

Bydraes aan die Atterbury Foundation NPC kwalifiseer vir ’n Artikel 18A-belastingaftrekking sowel as B-BSEB sertifikasie.