Alumni soos Dani Viljoen is die rede hoekom dit so ’n plesier is om betrokke te wees by die Atterbury Trust se beursfonds. Hier is ’n jongman wat op 28 reeds sy merk maak en as geoktrooïeerde rekenmeester ’n onderneming begin het wat maatskappye help om hul opleidingsmetodiek te transformeer met nuwe tegnologieë.
Vertel ons bietjie van jou agtergrond en jou persoonlike omstandighede
Ek het grootgeword op ’n plaas in die Groblersdal area, en het onlangs verhuis na Kloof in Kwa-Zulu Natal. Ek het in 2012 my Honneurs-graad in BCom Rekeningkundige Wetenskappe by Tukkies behaal, asook my “Certificate in the Theory of Accounting” of CTA. Ek het my klerkskap in 2013 by KPMG begin en einde 2015 as GR(SA) geregistreer by SAICA.
Ek het ook in 2016 verder gestudeer en ’n diploma in Finansiële Beplanning verwerf, deur die Universiteit van Vrystaat.
Ek is getroud met my wonderlike vrou, Carolyn, ’n tandarts. Ons verwag ons eerste baba einde Mei. Ek is die jongste van drie broers, en my ma gee tans nog skool aan laerskoolkinders naby Marble Hall.
En waar bevind jy jou vandag professioneel?
My dagtaak draai tans rondom die bestuur van my besigheid (Insight Online, https://www.insightonline.solutions/. Ons help organisasies om hul tradisionele opleidings-model te transformeer na ’n digitale oplossing, met die hulp van “Online Learning” tegnologie, digitale inhoud-ontwikkeling en adviserende dienste. Ons help organisies ook met sake-analise, deur data te analiseer met analitiese hulpmiddels, waarmee ons kan insig gee in die organisaise se prosesse, beleide en sakemodel om sodoende beter sakebesluite te kan neem.
Ons hoor jy het die besigheid reeds gedurende jou klerkskap op die been gebring. Vertel ons meer daarvan?
Dit is korrek. Gedurende my eerste klerkskap jaar (2013), het ek aangebly by die universiteit om ’n akademiese klerkskapjaar te voltooi. Die geleentheid om aan die ander kant van die klas te staan en vir ’n groep van 600 studente klas te gee, het ‘n heeltemal ander tipe ervaring vir my oopgesluit. Dit is hier waar ek besef het dat daar soms ’n baie groot gaping is in die manier hoe studente leer, en wat hul op die ou einde van die dag verstaan. Hierdie gaping het ek en ’n paar kollegas, gesien as ’n geleentheid om besigheid te begin waar ons “werksplek-scenarios” met animasies ontwikkel het en dit aan die universiteite begin verkoop het. Op daardie tydstip was die fokus meer op “digitale inhoud”, en nie so seer rondom die manier om dit by gebruikers uit te kry nie. Dit het my meer gelei na die wêreld van aanlyn leer (online learning), wat tot die ontstaan van die huidige besigheid gelei het. Ek het dus regdeur my klerkskap ’n side hustle gehad wat my baie besig gehou het, en wat my kop meer en meer in ‘n entrepreneurskaprigting eerder as ’n korporatiewe loopbaan laat gaan het. Die interressante ervaring vir my is wel dat die twee hand-aan-hand loop. As ’n entrepreneur moet jy verstaan hoe korporatiewe mense dink en besluite neem, aangesien hul in baie gevalle op die ou end die kliënt is. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat vir my oopgegaan het om iets soos dié te ontwikkel terwyl ek ‘n vaste werk gehad het, aangesien ek kon leer en my foute maak terwyl ek die vastigheid van ‘n maandelikse salaris gehad het.
Hoe het jy destyds by Atterbury Trust se beursprogram uitgekom?
Onderwysers by my alma mater, Hoërskool Ben Viljoen, het te hore gekom van Atterbury se beursprogram, en het op grond van meriete en nood leerders genomineer om meer uit te vind van die geleentheid. Dit was ‘n wonderwerk op daardie tydstip, en ‘n aangename proses van begin tot einde (ek het destyds tydens my beursonderhoud in 2008, selfs met Johan Roets se handtekening daar weggestap, ‘n sport-rolmodel vir my in daardie dae).
Vir hoe lank het jy die beurs gehad?
Ek was ongelooflik geseënd om die beurs vir die volle tydperk van my studies te hê, vanaf 2009 – 2012.
Wat het die beurs vir jou beteken? Wat sou jy sonder die beurs gedoen het?
Die beurs op daardie tydstip was ’n antwoord op my gebed. Ek het altyd geweet wat ek wou studeer en waar ek wou opeindig, maar die finansies was altyd ’n struikelblok. In ’n oogwink kon ek my fokus verplaas op eindeksamens en swot, sonder om verdere opsies te probeer soek. My plan B sou altyd wees om aan nog deure te klop – die droom was net te groot om dit prys te gee! Ek onthou tot vandag toe my gebed – dit was basies net dat ek my kant 100% sou bring as God vir my die geleentheid sou gun om dit te kan doen. Die beurs was die geleentheid, en hier staan ons vandag.
So jy wou van kleinsaf ’n rekenmeester word?
Ek het vanaf Graad 8 ’n groot liefde vir Rekeningkunde ontwikkel, en het toe alreeds besluit dat dit die rigting sou wees wat ek sou aanpak. Min het ek geweet van al die opsies en breë spektrum wat saam met die GR(SA) professie sou kom. Ek sal dit so stel dat ek nie van kleinsaf geweet het dat ek ‘n GR wou wees nie, maar dat my liefde vir Rekeningkunde my op hierdie pad gebring het.
As jy terugdink aan jou studentejare, watter herinnering laat jou die grootste glimlag? Wat mis jy omtrent jou jare op kampus?
Ek was vanaf 2009 tot 2011 in Mopanie koshuis en die tye daar is onmoontlik om in woorde te beskryf. Dit was van my beste jare met die meeste herinneringe en vriendskappe wat ek kon vorm. Ek mis hierdie besige jare, waar mens betrokke was met alles op gebiede soos sport, kultuur, sosiale geleenthede, studies, vriendskappe, tradisies en nog meer. Soveel plesiere in soveel kort jare!
Atterbury se alumni is so ’n belangrike deel van die sirkel van mense help en jongmense ’n trappie op gee in die lewe – hoe voel jy oor jou rol in daardie verband?
Ek voel dat alumni ‘n baie belangrike rol kan speel vanuit ‘n “lessons learned” perspektief. Goeie raad wat beland op goeie ore is ’n eksponensiële aanvuller tot sukses. Vir my persoonlik is dit ’n area waar ek meer en meer betrokke wil raak, en is ek reeds besig om geleenthede te ondersoek saam met Zahn en haar span om elemente soos hierdie moontlik te maak. Baie keer is die oplossing slegs om die kommunikasiekanaal tussen jongmense en alumni meer effektief te maak – die res word dan self vermag deur die konneksie.
Die Trust steun ook heeltemal op die skenkings van goedgunstige borge. As jy vir voornemende borge ’n boodskap kon oordra, wat sou jy vir hulle sê?
Eerstens wil ek my dank uitspreek aan almal wat nou en in die verlede skenkings vir die Trust se beursfonds gemaak het. Dit het reeds die projeksie van my lewe beduidend verander, en so ook dié wat saam my die geleentheid kon kry. My boodskap sal draai rondom drie punte:
- Ek voel dat daar meer as genoeg uitstaande voorbeelde is van uitsette vanuit die Atterbury beursprogram. As mens die opbrengs op die belegging sou meet van die finansiële skenking wat gemaak is in een student, teenoor die toekomstige kontantvloeie wat uit een gemiddelde beursstudent se lewe geproduseer word, dan sal die somme reeds die besluit regverdig. Meer as dit egter is die kwalitatiewe opbrengste wat oopgesluit word vanuit so ’n belegging – dit plaas die beurskandidaat se lewe op ’n heeltemal nuwe skaal, een waar geleenthede moontlik is en een waar die kandidaat in beheer is van sy of haar lewe.
- Ek glo in ’n model wat reeds bewys is en waar die lesse reeds geleer is. Wat ek hiermee bedoel is dat daar baie goedhartige mense is wat baie graag skenkings aan opvoedings-programme wil maak, maar dan op hul eie nuwe initiatiewe begin wat oor tyd minder effektief raak weens struikelblokke van watter aard ookal. Die kennis van hoe om so ’n beursfonds effektief te bestuur is net nie in plek nie, en as dit breek gaan baie hulpbronne verlore. Atterbury Trust het oor die jare sy model geslyp, en sit dus met ’n model wat effektief werk en op die beste moontlike struktuur opgestel is. Elke rand wat dus aan hulle geskenk word, het ’n groter trefkoers wat op die ou end deurvloei na die uitsette toe. My voorstel is dus om nie die wiel te herontwerp nie, maar eerder die huidige voertuig te versterk wat na dieselfde doelwit toe jaag.
- My laaste punt draai rondom elke mens se algemene verbintenis om goed te wil doen, byvoorbeeld die verbintenis om ’n tiende van jou inkomste te skenk. Baie mense, en in daardie geval ook organisasies, voel dat hul “eendag” goed sal doen en ’n tiende sal gee wanneer hul in ’n posisie is om dit te doen. My argument is dat wanneer jy voel jy kan nie R1 afstaan van jou R10 nie, hoe gaan hierdie posisie verander die dag wanneer jy R1 miljoen het? Gaan jy dan voel dat jy R100 000 kan weggee? Maak dus vandag die besluit om die verbintenis te eerbied, anders gaan jy nooit nie! As jou organisasie dus wik en weeg om ’n skenking te maak, neem die tree vorentoe en sien hoe maak dit ’n verskil.
Waar sien jy jouself oor 10 jaar – wat is jou toekomsdroom in jou beroep?
My toekomsdroom is om my huidige maatskappy uit te brei en ’n industrie-leier te wees in die oplossings wat ons bied aan ons kliënte. Daarmee saam is die droom dat die maatskappy ’n doel vervul wat volhoubaar is en wat ’n impak maak in ons samelewing. Ek sien myself oor 10 jaar as ’n betroubare besigheidsvennoot vir my kollegas en kliënte, as ’n betrokke vader en man vir my gesin, en ’n betrokke individu in my nabye kringe en organisasies.
Ons kon dit nie beter as Dani gestel het nie. As jy wil bydra, kliek hier en verander ’n jongmense se lewe. Vir jou skenkings kry jy ’n belasting-sertifikaat.