As jong student weet meeste van ons maar bitter min van finansiële beplanning, en kennershulp is nie altyd maklik bekombaar nie. Maar gelukkig het Atterbury ’n netwerk van kenners wat skrik vir niks – mense soos beleggingsbestuurder Renier Holtzhausen van Anchor Capital, wat al twee werkswinkels vir Atterbury Trustbeursstudente aangebied het. Ons het met Renier gesels oor die belangrikheid van assosiasie.
Vertel ons meer van jou assosiasie met Atterbury en waar die idee vir die werkswinkels vandaan gekom het.
Sedert skooljare stap ek ’n pad saam met ’n paar van die Atterbury-mense en ons ken mekaar goed. So ’n jaar gelede het ek ’n behoefte onder werkende jongmense raakgesien oor basiese finansiële dinge soos hoe jongmense moet begin spaar. Daar is veral onduidelikheid en onsekerheid onder jong én ouer beleggers oor beleggingsaspekte soos die verskil tussen aandele en effekte asook tussen ’n aftreeplan en ’n belastingvrye spaarrekening. Ek het toe Atterbury Trust genader om die behoefte vir so werkswinkel te bespreek. Hulle het gehou van die idee maar het, net soos ek, nie ’n idee gehad wat om te verwag nie. Ons het toe besluit om met die eerste werkswinkel ’n oop agenda te handhaaf en sommer dadelik het die beurshouers my gepeper met vrae! Dit was vir my baie opwindend om te sien hoe die studente begin oopmaak het en toe ons besef het ons het die spyker op die kop geslaan.
Hoekom het jy besluit om jou spesialisdienste gratis aan te bied?
Die Atterbury Trust beurshouers het net soos die res van ons behoeftes en was bereid om met hulle spesifieke finansiële behoefte na vore te kom deur aansoek te doen vir studiebeurse. Daardeur demonstreer hulle onder andere hulle leergierigheid maar sodoende ook hulle kwesbaarheid. Ek het die afleiding gemaak dat hulle hulle leergierigheid op ander terreine soos beleggings ook sou wou toepas en omdat hulle bereid was om van hulle kant af so hulle kwesbaarheid te openbaar, het ek besluit om met my behoefte op daardie kwesbaarheid te antwoord, en dit is om my ervaring en kennis as’t ware terug te ploeg in hulle lewens, eerder as om soos vele ander individue self ’n persoonlike finansiële donasie tot die trust te maak. Hierdie epos van ’n beurshouer na een van die werkswinkels het my ’n knop in die keel gegee en is die mees gepaste opsomming van dít wat ek wou bewerkstellig:
“Ek het die voorreg gehad om die Mindfulness en Beleggings werkswinkel by te woon. Dit is vir my so spesiaal dat julle ons nie net finansieël bystaan nie maar ook as mense verbeter terwyl ons saam hierdie pad stap.
Ek wil dankie sê dat julle die geleentheid skep vir ons om oor dinge soos beleggings en aandele te leer in die veilige omgewing van Atterbury. Ek voel ek kan Oom Renier vertrou omdat julle hom vertrou. Julle bied verseker vir my geleenthede wat ek nooit andersins aan blootgestel sou word nie. Julle rus my toe met vaardighede en tegnieke wat ek vir die res van my lewe kan gebruik en ek waardeer dit verskriklik baie.”
Wat is volgens jou die grootste misverstand oor finansiële beplanning?
Ek sou eerder sê dat swak begrip lei tot misverstande wanneer dit kom by finansiële beplanning. Beleggings is maar een aspek, maar ’n baie belangrike aspek van finansiële beplanning en dis veral by beleggings waar misverstande deur swak begrip ontstaan. Die heel belangrikste been van die besigheidsverhouding tussen beleggers en beleggingsbestuurders is vertroue, en dit ly soms skade as een van die twee partye die ander se etiek of integriteit begin betwyfel.. Wisselvalligheid en die onsekerhede van die mark is twee van vele sondebokke wat vertrouensbreuk kan veroorsaak. Wanneer vertroue dan skade ly, is die verhouding wankelrig en meer kwesbaar vir swak begrip wat kan lei tot misverstande.
En die vrae wat jy die mees gereeld gevra word?
Beleggers wil almal weet of hulle genoeg geld sal kan hê om af te tree. Meeste mense met wie ons werk, het dikwels meer as genoeg om af te tree maar die verbysterende waarneming is dat dít selfs soms nie vir hulle genoeg nie. So die vraag is: Wat is genoeg? Terloops, ek dink dis Langenhoven wat gesê het dat wanneer genoeg nie meer genoeg is nie, te veel dan te min word. Ek glo aan o.a. die mees basiese “4%” reël wat mens só beplan: Bepaal alreeds op ‘n jong ouderdom beide jou aftree inkomste en aftree ouderdom en beplan dat jou jaarlikse inkomstetrekkings na aftrede nie 4% van jou beskikbare kapitaal by aftrede oorskry nie. Sodoende kan jy jou aftrede-kapitaal bedrag nou al bereken (natuurlik met inflasie in ag geneem). Jou aftree kapitaal behoort dan ongeveer 30 jaar te hou na aftrede terwyl jou aftree inkomste met inflasie styg. Sorg dat jy van jongs af deugsaam spaar en so voet by stuk by dié plan hou deur ’n gedissipline begrotingstrategie deurgaans te handhaaf, jaar vir jaar, maand vir maand, dag vir dag. Een van die mees algemene verskynsels in my daaglikse interaksie met beleggers is hulle onvermoë om te kan onderskei tussen welvaart en finansiële sekuriteit. Die meeste beleggers dink welvaart behels net finansiële sekuriteit. (Dink aan die motivering van ’n dobbelaar en lottery-speler – as hy eers geld het, gaan hy gelukkig wees) Maar welvaart is myns insiens veel meer as net finansiële sekuriteit. Dit is wanneer beleggers hulle goed gedefinieerde lewensdoelstellings daagliks ontdek en uitleef om sodoende die natuurlike gediversifiseerde opbrengs daarvan, wat ook geld insluit, te pluk om weer terug te ploeg om toekomstige oeste oor die langtermyn te bewerkstellig.
Is dit ooit te vroeg om te begin beplan aan jou finansiële toekoms? Studente het nooit geld nie, so wat is die voordeel om so vroeg al vir hulle raad te gee?
Dis nooit te vroeg om te begin spaar nie. Inteendeel, hoe vroeër hoe beter. Langenhoven het gesê:
“Die wêreld die draai:
Vir die swaar wintertyd om ons lande te saai –
Of om luilekkerlewend die ploeg te laat roes,
En daarna ons vrugte of onkruid te oes.”
En watter raad gee jy tipies in so ’n werkswinkel? Watter onderwerpe raak jy aan?
Met ’n oop agenda is daar ’n wye veld wat gedek word en interessante vrae uit die hart uit wat opduik. Ek vra hulle gewoonlik die redes vir hulle teenwoordigheid en dan loop dit oor na ’n informele gemaklike gesprek (die werkswinkels is vrywillig). Wat hulle die graagste wil weet is hoe om te begin met ’n beleggingsplan en dan bespreek ek ’n paar voorbeelde en meganismes uit die vuis uit. Ons praat ook oor die belangrikheid van vroeg spaar, slaggate soos skuld en die tydswaarde van geld.
Vra jonger mense jou oor nuwer produkte soos Bitcoin en ander cryptocurrencies, of nie juis nie? Wat is die mees opwindende nuwe produkte in die finansiële markte, volgens jou? Waaroor moet mens meer te wete kom?
Nee, hulle vra nie, ek dink hulle is te bang ek skiet dit af! Ek glo dat die opwindendste belegging beslis genoteerde aandele op die internasionale effektebeurse is en ek beveel hulle aan om die meeste daaroor op te lees.
Gaan jy vanjaar weer vir die studente werkswinkels aanbied? Is so iets al bespreek?
Ja, die gedagte is om die werkswinkels twee keer per jaar aan te bied.
As mense jou wil nader om ’n soortgelyke werkswinkel aan te bied, waar kry hulle jou in die hande?
My selfoon 083 272 6970 of my email [email protected] of www.anchorcapital.co.za.
Renier Holtzhausen is sedert 2014 by Anchor Capital as ’n beleggingsbestuurder. Sy loopbaan het hom ver en wyd geneem sedert die laat tagtigerjare, van korporatiewe kantore en pryse vir kliëntediens en integriteit, tot sy eie onafhanklike besigheid. Renier is ’n baanbreker en ’n ou bekende in finansiële- & beleggingskringe. Sy passie is om veilige en winsgewende beleggings-portefeuljes te implimenteer en oor die lang termyn te bestuur vir individue, families en korporatiewe entiteite met hoë netto waarde. Hy speel ook graag die trompet, en het al selfs ’n CD met trompetmusiek gemaak.