By Triomf Kliniek word Pretoria se mees weerlose Afrikaanse pasiënte die geleentheid gegee om sonder onkoste wêreldklas mediese sorg te ontvang. Dié unieke diens word moontlik gemaak deur die welwillendheid van medici soos Dr Riana Malan, wat hul dienste gratis beskikbaar stel. Dr Riana, wie se eie praktyk in Murrayfield is, vertel meer oor haar jarelange betrokkenheid by Triomf Kliniek.
Hoe lank al is jy by Triomf Kliniek betrokke, en hoe gereeld spreek jy daar pasiënte?
Ek het in 2017 betrokke geraak by Triomf. Ek is ’n algemene praktisyn met kennis van primêre ginekologiese sorg, en ek behartig elke maand ’n vrouekliniek waartydens ons tussen 10 en 15 vroue sien.
Hoekom het jy gekies om jou tyd so te skenk?
Ek het nog altyd ’n passie vir vrouegesondheid gehad. Dit is hartseer dat vroue nie altyd toegang het tot gesondheidsorg nie – vir baie is dit ’n kwessie dat hul nie vervoer het na klinieke nie; of dat hul daaglikse verantwoordelikhede soos werk of na kinders omsien nie toelaat dat hulle heeldag by ’n kliniek kan sit en wag om die suster of dokter te sien nie; of dat hul bloot nie ’n dokter kan bekostig nie. En dit is nie net in die laer sosioekonomiese gebiede nie. ’n Vrou in Pretoria-Oos sal eerder vir haar kind ’n skoolbaadjie koop as om ’n ginekoloog of algemene praktisyn te gaan sien. Daarom word soveel voorkombare siektes gemis.
Servikale kanker is baie algemeen en kan voorkom word as dit vroeg genoeg deur ’n roetine ondersoek opgetel word. Daar is ook ’n geweldig groot populasie vroue wat ly aan ’n ystergebrek weens swaer menstruasie of ander verwante kondisies wat ook behandelbaar is. Daar is soveel voorbeelde wat ek kan noem, en siektes wat spesifiek vroue beïnvloed. As ek één vrou haar lewe kan teruggee deur haar toegang te gee aan ’n vrouekliniek, dan het ek my rol op aarde vervul. Ek kan dalk nie ons wêreld verander nie, maar ek kan ’n verskil maak aan een vrou en haar wêreld.
In my eie verlede het my paaie ook met die staat gekruis waar ek die pasiënt was, en my passie om ’n dokter te word spruit daaruit. Ek het ’n belofte gemaak om eendag my gemeenskap te kan dien en die gawes en talente wat die Here vir my gegee het vir goed kan gebruik. Ek kon opstaan uit my verlede en nou staan ek sterk om ander te kan help.
Wat is die oogmerk met die vrouekliniek – hoe gereeld word een gehou, en hoe groot is die aanvraag?
Die aanvraag is baie groot en die kliniek groei die heeltyd – my hoop is om verder uit te brei sodat ons meer vroue kan help. Ons het vanjaar drie nuwe ginekoloë bygekry, Dr Anel Mostert, Dr Judy van Aardt en Dr Dalene Barnard, met wie se betrokkenheid ons hopelik die diens heelwat kan uitbrei en ook die sorg verbeter omdat ons die waardevolle hulp en kennis van spesialiste het.
Ek bied ook sedert 2020 elke jaar in Augustus ’n papsmeerdag aan, waar vroue van die omliggende gemeenskap ’n gratis papsmeer kan kry. Ons het al verskeie abnormale papsmere so gevind, en die betrokke pasiënte het behandeling ontvang en is nou kankervry. Ampath, Pathcare en Toga skenk elke jaar die sitologie vir my papsmeerdag. Een pasiënt het ’n histerektomie gekry by Kalafong Hospitaal nadat haar papsmeer kanker aangedui het. Dit is gelukkig vroeg opgespoor en sy is ook nou kankervry.
Wat is die grootste behoefte onder die vrouepasiënte van Triomf Kliniek?
Daar is verskeie. Die meeste pasiënte wat ons by Triomf Kliniek sien het ’n probleem wat al vir jare presenteer maar hulle het ongelukkig nie elders hulp gekry nie, of is op lang waglyste om hulp te ontvang. Omdat ek primêre gesondheidsorg beoefen, word van die vroue dan verwys om in die regte kanale in te kom. Deur Operation Healing Hands kan ons ook sommige vroue opereer as dit nodig is.
Kan jy ’n storie deel oor een pasiënt wat veral gebaat het by die diens wat Triomf Kliniek vir vroue aanbied?
Me Bock is ’n besonderse geval. Sy is gediagnoseer met stadium 4 endometriose, en het erge bloeding en pyn gehad, en so ’n swak lewenskwaliteit dat sy nie haar werk kon doen nie. Dr Abri de Bruin, ’n endometriose-spesialis, het haar geopereer en sy is vandag pynvry.
Is daar een bepaalde ontwikkeling in jou veld wat jy beskou as van besondere belang?
Dit is nie nuut nie, maar die inspuiting wat jou inent teen servikale kanker is ’n ongelooflike “game changer”, en ek moedig jong meisies aan om dit te kry.
Wanneer is die volgende vrouekliniek?
Ons klinieke vind altyd op die eerste Donderdag van elke maand plaas.
Triomf Kliniek verander lewens danksy medici soos Dr Riana wat hul tyd met ons behoeftige pasiënte kan deel. Ons nooi dokters en ander mediese personeel uit om betrokke te raak. Om meer uit te vind, kontak asseblief vir Danelle Strydom by [email protected]