5 November 2021

Met wyn en samesyn word teruggeploeg

Tydens die onlangse Liberi kos- en wynsaamsnoergeleentheid met Dewaldt Heyns, Saronsberg se wynmaker, aangebied by Zest Bistro The Club Retail Centre in Hazelwood, Pretoria, is heerlik gekuier met glas en bord. Sowat 50 gaste is getrakteer met smaaklike kombinasies van Saronsberg wyn en kos uit die boonste rakke.

Dit is ’n riem onder die hart om te kan rapporteer dat nie minder nie as R1.5m vir ons voedsel- en werk-inisiatief Terugploeg ingesamel is. Hierdie fondse word aangewend om die Terugploeg verwerkingsfasiliteit verder op te rig.

Saronsberg se Liberi wyn is ook fluks verkoop ten bate van Terugploeg. Soveel so, dat voorraad nou baie beperk is. So as jy ook wil deelneem aan hierdie positiewe poging om minderbevoorregtes van hulp te wees en op die koop toe om ook hierdie besonderse wyn te kan geniet, werk saam en klik op een van die skenking-skakels hier onder, want ons weet jy gee ook om.

Spesiale Saronsberg Liberi Pinotage Reserve (2017) houtkissie met ses bottels wyn

Al die bottels in die spesiale houtkissie is deur wynmaker Dewaldt Heyns en kunstenaar Claudette Schreuders geteken.

Klik hier om te koop: https://atterburytrust.org/shop/spesiale-saronsberg-liberi-pinotage-reserve-2017-houtkissie-met-ses-bottels-wyn/

Saronsberg Liberi Pinotage Reserve (2017), ses bottels per kartonboks

Klik hier om te koop: https://atterburytrust.org/shop/saronsberg-liberi-pinotage-reserve-2017/

Skenk kontant aan Terugploeg: https://atterburytrust.org/shop/terugploeg/

16 September 2021
’n Heerlike Terugploeg-braai vier goeie vordering

Tydens ’n gesellige lente-braai op die perseel van die nuwe Terugploeg hoofkantoor en verwerkingsfasiliteit net buite Pretoria is weldoeners bedank en gaste getrakteer om die vordering met die Terugploeg inisiatief te vier.

Terugploeg se doelwit is om aan minderbevoorregtes geskenkte voedsel en ander items op ’n verantwoordelike en doelmatige wyse uit te deel. Maar dit is nie waar dit eindig nie. Met Terugploeg se leuse van “Hulp wat werk” in gedagte, is ’n verdere doelwit om hulpbehoewendes te ondersteun met werksgeleenthede en soortgelyke aksies, sodat hierdie mense weer met selfvertroue kan opstaan en sodoende hul eie genoegdoening kan geniet.

Vir die Terugploeg inisiatief om selfstandig op die lang termyn lewensvatbaar te bly, is skenkings van weldoeners broodnodig. Ons boere is die land se voedselversekeraars en heelwat van hulle skenk reeds in tonnemaat. Opreg dankie!

Om te verseker dat Terugploeg wel na die volgende rat kan oorskakel, het ons jou hulp net so nodig. Skenk asseblief deur middel van Atterbury Trust se gemaklike e-Handel Donasiewinkel, want ons weet jy hou ook van hulp wat werk.

https://bit.ly/Terugploeg_Donasie

#Terugploeg #HulpWatWerk #AtterburyTrust #OnsGeeOm

 

9 September 2021

‘n Stralende Tatjana en Bianca ontvang hul Spansaam gelde

Tydens ‘n opwindende geleentheid by USN se hoofkantoor op 9 September 2021 is die gelde wat deur middel van Atterbury en USN se skarefinansieringsprojek Spansaam ingesamel is, aan ons Olimpiese medaljewenners Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag, asook hulle afrigters Rocco Meiring en Greg Emslie oorhandig. ‘n Totale bedrag van sowat R1 050 000 is deur middel van Spansaam ingesamel.

Suid-Afrika se nuutste Olimpiese wêreldrekordhouer swemsensasie, Tatjana Schoenmaker, het R400,000 ontvang vir haar goue medalje in die 200m borsslagitem vir vroue en R200,000 vir haar silwer medalje in die 100m borsslag. Bianca Buitendag het R200,000 ontvang vir die silwer medalje wat sy met haar branderplank in Tokio verower het.

Rocco Meiring, Tatjana se afrigter van die afgelope tien jaar, het R150,000 ontvang en Greg Emslie, Bianca se afrigter, R50,000. Die R50,000 surplus word aangewend om ’n sportbeurs aan ’n opkomende atleet toe te staan.

Baie geluk aan die wenners, hul afrigters en die organisasies, maatskappye en individue wat hul harte en sakke oopgemaak het om ons helde te beloon. Wys jou net wat moontlik is as ons almal saamspan.

#Spansaam #OnsSpanSaam #OnsGeeOm

28 Mei 2021
Opbeurende Waardigheidsdag by Triomf Kliniek

Tydens ‘n gesellige, sonnige, vroeg-winter agtermiddig in die pragtige tuin van Triomf Kliniek is die eerste Waardigheidsdag op gepaste wyse gevier. Talle weldoeners, skenkers, vrywilliger-dokters, belangstellendes en mense uit die Pretoria-Wes omgewing het die geselligheid bygewoon om te hoor wat Triomf Kliniek doen en hoe gehelp kan word.

Oor meer as ses jaar verskaf Triomf Kliniek reeds uitnemende sorg met waardigheid. Die geleentheid se doelwit is om eerstens te wys hoe die hulpbehoewende gemeenskap van die area baat vind deur die gratis mediese diens wat verskaf word.

Tweedens is ‘n beroep gedoen om meer weldoeners te betrek by Triomf Kliniek se wonderlike werk van diens en arbeidsaamheid aan ons medemens. Aangesien al die dienste gratis aan behoeftige pasiënte verskaf word, is Triomf Kliniek totaal afhanklik van mense en instansies se skenkings en tyd.

Onder die vaandel van Atterbury Trust word Triomf Kliniek op professionele, verantwoordelike, verantwoordbare en deursigtige wyse bestuur, om só op die regte manier te help om mense wat dit nodig het, met waardigheid van mediese hulp te wees.

As jy wil help, kontak ons asseblief, want ons weet jy gee ook om.

[email protected]

#onsgeeom #waardigheidsdag

12 Mei 2021

Kos vir hart en siel

Terugploeg • Hulp wat werk

Tydens Terugploeg se onlangse kos-uitdeling is letterlik tonne vars vrugte, groente en vleis aan behoeftige mense verskaf. ’n Reuse totaal van amper 50 000 maaltye kon uit hierdie besending voorberei word.

Skenkers soos Mahela Boerdery, ZZ2, CPJ Erasmus & Seun Boerdery, Miami Canners en Armond Boshoff het met ope harte geskenk terwyl Fritskroon Transport en Vibro Bricks die groot hoeveelheid produkte vervoer het.

Die volgende organisasies het baat gevind: Wespoort, Kefilwe Thusano, Qumi Homes, Die Mossie Projek – Laerskool Anton van Wouw, Die Dam, Louis Botha Kinderhuis, NG Jan Niemandpark en Tygerpoort, SA Cares for Life en Huis Silversig, sowel as kinderhuise in Brakpan en Springs.

Behalwe vir die broodnodige voedsel, is hierdie slag ook nie-bederfbare kos

asook persoonlike higiëne produkte met welwillendheid geskenk en uitgedeel.

En dít, liewe vriende, is mos kos vir die siel.

8 Maart 2021
Kuns, wyn, en welwillendheid
Die @EskortFood Liberi Atterbury Trust in welwillendheidsprojek het die naweek afgeskop by @SaronsbergCellar en 1 500 kissies van 6 bottels baie spesiale Pinotage 2017 Reserve is nou beskikbaar teen R1 180 per kissie, ten bate van #Terugploeg. Bestel by Donasiewinkel: https://atterburytrust.org/…/saronsberg-liber-pinotage…/
(Hou ook dié spasie dop vir die spesiale versamelaarskis geteken deur wynmaker Dewald Heyns en die kunstenaar agter die lieflike etikette, Claudette Schreuder.) #OnsGeeOM #HulpWatWerk
17 November 2021

Terugploeg se hulp wat werk

Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met mediavennoot GrootFM 90.5 in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur verskeie kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon.

Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes.