Johannesburger Nikita Steyn het al op jong ouderdom besluit sy wil eendag met kinders werk, en sy is stap vir stap besig om haarself te kwalifiseer. Ons hoor by dié passievolle 22-jarige hoe die Atterbury Trust se beursfonds haar lewe verander het.

Jy het jou BSc Honneurs in 2021 behaal en is nou besig om ondervinding op te doen voordat jy verder studeer. Wat hoop jy om alles uitgerig te kry?
Ek wil graag aansluit by die span van die South African Depression and Anxiety Group (SADAG), wat ’n platform het wat mense in nood kan bel. Ek is ook van plan om vanjaar betrokke te raak by nie-regeringsorganisasies wat met kinders werk. Dan is ek ook reeds besig om onderwys-ondervinding op te doen, aangesien ek my meesters in Opvoedkundige Sielkunde wil aanpak. Ek werk vir ’n Chinese skool en gee aanlyn Engels vir Chinese kinders tussen drie en 15.

Wou jy van kleinsaf ’n sielkundige word?
Nee glad nie, ek het baie jonk al besluit ek gaan eendag ’n pediater word. Ek kon nie keuring vir medies kry nie en het toe besluit om ’n BSc met Sielkunde, Genetika en Fisiologie te studeer, sodat ek opsies het om van te kies. My BSc het ek by Tukkies behaal en die Honneurs by Varsity College.  Ek het nog altyd baie belanggestel in die brein en hoe mense emosies hanteer. Dié belangstelling het toe ontwikkel in ’n liefde vir sielkunde.

Vertel ons iets meer van jou grootwordjare, en waar jy jou nou bevind.
Ek het grootgeword in Krugersdorp en het onlangs saam met my ma en broer na Hartbeespoort getrek. Ek het tweelingboeties, Burger en De Wet, wat 25 is. Ek het onlangs verloof geraak aan my skoolliefde, Humphries du Randt, en ons beplan om later vanjaar in Hermanus te trou.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?
My pa is skielik in 2015 oorlede en dit het ons gesin se lewe dramaties verander omdat hy die broodwinner was. Daar was groot finansiële druk op my ma en in matriek het ek geweet ek sou nie verder kon gaan swot sonder ’n beurs of lening nie. My aanstaande skoonma het lank saam met Louis van der Watt gewerk, en was bewus van die Atterbury Trust. Sy het my gehelp om ’n onderhoud te kry by die Trust se beurspaneel.

Wat het die beurslening vir jou beteken?
Dit is direk aan Atterbury Trust te danke dat ek my voorgraadse studies kon voltooi. Julle het my lewe verander deur vir my die sleutel te gee om verder te kon swot – ek sal julle ewig dankbaar wees.

Wat sou jy sê was die grootste uitdaging wat die lewe nog voor jou deur gelê het?
Sjoe, daar is baie. Dit was ’n groot uitdaging om self ’n plan te moes maak om my studies te kan bekostig. Ek het hier en daar vakansiewerkies gedoen en ure se dataverwerkingwerk vir maatskappye tydens my studies gedoen om myself te onderhou. Maar as ek terugkyk was dit nie die veranderinge in omstandighede wat die grootste uitdaging was nie, dit was om my identiteit te behou en nie te vergeet dat my hulp van die Here af kom nie.

Watter bydrae wil jy in jou beroep in die wêreld maak?
My droom is om kinders in Suid-Afrika te help om hul menswees  te bou, en hul vermoëns te ontwikkel, sodat elke seun en meisie ongeag hul omstandighede ’n sukses van hul lewe kan maak. Daar is so ’n groot behoefte hieraan in Suid-Afrika, omdat daar soveel minderbevoorregte kinders is. Ek weet ek droom groot, maar elke enkele kind wat ek kan help, sal ’n verskil maak.

Hoe sou jy opsom wat Atterbury Trust se beursprogram vir jou beteken het?
Atterbury Trust het vir my nuwe hoop kom gee in ’n baie moeilike tyd in my lewe. Hulle het vir my deure kom oopmaak wat andersins toe sou gebly het. Hulle het my blootgestel aan n nuwe ondersteuningsnetwerk en nie net finansieël gehelp nie, maar ook belanggestel in my psigiese en emosionele welstand. Dit het die wêreld beteken vir my.

Atterbury Trust se beursfonds bied al vir meer as twee dekades hoop vir uitblinker- Afrikaanse studente wat sonder finansiële hulp nie verder sal kon studeer nie, en dit word moontlik gemaak danksy die groothartige bydraes van al ons skenkersvriende. As jy kan bydra, moenie aarsel nie – dit verander lewens, en ons maak dit maklik.