Dis byna-byna tyd vir die groot finale van Atterbury Trust Acappella 2024, en min mense sien so baie uit soos die sêr-afrigter MJ Nel. Die sanger, liedjieskrywer, vervaardiger en multi-instrumentalis is nou betrokke by vanjaar se kompetisie, en vertel meer oor sy liefde vir dié unieke kunsvorm.

Waar kom jou liefde vir musiek, en spesifiek sêr vandaan, en waarmee is jy alles betrokke in hierdie sfeer?
My lewe in hierdie bedryf het vlamgevat in 2017 toe ek die eerste keer op ’n sêr-verhoog geklim het om voor ’n gehoor op te tree. Van daar af het die obsessie met musiek en sêr net vergroot met elke optrede en elke liedjie. Vir die afgelope agt jaar hou ek myself onafhanklik besig met ’n magdom musikale projekte en produksies. In 2023 het my self-geskrewe album “Obsessief” uitgekom – my debuut as solo-kunstenaar! Dit was ’n ambisieuse projek wat my lewe verander het, nie net danksy die liedjies se sukses nie, maar ook omdat dit bewys het dat dit moontlik is om so groot droom ’n werklikheid te maak. Onlangs het ek ook een van die bekendste en mees hoë-gehalte ateljees in Suid Afrika oorgeneem en beoog om die wêreld van musiekskepping oop te kloof soos nooit tevore nie.

Hoe het jy by Atterbury Trust Acapella betrokke geraak?
Nadat ek in 2023 saam met Kasteel Dameskoshuis die eerste Atterbury Acappella kompetisie gewen het, was my naam as sêr-verwerker en -afrigter skielik in die openbare oog. Toe Atterbury Trust my kontak vir die 2024 kompetisie het ek nie gehuiwer nie. Wat ’n enorme voorreg.

Wat beteken die ondersteuning van ’n ankerborg soos Atterbury Trust vir ’n kompetisie van hierdie aard?
Ek en my mede sêr-mense probeer al vir soveel jare om ’n nasionale verhoog te kry om hierdie wonderlike genre ten toon te stel vir almal om te sien. Die “missing links” was ’n privaat-organisasie wat dit sou lei, en ’n verhoog waar ons kon optree wat groot genoeg is om die gewig van hierdie genre te kan hanteer. En nou met Atterbury Trust het ons die perfekte vennootskap gekry.

Ons hoor die Atterbury Teater is baie gewild onder die studente – hoekom dink jy is dit so?
Vir studente is daar twee dinge wat saakmaak as dit by so iets kom; is dit cool en is dit bekostigbaar? En hier is dit ja en ja –  Atterbury Teater bied van die mees relevante optredes vir jong mense vandag aan, teen billike pryse.

Hoe is die kompetisie vanjaar anders?
Ons wou groter as ooit gaan en meer geleenthede bied vir die publiek om die studente se ongelooflike sangtalent self te beleef. Daar is ook die belangrike sosiale komponent van sêr-kultuur wat in ag geneem moet word. Sêr-mense is lekker mense wat graag sosiaal verkeer en graag vir mekaar sing. Daarom het ons besluit om ’n ekstra geleentheid te skep waar die top groepe wat deurgedring het kan optree, en dit gebeur nou op 29 Augustus by The Club. Die publiek is ook welkom om kaartjies te koop en te kom kyk na hierdie spontane optredes.

Watter koshuise het almal deurgedring na die finaal in die Atterbury Teater op 30 Augustus?
Die top 10 is soos volg:
Madelief
Dregeana
House Mopane
House Ukuthula
Sonop
Bellatrix
Kasteel
Veritas
Patria
Dagbreek

Wat is die formaat van die finaal, en wat kry die wenners?
Die reëls van die kompetisie is volgens die algemene standaard van sêr op universiteitskampusse, maar omdat ons hierdie jaar dubbel soveel groepe genooi het as verlede jaar is daar tydsbeperkings op elke optrede. Waar groepe gewoonlik 15 tot 20 minute kry, het hulle hier 10 tot 15 minute, sodat al 10 groepe kan optree sonder dat die geheel te lank raak. Ons het ook gekies om dit vanjaar oop te maak vir enige groep om te kan deurdring, en nie net deelname by uitnodiging nie.

Wat het julle geleer uit die eerste Atterbury Trust Acapella van 2023?
Ons het besef die belangstelling van groepe en aanhangers is baie groter as verwag en vandaar die besluite dat groepe self kan inskryf en ook dat daar ’n ekstra optrede sal wees op die 29ste om meer mense te bereik.

Wat is jou droom vir hierdie kompetisie?
Ek hoop dat ons hiermee een van die mees unieke kunsvorms ter wêreld opnuut in die kalklig sal sit sodat hierdie talentvolle jong mense harte oral in die wêreld kan aanraak.

Kry kaartjies vir die Top 10 se optredes op 29 Augustus by The Club se straatmark teen R30, en op 30 Augustus by Fairtree Atterbury Teater teen R200, waar die wenner van Atterbury Acappella 2024 aangekondig sal word, by seatme.co.za.