Stel net voor jy moes jou pad vind op ‘n vreemde kampus, en jy kon nie sien nie … Ons is totaal geinspireer deur 23-jarige Anel Coetzee, Atterbury se eerste blinde beursstudent, wat met haar gidshond, Luca, vir geen uitdaging skrik nie. Haar storie sal jou met ander oë na die lewe laat kyk…
Hoe het jy van die Atterbury beurs te hore gekom?
Ek is geseën met ‘n wonderlike ouma. Sy is altyd besig om vir my rond te kyk vir beurse en ander mense wat my kan help. Sy het laasjaar van die Atterbury beurs gelees en my aangemoedig om aansoek te doen.
Jy is Atterbury se eerste blinde beurshouer so jy het besonderse uitdagings. Staan een van hulle vir jou uit?
Ek dink my grootste uitdaging as ‘n ontvanger van die beurs is om hard te werk en my beste te gee.
Jy studeer is Bloemfontein en nie in Pretoria waar jy grootgeword het en waar jou familie woon nie. Hoekom het jy daardie besluit geneem?
Pretoria is ‘n groot plek. Toe ek begin studeer het, het ek nog met ‘n wit kierie geloop en ek was nie seker of ek so onafhanklik gaan kon wees soos wat ek graag sou wou wees nie. Ek het toe Bloemfontein gekies omdat die kampus baie goed uitgelê is en ook omdat ek op ‘n nuwe plek wou oorbegin. Terwyl ek grootgeword het, was dit altyd baie maklik om net gou vir iemand te vra om dinge vir my te doen en ek wou sien wat ek vir myself kan doen. Daar is ‘n tyd in elke mens se lewe wat jy uit jou gemaksone moet tree en uitvind wie jy is en waartoe alles jy in staat is. Vir my was om weg van die huis af te studeer die eerste tree in daardie rigting.
En hoekom regte – wou jy nog altyd ‘n regsgeleerde wees?
Ek wou nie nog altyd regte gaan studeer het nie, nee. Eers in my eerste jaar op universiteit, omdat ek nie geweet het wat anders nie, het ek begin regte studeer. Aan die einde van daardie jaar het ek geweet dat dit die regte besluit was. Ek geniet elke oomblik, dis ‘n uitdaging, en dit bied my ‘n kans om wanneer ek klaar is ‘n verskil in ander se lewens te kan gaan maak. Hopelik kan ek eendag ‘n verskil in gestremde mense se lewens maak sodat hulle nie dieselfde struikelblokke het as wat ons nou moet oorkom nie.
Toe jy klein was, wat wou jy “eendag” word?
Ek wou klavier speel en sing.
Vertel ons ‘n bietjie meer oor jou agtergrond.
My ma is ‘n onderwys-spesialis en my pa het sy eie stoffering-onderneming. Ek het een ouer en een jonger suster. Ek is blind gebore nadat my ma met masels in aanraking was toe sy swanger was. Ek het dit nie regtig besef terwyl ek grootgeword het nie, maar my familie was my redding. My ouers het my nooit anders behandel as my susters nie. Ek moes ook my bed opmaak in die oggend en skottelgoed was. Ek was in die moeilikheid as ek stout was en ek is altyd aangemoedig om my beste te gee en groot te droom. My susters het my saam met hulle laat balspeel en ek was in kleuterskole saam met kinders wat kon sien. Ek dink nie ek het besef dat ek eintlik anders as ander mense was tot ek skool toe gegaan het nie. Ek was in Prinshofskool, ‘n skool vir gesiggestremde kinders in Pretoria. Die onderwysers daar was fantasties. Ons het dieselfde program as alle ander skole gevolg en dieselfde matriek geskryf. Alles was net in braille. Na 13 jaar daar was ek gereed vir die “grootmens” wêreld. Ek het besluit om by die universiteit van die Vrystaat te kom studeer.
Hoe lank is jy nou al daar?
Vier jaar, en elke dag is nogsteeds ‘n uitdaging. Ek het vir twee jaar in ‘n koshuis op kampus gebly en met ‘n kierie geloop. My kamermaat het my begin leer waar al die plekke op kampus is, en ek het baie verdwaal. Dis waar ek die meeste van myself geleer het. Na twee jaar was ek moeg daarvoor om in goed vas te loop, te val en ook vir mense wat met my praat of ek doof of verstandelik gestremd is…
En toe kry jy ‘n gidshond, reg?
Ek wou nog altyd een gehad het, so toe doen ek aansoek by die South African Guide Dog Association in Johannesburg. Die honde word vir die eerste jaar van hulle lewens deur “puppy walkers” grootgemaak. Dit is families wat aanbied om die honde die eerste belangrike dinge te leer. Hulle word na kerke, winkels, parke ensomeer geneem om aan alle situasies blootgestel te word. Hulle word ook die basiese dinge soos “sit and stay” geleer. Hulle word hoofsaaklik in Engels opgelei. Wanneer hulle ongeveer een jaar oud is, begin hulle formele opleiding en daarna word hulle met ‘n blinde person gepas en ons kry twee tot drie weke se opleiding saam met die honde. Ek het vir Luca gekry.
Het hy jou lewe verander?
Ja! Luca is een van die beste goed wat nog met my gebeur het. Hy is ‘n golden retriever en hy is nou drie en ‘n half jaar oud. Hy vat my oral waar ek wil gaan, solank ek die pad ken en vir hom sê waarheen om te gaan. Hy stop by trappe en ek het vandat ek hom het nog nie in een enkele ding vas geloop nie! Hy is altyd reg om te werk, sy stert waai altyd en hy is altyd reg om gevryf te word deur enige-een wat gewillig lyk. As mense ons sien, trek Luca gewoonlik al hul aandag van my af en hulle vergeet dat ek blind is – vir daardie oomblik is ek net ‘n mens met ‘n baie oulike hond!
En jy woon nie meer in ‘n koshuis nie?
Nee, ek bly nou in ‘n studentehuis van kampus af saam met ‘n paar ander studente. Ek studeer nie meer in braille nie, maar gebruik ‘n rekenaar met ‘n spraakprogram wat alles wat in woorde op die skerm verskyn vir my lees. Vakansies vat ek en Luca die bus terug na Pretoria – ek dink dis sy gunsteling plek. Wanneer hy nie swem nie, speel hy met ‘n tennisbal en hy blaf baie; iets wat hy nie mag doen terwyl ons werk nie. Ek aan die anderkant lees boeke en kuier by my familie en vriende.
Wat geniet jy die meeste van studentelewe?
Daar is baie waarvan ek hou. Ek kan slaap tot ten minste nege-uur in die oggend, hier is altyd iemand wat lus is vir gesels, ek ontmoet elke dag nuwe mense, en ook mense met ander gestremdhede. My vakansies is langer as wat skoolvakansies was en anders as in die skool, leer ek nou van goed wat my interesseer.
Wat was vir jou die grootste aanpassing tussen hoërskool en universiteit?
Ek moes vir myself begin kosmaak en my eie wasgoed doen. Ek mis nog steeds my pa se kos, maar wasgoed doen is nou kinderspeletjies. Die universiteit is ook baie groter as wat my skool was en ek moes daaraan gewoond raak om in klasse te wees met 500 studente in plaas van vyf ander kinders.
Hoe kom jy deur die massiewe hoeveelhede navorsing en leeswerk wat jy moet doen as deel van jou kursus? Is vakboeke in Braille beskikbaar of hoe werk dit?
Ek kry al my studiemateriaal in E-text. Ek maak dit as ‘n “word document” oop en “Jaws”, my spraakprogram lees dit vir my. Ek kan ook vir tutors vra en ‘n groot deel van ons biblioteek is elektronies beskikbaar.
Jy’t ons vertel jy huil nie elke oggend vir vyf minute omdat jy blind is nie, maar wat ervaar jy as jou grootste uitdaging?
Anders as in die skool is alles nie gebou en geimplimenteer met gestremde mense in gedagte nie. Partykeer moet ek by draaihekkies ingaan wat heeltemal te klein is vir my en Luca. Goed soos “powerpoint slides” in die klas, kan my spraakprogram nie lees nie so ek is gewoonlik agter al die ander studente omdat ek eers moet wag dat al die studiemateriaal vir my aangepas moet word. Party dosente vergeet van die blinde studente en verwys dan heeltyd na goed op die skerm voor in die klas sonder om dit ook te sê. As dit reën of die wind waai, sukkel ek om by my klasse uit te kom want ek kan nie oor die paaie kom nie.
Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
‘n Kar wat ek heeltemal effektief en sonder om te moet kan sien, kan bestuur.
Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende impak op jou gehad?
Die kommersialisering van die internet in 1990. Voor die internet was navorsing ‘n pyn. Vandag, kan ek alles uitvind wat ek wil weet sonder om iemand wat kan sien te moet smeek om inligting vir my te soek en te lees. Behalwe vir die internet, het die publikasie van E-boeke ‘n impak op my lewe gemaak. Dis makliker om te kry as braille boeke en vinniger om te lees.
Gestel jy kon as huisgas vir ‘n week tuisgaan by enige drie mense in die geskiedenis. Wie sou jy kies?
- Die Minister van Vervoer, Dipuo Peters. Ek wil met hom gesels oor die openbare vervoerstelsel in die land want dis iets wat ‘n probleem is nie net vir gestremde mense nie, maar vir duisende Suid-Afrikaners wat daarvan afhanklik is…
- William P Young; Hy het ‘n boek geskryf wat ek in skool gelees het, en sy opinies en woorde maak vandag nog ‘n impak op my lewe.
- Marilyn Monroe; haar lewe het ‘n tragiese einde gehad, en sy moes baie struikelblokke oorkom, maar sy is vandag nog ‘n rolmodel vir jong meisies. Sy was die inspirasie vir gedigte en sy was ‘n voorbeeld van iemand wat ‘n verskil gemaak het in hoe veral vroue oor hulself dink. Ons almal het iemand nodig wat ons nou en dan herinner dat “ten spyte van alles, is lewe nie sonder hoop nie”.
As jy mense met sig een ding kon leer wat hulle moet weet om blindes te akkommodeer, wat sou dit wees?
My hond is soos ‘n deel van my. Gewoonlik is ek heeltemal afhanklik van hom. Hy is besonders goed opgelei. Die beste manier om my te akkommodeer, is om my hond toe te laat om te gaan waar ek gaan. Soos byvoorbeeld in winkelsentrums. Dit en kommunikasie. Blinde mense probeer so onafhanklik moontelik te wees, en dis gewoonlik nie nodig om drastiese veranderinge te maak sodat dinge meer gemaklik vir ons sal wees nie. So praat met ons. Vra ons vrae, bied hulp aan waar moontlik en behandel ons soos enige ander mens. Ons is net blind.
Indien jy absoluut enige veranderinge by die universiteit kon aanbring om die lewe vir blinde studente makliker te maak, wat sou jy doen?
Ek sou ‘n plek op kampus bou waar dié van ons wat nie gemaklik is in koshuise nie, kon bly. Ons rekenaar-lab waar ons leer en toetse en eksamen skryf is ook veels te klein. As geld nie ‘n faktor was nie, sou ek meer rekenaars aangeskaf het.