Atterbury Trust is ’n trotse ondersteuner van Harmonie Oord, en ons skyn graag ’n lig op die waardevolle werk wat hierdie organisasie in die gemeenskap doen. Marie Pienaar, die bestuurder by Harmonie, vertel meer.
Hoe het Atterbury Trust by die oord betrokke geraak en hoe lank al werk julle saam?
Atterbury Trust is sedert Julie 2019 by Harmonie Oord betrokke. Dit het begin met ’n skenking om ’n duur onderdeel vir een van ons hysbakke te koop en te installeer nadat die betrokke hysbak al vir vir geruime tyd buite werking was. Gedurende die Covid-tyd in April 2020 het ons ook begunstigdes geword van die Trust se Terugploeg voedselverskaffings-inisiatiewe wat baie welkom was, soveel meer omdat baie van ons ander donateurs nie in daardie tyd kon help nie. Die eerste voedsel-uitreik was ongelooflik spesiaal. Dit was die klomp bakkies met sleepwaens met groente en vrugte, baie van uitvoergehalte toe die boere nie hul produkte by die hawens kon kry nie. Ons kry nou op ’n gereelde basis groente, vrugte, vleis en ook ander bederfitems soos koeldrank. Hiersonder sou ons nie voedsame etes aan ons inwoners kon verskaf nie.
Vertel ons meer van Harmonie en die mense vir wie julle sorg.
Harmonie Oord is ’n veilige hawe vir bejaardes ouer as 60 jaar wat net ’n SASSA pensioen of ‘n soortgelyke inkomste kry en wat nie ander verblyf kan bekostig nie. Ons is geleë in Sunnyside op dieselfde perseel as die Nederduits Gereformeerde Harmonie Kerk. Ons het tans 190 inwoners en kan 200 akkommodeer. Die mense moet nog selfversorgend wees; want ons kan nie verswakte bejaardes akkommodeer nie. Ons verskaf twee etes per dag danksy donasies wat ons ontvang en lewer ook beperkte dienste. Ons het drie oggende per week ’n maatskaplike werker hier by ons en die plaaslike predikant doen ook geestelike bediening. Die gemeenskaplike areas van die gebou word skoongemaak, terwyl die inwoners self vir hul kamers verantwoordelik is. Ons het ’n washuis met wasmasjiene en tuimeldroërs en daar word verskeie aktiwiteite aangebied, soos naaldwerk, oefeninge, Bybelstudie en ’n kunsgroepie. Die dienssentrum van die gemeente neem die inwoners op uitstappies, en ons hanteer twee besoeke per week aan die Tshwane / Steve Biko hospitaal vir doktersbesoeke of om hul medikasie af te haal. Ons inwoners betaal van 1 April maar net R1 960 vir ‘n enkelkamer wat etes insluit.
Hoe werk Harmonie se befondsing? Is daar staatshulp?
Harmonie Oord ontvang geen subsidie van die staat nie. Die fasiliteit se basiese bedryfsuitgawes word gedek deur die losies wat die inwoners betaal en kontant-donasies wat ons van ’n handjievol privaat-donateurs ontvang. Die omvang van die etes wat ons aan ons inwoners verskaf word bepaal deur die donasies wat ons ontvang. Sonder kos-skenkings sal ons nie voedsame etes aan ons inwoners kan voorsit nie.
Wat is die grootste behoefte by die tehuis?
Ons groot behoefte is voedsel – vleis, groente en vrugte is altyd nodig. Ons kry tans gereeld mieliemeel as donasie, maar ons benodig algemene kruideniersware soos melkpoeier, suiker, pasta, blikkies vis, speserye, konfyt, grondboontjiebotter, blikkieskos, aanmaaksap vir ontbyt, koffie en tee, en brood – al die gewone items wat ’n huishouding gebruik. Dinge soos kookolie, soppoeiers, “bullybeef”, tamatiesous, Bovril, blatjang, Worcestersous, sout en peper, asyn, margarien, hawermout, Maltabella-pap en jellie en vla is ook altyd welkom, en so ook items soos swart asbliksakke, toiletpapier, Domestos, Handy Andy en skottelgoed-seep. Ons gebou is oud en daar is ook instandhouding nodig, daarvoor het ons fondse nodig. Dreine verstop, koelkamers moet gediens word, krane moet vervang word en kamers moet uitgeverf word… daar is altyd iets!
Hoe lank is jy al betrokke as bestuurder? En hoe het jou beroepspaadjie jou tot by Harmonie gelei?
Ek is hier vanaf 2010 af; en in daardie stadium was daar twee tuistes op die perseel: Harmonie Oord vir die SASSA selfversorgende inwoners en Harmoniehof wat hulp en versorging verskaf het. Harmoniehof moes verlede jaar sluit omdat die bedryfsuitgawes net te hoog geword het. Ons het tans ’n groot probleem met inwoners wat verswak en nie familie het wat hul kan inneem of vir versorging kan betaal nie. Daar is beperkte fasiliteite wat staats-subsidie kry vir die versorging van bejaardes wat net SASSA-inkomste het. Die plekke het net beperkte subsidie-beddens en het tans nie plek nie. Ons het tans vier mense wat sulke versorging nodig het.
Ek het ’n passie vir mense wat anders is en nie altyd in die hoofstroom inpas nie en wat hulp nodig het. Ek het begin by die Departement van Justisie waar ek as aanklaer in die onderhoudshof en die jeughof gewerk het en later ook in die skakelafdeling betrokke was. Ek het na my kinders se geboorte by Afrikaanse Hoër Meisieskool se finansies-afdeling gewerk, waar ek gewerk het met personeel-aangeleenthede en families wat om subsidies aansoek doen. Ek is vandaar na Harmonie Park. Dit is vir my belangrik om ’n diens aan mense te lewer; en hier is die nood hoog, met mense wat uitgestoot is deur hul families, wat aan depressie ly en ook ander probleme het.
Watter aspek van jou werk gee vir jou die meeste werksbevrediging?
Dit is vir my belangrik dat bejaardes menswaardig behandel word. Dit is so lekker om te sien as mense wat hier inkom en al ’n swaar pad gestap het na ’n maand lag en gelukkig is. Ons het al met inwoners wat psigiatriese probleme het ’n pad gestap om hul te help. Dit is regtig spesiaal as hul by my kantoor instap en vir my kom sê, kyk ek is reg, ek drink nou my medikasie reg, en hul lag en die vroue het weer grimering aan en is mooi versorg. Dit is ook lekker om met ons donateurs te werk. Kersfees is heerlik, as donateurs uitreik met Kerspakkies en ons inwoners blom as hul hul pakkies ontvang en dit oopmaak. Mens kry sommer hoendervleis. Dis lekker as groepe kom konsert hou en ons inwoners lekker lag en saamsing. Ons personeel, wat almal ’n eksta myl vir ons bejaardes stap, maak dit elke dag die moeite werd om hier te wees. Baie van ons inwoners kom hier in met die minimum klere, geen meubels en beddegoed nie, en danksy donateurs kan ons hul help daarmee. Julle sal sien dat ons inwoners altyd goed versorg lyk. Alles deel daarvan om hul menswaardigheid weer te versterk.
In jou opinie, hoe belangrik is dit dat die private sektor en organisasies soos Atterbury Trust betrokke raak en hulp verskaf by welsynsorganisasies soos Harmonie?
Ek dink baie mense leef in ’n vakuum en as dit met jou goed gaan is jy nie bewus van hoeveel bejaardes daar is wat regtig swaar kry nie. Dit is ons plig om ook na hulle wat nie het nie, om te sien. Sonder die betrokkenheid van donateurs sal ons nie hierdie diens kan verskaf nie. Elke donasie maak ’n verskil, maak nie saak hoe groot of klein nie. Die vaste bedryfskostes van ’n fasiliteit soos hierdie word jaarliks net duurder, en ons inkomste neem helaas nie met dieselfde toe nie. Ons munisipale rekeninge is hoog en ons moet ander wetlike vereistes soos, onder andere, minimum lone voldoen. Brandstof is duur en ons rekening is hoog omdat ons baie ry om donasies te gaan oplaai. Ons groot bekommernis tans is verswakte inwoners wat versorging benodig. Ons sou graag ’n paar kamers in versorging wou omskep, maar die koste om versorging te verskaf is net te hoog. Ander wyses om verswakte bejaardes by bestaande fasileite opgeneem te kry sal ons baie help.
Atterbury Trust verskaf hulp aan verskeie organisasies soos Harmonie Oord, en dit word moontlik gemaak deur skenkings van ons netwerk van donateurs. Vind uit hoe jy met ‘n geruste hart kan skenk. As jy meer wil weet oor Harmonie Oord en kan help met enige van die gereelde behoeftes soos bo vertel, kontak gerus vir [email protected]