Die lewe deel nie gelyke kanse en opsies uit nie, en dit is juis daaroor dat Atterbury Trust ons studiebeursprogram met soveel sorg bestuur… die verhale wat die keuringspaneel aanhoor soos ons die kandidate se aansoeke oorweeg is dikwels hartverskeurend. Maar so hartseer soos dit kan wees, so diep is die vreugde wanneer die hulp wat die beursprogram kan aanbied, ’n lewe help omkeer. Izel Gouws, vandag ’n laerskoolonderwyseres en die ma van vier, deel haar storie van harde lesse en die mag van deursettingsvermoë en genade

Jy het op Vanderbijlpark grootgeword, maar ons verstaan alles het begin verkeerd loop toe jou pa ’n ongelukkige werkskuif gemaak het…

Ons was vyf; ek, my wonderlike ouers en twee boeties.  My pa het by Yskor gewerk, maar toe skuif hy na ’n pos op ’n myn, waar dinge verkeerd geloop het. Sy salaris is nie betaal nie, en ons het vir drie maande nie elektrisiteit gehad nie – ek onthou hoe ons elke dag dennebolle gaan optel het om te kon vuurmaak vir warm water en kosmaak. My pa het ons huis aan familie verhuur en ons gesin het in die garage ingetrek, maar op die ou end was daar geen ander uitkoms nie, en hy het die huis verkoop. Ons het Pretoria toe getrek en by my oupa op die plot gaan woon; dit was moeilik, maar daar was geen ander heenkome nie.

En jy was toe ’n kwesbare, beïnvloedbare 13 jaar oud?

Dis reg, ja. En daar ontmoet ek toe een van my jong oom se vriende. Hy was baie ouer – 19 – en hy het vir my ogies gemaak en my voete onder my uitgeslaan. My ouers het ons met goeie waardes grootgemaak, en my pa het my nogal gewaarsku om weg te bly van hom af, en dat ouer ouens “net een ding” soek. Maar ek was jonk en smoorverlief… My pa was natuurlik reg en die ou wou mettertyd meer en meer hê, en op die ou end het ek ingegee, want ek het naïef geglo dat ons eendag sal trou.

En toe raak ek swanger. Ek was in Graad 7 en het pas my laerskool-afskeid gehad. Wat ’n nagmerrie. My pa was verskriklik ontsteld en het my herinner aan sy waarskuwing teen die ouer ou, maar wonderlike mens wat hy is, het hy my oor my kop gevryf en gesê, “Moenie worry nie, my kind, ons sal ’n plan maak.”

So daar word jy toe ma op 13?

Ja, maar eers het die maatskaplike werker my in ’n tehuis vir swanger meisies geplaas, waar ek my swangerskap deurgebring het terwyl my skoolmaats hul hoërskoolontgroening ervaar het; iets waarna ek so uitgesien het… Ek mag net naweke huis toe gegaan het na my ouers en boeties toe.

My dogtertjie is op 7 Junie 2005 gebore – en danksy my liewe ouers wat die nodige regstappe gedoen het om haar in hulle pleegsorg te plaas, kon sy saam met my huistoe gaan. Ek het nie genoeg woorde om my dankbaarheid teenoor my ouers en God te beskryf nie.

Ek is in die helfte van Graad 8 terug gewone skool toe en dit was soms baie moeilik. My een maatjie se ma het gesê sy mag nie meer met my speel nie omdat ek ’n slegte invloed sou wees. Ek is beskinder en sleggesê, ouens het gedink ek is “maklik” en wou kanse vat, daar was vuil kyke en mense wat my veroordeel het…

Dit was ’n groot uitdaging om beide skoolkind en mamma te wees.  My ouers het my ten volle ondersteun, maar het ook seker gemaak dat ek my plig as ouer nakom, en die baba voed, bad en genoeg met haar speel.

Waar was die baba se pa deur dit alles?

Hy het verdwyn terwyl ek swanger was, en ’n week ná haar geboorte het hy kontak gemaak. Hy het maar gekom en gegaan en toe sy drie was, het hy finaal verdwyn. Toe sy verlede jaar op 14 vra om haar pa te ontmoet, het ek hom na al die jare vir die eerste keer weer gesien. Dit het haar nuuskierigheid bevredig, maar hy is nie standvastig nie, so hy speel geen verdere rol nie.

Die tienerswangerskap was ook nie al beproewing op jou pad nie?

Ek is as kind gemolesteer; onder andere deur ’n hoërskoolseun wat tydelik by ons gebly het toe ek agt jaar oud was, en later deur my bloed-oom, toe ek 15 was. Daar was nog ander, maar dis nie iets waaroor ek tob nie. My ouers het my gelukkig in elke geval ondersteun toe dit aan die lig gekom het, maar my vertroue in my medemens het beslis ’n knou gekry.

Op watter punt het dinge vir jou omgedraai?

In 2009 het ek gematrikuleer, en in dieselfde jaar my man ontmoet. Ek was 17, en dit was so ’n verligting toe hy nie weghol toe ek hom vertel dat ek ’n mamma is nie! Ons het in 2010 besluit om te trou, en oor die loop van die volgende agt jaar is ons geseën met ’n seuntjie en twee dogtertjies, wat nou nege, vier en twee jaar oud is. My man en ek is 12 jaar later nog gelukkig saam, 10 jaar getroud!

Jy was ook vasbeslote om jou as onderwyseres te kwalifiseer?

Ja, ek het op 23 begin onderwys swot, en in 2019 my graad gevang. In my eerstejaar het ek my prakties by Laerskool Generaal Nicolaas Smit kom doen –wat ’n seëning! Ek het ’n ander onderwyser afgelos, en dit het so goed gegaan dat hulle my as assistant aangestel het. In my tweede jaar het die skool ’n Graad RR-onnie nodig gehad, en ek het die pos gekry, en ’n paar maande later is ek aangestel as ’n Graad R-onderwyser. Ek het dus voltyds gewerk terwyl ek geswot het, my kinders emosioneel en finansieel ondersteun en moes tussen alles deur ook tyd maak vir my man. Dit was nie ’n maklike pad nie, maar God se genade het my deur alles gedra.

Hoe het jou paaie met Atterbury Trust s’n gekruis?

Na my eerstejaar was my studierekening met R21 000 agter, en ek sou moes opskop omdat ek dit bloot nie kon bybring nie. Toe steek ek my trots in my sak en gaan vra die skoolhoof, Mnr Sealie, vir hulp. Hy het my aan Atterbury Trust voorgestel, en so kry ek toe ’n studielening wat nie net die agterstallige gelde betaal het nie, maar die volle vier-jaar graadkursus. Daar het ek gedink ek seil alleen in die boot, maar God het voorsiening getref. Atterbury het my nie net finansieël ondersteun nie, maar het soos familie geword. Ons is steeds gereeld in kontak.

Jy werk ook steeds by Generaal Nicolaas Smit, reg?

Ja, na my studies is ek hier aangestel as ’n Graad 1 onderwyser, en die plan is om mettertyd nog verder te studeer. Ek is so dankbaar, eerstens omdat werk so skaars is, maar ook omdat Mnr Sealie die waardes verkondig wat vir my belangrik is, naamlik “everybody is a somebody”. Ek glo, nes hy, dat jy vir niemand anders as die Here werk nie; en dat ons onsself moet slyp soos ’n diamant om eendag die aflosstokkie by die ouer onderwysers te kan oorneem. Ons is ’n span wat saamstaan by die skool en mekaar ondersteun met alle uitdagings. Ek was op ’n tyd die enigste broodwinner wat vir my gesin en ook my ouers moes voorsien. Dit het swaar gegaan en ek het weer gedink ek is alleen in die bootjie. Tot ek eendag baie moedeloos was, en een van my kollegas het twee en twee bymekaargesit en voor ek geweet het, was daar skoolklere vir my dogters, en ’n kospakkie en geskenkbewys vir vleis. Ek besef hoe bevoorreg ek is om by hierdie skool te werk saam met sulke wonderlike kollegas.

En wat is jou boodskap vandag vir ander jongmense wat dit dalk nie maklik het nie?

Moeilike omstandighede voel dalk vir jou dat geluk nie vir jou beskore is nie, maar onthou, “everybody is a somebody”. Moenie dat negatiewe kommentaar jou ooit in ’n afgrond druk nie. God glo in elkeen van ons en daarom moet ons in onsself glo. Omring jou met gelowige en positiewe mense, sodat jy gelowig en positief bly. Baie mag jou dalk afskryf, en openlik slegsê, maar jy kan elkeen verkeerd bewys.

As mense my vra hoe ek dit kon doen – skool klaarmaak as ’n mamma, my studies voltooi met vier kinders, ’n man en ’n huis, en ’n beroep volg, kom my antwoord uit my hart. Ek kon al hierdie dinge net deur God se genade bereik, en ek voel soos een van sy oogappels. Daar is baie goeie mense daar buite wat wil, en kan help, en  ek is geweldig dankbaar daarvoor.

Daar is soveel jongmense met die deursettingsvermoë en dryfkrag om ’n verskil in die wêreld te maak, maar nie die finansiële vermoëns het om verder te studeer nie. Deur by te dra tot die Atterbury Trust beursfonds, help jy ons om deure oop te maak vir talentvolle mense soos Izel. Kliek hier om meer uit te vind oor hoe jy kan help om ’n nuwe generasie te bemagtig.