Werner du Preez van Centurion voltooi die driemanskap van Atterbury beursprogram se eerste gekwalifiseerde mediese dokters wat 2016 die arbeidsmark betree. Hy is vanjaar met sy huisdokterjaar besig by Kalafong Hospitaal.
Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom, en hoe lank was jy een van ons beursstudente?
Ek was in dieselfde eerstejaarklas as Lané Dorman, wat toe reeds ‘n Atterburybeurs gehad het, maar ek was op my eie onkoste daar. Na die eerste jaar het ek besef ek sal dit nie kan bekostig sonder hulp nie. Lané het my toe vertel van Atterbury en ek het aansoek gedoen. Ek was gelukkig om aanvaar te word, so van my tweede jaar tot ek verlede jaar graad gevang het, was ek deel van die beursprogram.
Wou jy van kleinsaf ‘n dokter geword het?
Nee, definitief nie… ek het nog in Graad 12 omgekap as ek bloed sien! Ek het gereken ek sal ‘n prokureur word, maar op die ou end het dit net nie gevoel na die regte beroep vir my nie. My punte het half gewys in die rigting van medies, maar ek was nie seker nie, so toe het ek die jaar na matriek in Unitas Hospitaal gaan werk om ‘n gevoel te kry. Ek het by die patoloë gewerk en het gedink ek sal maar net algemene werkies doen soos skoonmaak en bloedmonsters ronddra.
Maar op die eerste dag al het hulle gesê hulle sal my liewer oplei, omdat ek my andersins sou doodverveel. So daar beland ek wat omgekap het as my bloed getrek word, in die patologie-departement van ‘n hospitaal waar ek self leer bloed trek – hoe ironies! My bene het maar gebewe daai eerste dag en ek het nie gedink ek gaan dit maak nie, maar voor ek my kom kry, was die eerste week verby, en ek het gewoond geraak soos hulle gesê het! Na die jaar by hulle het ek by Tukkies aansoek gedoen vir medies en is eers nie gekeur nie, so toe skryf ek in vir BSc met dieselfde vakke.
Na ses maande is my punte hersien en ek is toegelaat om oor te skuif medies toe. Ek het ook by die patoloë aangebly vir deeltydse studentewerk, en het sodoende darem ‘n klein inkomste gehad.
Mis jy enigiets omtrent studentwees?
Die korter dae, partykeer, en die feit dat jy nie regtig enige verantwoordelikheid het nie, partykeer! Maar aan die ander kant is dit lekker om nou volwaardig dokter te wees en te weet jy maak ‘n verskil, want as student het jy soms gevoel dit maak nie regtig saak of jy daar is of nie. En ek mis beslis nie die toetse nie – as mens die hele dag in die hospitaal op jou voete was, is die laaste ding waarvoor jy lus is om te gaan deurnag swot vir ‘n toets…
Wat behels jou huisdokterjaar?
Ek het in Januarie by Kalafong begin in die obstetrie-ginekologie afdeling. Dis ‘n geweldige besige staatshospitaal, en ons sien die hoë-risikopasiënte. So in die kort tyd wat ek daar is, het ek al self reeds ses of sewe keisersneë alleen behartig, van begin tot einde. Einde Mei gaan ek pediatrie toe vir 3 maande, dan interne medisyne, en dan volgende jaar, in my tweede jaar, volg die res van die dissiplines.
Dokters sien die ergste dinge. Watter dag sal jy nooit weer wil oorhê nie?
Dis ook nogal ironies, aangesien ek nou al so baie babas gevang het, maar my eerste kraam-ervaring was nogal erg! Ons is in my derde jaar geneem op ‘n dagbesoek aan Tembisa Hospitaal se kraamafdeling, en toe ons in die saal inloop was daar ‘n vrou wat alleen aan die kraam was – daar was nie genoeg personeel in die hospitaal om almal te help nie. Die baba was op pad uit en ons moes net daar inspring en help! Dit was nogal oorweldigend vir ‘n derdejaar.
En is daar ‘n dag wat jou sal bybly omdat jy so baie geleer het?
Dis ‘n aanhoudende leerproses. Ek dink mens besef jy moet maar net bereid wees om te help, en dat vaardigheid met tyd kom. As jy jou graad kry, voel jy soms bang jy stap daar uit en weet nie wat jy doen nie. Maar dan vra jy maar hulp as jy onseker is, en jy leer elke dag iets nuuts. Soos vandag byvoorbeeld – ons is besig met ‘n kursus oor obstetriese ongevalle, en ek het vandag geleer hoe om die toerusting te gebruik om ‘n baba uit die geboortekanaal te help.
Wat hou die toekoms in vir Dokter Du Preez?
Wel, ek het nou my twee huisdokterjare waarin ek al die dissiplines sal leer. Dan hoop ek om my gemeenskapsjaar in ‘n psigiatriese hospitaal te doen. Die brein en al sy geheime het my nog altyd geïnteresseer… wat aanleiding gee tot ons dade en ons denke en hoe dit jou gesondheid beïnvloed. Ek dink ek het ‘n gevoel vir mense, ek kommunikeer maklik en hulle praat maklik met my, so ek sal graag in psigiatrie wil spesialiseer.
As jy hoor “Dr Du Preez na ongevalle!” wat hoop jy om daar aan te tref?
Wel, as dit ongevalle is, is dit nooit goeie nuus nie, maar ek sal eerder ‘n psigiatriese geval as ‘n traumageval aantref. Party dokters geniet die “rush” wat saamgaan met die behandeling van trauma, maar ek sal dit meer interessant vind om te probeer uitwerk wat die situasie met ‘n psigiatriese pasiënt is.