Die saadjie vir die jaarlikse Versnit-konsert is in die Desembervakansie van 2011 geplant toe Jean Engelbrecht en Louis van der Watt die idee gekry het om ’n unieke geleentheid te skep waarmee geld ingesamel kon word om behoeftige Afrikaanse jongmense te help met hulle studies. Engelbrecht se ikoniese Stellenbosse wynplaas Rust en Vrede is sedertdien elke Januarie die agtergrond vir dié besonderse insamelingskonsert, wat Atterbury Trust ’n noemenswaardige jaarlikse hupstoot gee. Hy vertel ons meer oor sy deurlopende betrokkenheid.
Waar het die idee van Versnit op Rust en Vrede vandaan gekom? Waarvoor het julle destyds gehoop?
Ek en Louis [van der Watt] het op die idee gekom om Afrikaanse kunstenaars hier op Rust en Vrede te laat optree om die taal in musiek te vier. Die eerste Versnit was baie kleiner as wat dit vandag is, maar ek dink ons het die potensiaal gesien. Ons het ook besluit om eerder as om kaartjies te verkoop, slegs gaste te nooi en ons netwerk van sakemanne te betrek met die doel om kinders wat verder wou studeer te help met fondse, asook om afgestudeerdes wat nie noodwendig oorsee wou gaan werk nie, plaaslik te help met poste.
As jy daardie eerste een vergelyk met vanjaar s’n, hoe ver het dit ontwikkel, en wat beteken Versnit vir jou persoonlik?
Versnit het ontwikkel tot ’n volwaardige musikale vertoning wat die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars op ’n intieme vlak aan die gehoor bekendstel. Persoonlik dink ek dat die atmosfeer van Rust en Vrede en die kombinasie van kunstenaars, gaste en die musiek self uitstekend werk.
Hoe word elke jaar besluit op die program van musiek?
Ek en Louis besluit altyd saam oor die kunstenaars en liedjies wat by die volgende Versnit gehoor sal word en dan verweef die talentvolle Matthys Maree alles mooi saam in ‘n musikale meesterstuk..
Ons verneem dis deur jou toedoen dat Lexus ’n paar jaar gelede betrokke geraak het as een van die hoofborge. Wat is die verbintenis?
Ek het ’n lang verbintenis met Toyota en is ’n amptelike ambassadeur vir die handelsmerk, waarop ek baie trots is. Lexus is ’n uiters gepaste vennoot vir Versnit en dit is nie net oor die voertuie nie, maar ook oor die netwerk mense wat daar werk.
Hoe sal jy ander groot donateurs oortuig om die werksaamhede van die Atterbury Trust te ondersteun?
Die Atterbury Trust doen weergalose werk wat vir Afrikaanssprekende kinders ongelooflike geleenthede skep. Louis is verseker die dryfveer hier en speel ’n belangrike rol dat groot instansies en invloedryke individue hulle harte en beursies vir ons taal en ons kinders oopmaak.
Is ons reg dat ’n hele aantal van jou Namibiese vriende en sakekontakte Versnit bywoon? Hoe het jy hulle oortuig om betrokke te raak?
Die Namibiërs was van dag een af deel van Versnit en was deur die jare ook getroue ondersteuners van die Atterbury Trust. Daarom het die Trustspan so vier jaar gelede besluit om die reikwydte van die Atterbury Trust verder te strek om behoeftige voornemende Namibiese studente ook in te sluit, en vandag is daar ook ’n paar studente uit Namibië wat aan die Universiteit van in Stellenbosch verder studeer met die beurshulp van Atterbury Trust.
Wanneer begin voorbereidings vir Versnit op die plaas, en hoeveel gaste kom gemiddeld?
Ons begin gewoonlik so teen Junie weer koppe bymekaar sit vir die volgende Versnit. Matthys Maree is eintlik die spil waarom alles draai want sonder hom is daar nie ’n Versnit nie. Hy moet die vertoning konseptualiseer en aanmekaarsit en dit verg ’n paar maande se werk. Ons het elke jaar tussen 750 en 800 gaste wat kom.
Ons hoor daar word oorweeg om Versnit aan die einde van vanjaar in Nederland te hou. Wat dink jy daarvan?
Ek dink Nederland skep ’n enorme geleentheid om dieselfde boodskap uit te dra en sien baie uit daarna om te sien hoe dit in oorleg met Stef Bos ontwikkel.
Kan jy ’n persoonlike hoogtepunt of twee van Versnit oor die afgelope 13 jaar uitsonder?
Daar was baie, maar ek sal beslis Theuns Jordaan se optrede by sy laaste Versnit uitsonder as een van my hoogtepunte.