Madiba se verjaardag, 18 Julie, is een van Atterbury Trust se gunsteling dae van die jaar, en vanjaar was geen uitsondering nie. Finansiële en operasionele bestuurder Ananja Koen vertel van die aktiwiteite wat die dag spesiaal gemaak het.

Wat was vanjaar se oorweging met Mandeladag?
Mandeladag is een van die geleenthede in die jaar waar dit vir ons belangrik is om die Atterbury personeel ’n dag in die lewe van ’n Atterbury Trust organisasie te laat ervaar. Met ons Wes-Kaapse tak vinnig aan die uitbrei, was dit lekker om ook ons Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) beurshouers te betrek by ons werksaamhede vir Mandeladag in die Wes-Kaap, en in Pretoria het ons met die Atterbury Property-span saamgewerk.

Kom ons begin in die Wes-Kaap – hoe het julle Mandeladag in Stellenbosch daar uitgesien?
Ons het die middag saam met ’n MOI groep van Hoërskool Stellenbosch en Hoër Meisieskool Bloemhof gaan kuier by Devon Valley Primêr. Nasiebou is een van MOI se belangrikste prioriteite vir die leerders, en Madiba se verjaardag is ’n ideale geleentheid vir die jongklomp om aktief betrokke te wees met werk in die gemeenskap. Little Froggies nasorgsentrum se 82 kleintjies was ook daar en ons vriende by Hungry Lion South Africa het seker gemaak dat daar ’n kospakkie was vir elke kind. Daar is gesing, speletjies gespeel en kunswerkies gemaak; groot pret en baie entoesiasme! Almal het die dag so geniet, en Madiba se boodskap van liefde vir ander het geëggo deur die aktiwiteite.

In Pretoria het julle al voor Mandeladag begin met ’n insamelingsprojek, reg?
Ja, ons het in samewerking met ons kollegas by Atterbury Property ’n week of twee vroeër met ‘n Mandeladag 2024-inisiatief afgeskop waarmee elke personeellid ’n sak volgemaak het met splinternuwe skoene en ‘n warm baadjie vir behoeftige kinders. Die winterkoue byt skerp hier op die Hoëveld, en ’n kind wat heeltyd koud kry kan nie konsentreer en leer nie, maar so baie ouers kan nie bekostig om voor te bly met nuwe klere soos kinders groei nie. Ons het in ons netwerk vir mense gevra om R200 vir ’n paar skoene en/of R250 vir ’n warm baadjie te skenk, en daar is op die ou end genoeg ingesamel 70 pakkies op te maak met ’n splinternuwe baadjie en skoene en darem so ietsie spesiaal ekstra ook.

Wonderlik! En waar is hierdie liefdesgeskenke toe uitgedeel?
Op Mandeladag het ons span gaan kuier by Tjokkertjies vir Jesus kleuterskool en nasorgsentrum in Krugersdorp-Wes, daar was baie bly gesiggies toe die tjokkertjies elk ’n pakkie ontvang het met nuwe skoene en ʼn lekker baadjie vir die winter. Ons het plaatkoekies op ’n skottelbraai gemaak en daar is koeldrankies uitgedeel, sodat almal vol magies gehad het vir die middag se speletjies. Ons het agterna so ’n mooi brief van die skoolhoof gekry, ek moet dit deel: “Dis baie spesiaal om geseën te wees met sulke wonderlike vriende op Mandeladag. Ons gebede is gevul met dankbaarheid vir al die mooi herinneringe en liefde wat gister gedeel is. Ek hou die engele op aarde van die Atterbury Trust-span in my persoonlike gebede van dankbaarheid.” Ons kan natuurlik niks hiervan doen sonder die groot harte en diep sakke van al die weldoeners in ons netwerk nie. En dit bly vir ons ’n enorme voorreg om namens so baie wonderlike mense ’n verskil te kan maak in die lewens van ander wat dit nie breed het nie, veral op Madiba se verjaardag.