’n Blink nuwe tuiste vir Triomf Kliniek
Goeie nuus vir Atterbury Trust se gemeenskapskliniek wat mediese sorg met waardigheid bied aan Pretoria se behoeftiges. Ananja Koen gee die oorsig.
Vir hoe lank was Triomf nou sonder permanente tuiste, en waar is die nuwe perseel?
Na amper 10 jaar moes ons in Maart 2024 die oorspronklike Triomf-huis ontruim en ons het onverpoosd gesoek na ’n nuwe perseel vir Triomf Kliniek. Ons het ’n tydelike ooreenkoms met ’n kliniek in Silverton gesluit waar al ons pasiënte weekliks gesien is. Ons is baie dankbaar aan suster Doret Fischer wat ons met soveel sorg gehelp het om die oorgangsproses so glad as moontlik te laat verloop. Ons het uiteindelik in November 2024 ’n perseel net om die draai van ons kantoor in Hazelwoord bekom en die registrasie van die eiendom is vroeg in Januarie deur. Ons is nou besig met die argiteksplanne vir die verbeteringe en om die eiendom doelgemaak in te rig vir ’n kliniek.
Die nuwe perseel gaan groter en beter wees as die vorige kliniek – gee vir ons ‘n oorsig van die verbeterings wat hiermee gaan saamgaan?
Ons aanslag met Atterbury Trust is om elke projek wat ons aanpak so volhoubaar moontlik te maak en nie die voortbestaan heeltemal afhanklik te maak van jaarlikse donasie-inkomste nie. Ons nuwe perseel is goed geleë in die baie gewilde Hazelwood, en die droom is om huurinkomste te genereer deur die voorste gedeelte beskikbaar te stel as spreekkamers vir medici. Die agterste gedeelte sal ingerig word as Triomf Kliniek, waar ons behoeftige pasiënte gratis behandeling kan ontvang van die vrywilliger-dokters wat betrokke is. Ons sal dan die huurinkomste kan gebruik om die kliniek verder uit te brei en meer ondersteuning te bied aan die pasiënte.
Hoeveel verbouing/opknapping is nodig voordat julle kan deure oopmaak, hoe ver is julle in die proses en wie behartig dit?
Daar is heelwat werk wat gedoen moet word aan die erf en die binnekant van die huis, aangesien dit voorheen ’n woonhuis was. Francois & Greg van Bar Architects en die ontwikkelingspan by Atterbury Property het dadelik ingestem om die projek te hanteer en het saam met ons na die eiendom gaan kyk en met slim voorstelle gekom om dit te omskep in ons droom. Ons is regtig bevoorreg om kundige mense te hê wat saam met ons die projek aanpak. Ons sal hopelik in die volgende twee weke die bouspan kan aanstel en met die verbouings begin.
Wat kan julle in dié vroeë stadium deel oor wat die planne behels?
Ons droom is om ’n veeldoelige mediese sentrum op die been te bring waarheen die algemene publiek kan kom vir mediese dienste en waar ons die gratis sorg vir behoeftige pasiënte sal kan volhou deur ’n kombinasie van die huurinkomste, donasies en die gratis dienste wat sekere maatskappye aan Triomf Kliniek verskaf. As dit so uitwerk sal ons die kliniek se dienste kan uitbrei en selfs ’n groter impak maak. Dit sal ook wonderlik wees as ons meer medici en maatskappye aan boord kan kry om hul dienste en tyd beskikbaar te stel. Ons glo dat die nuwe Triomf Kliniek se ligging in die ooste van Pretoria waar dit veilig en maklik toeganklik is vir medici, nog baie meer vrywilligerdokters aan boord sal bring. Dit lê ook reg langsaan Club Surgical waarvan Pretoria se beste dermatoloë en ander spesialismedici werksaam is.
Wanneer beoog julle om oop te maak?
Ons hoop om teen einde April klaar te wees met die verbouings en vroeg in Mei ons deure te kan open. Hou hierdie spasie dop!
Wat hou 2025 in vir die nuwe, verbeterde Triomf Kliniek?
Ons verwag dat ons vanjaar meer mense die geleentheid sal kan bied om wêreldklas sorg met waardigheid te ontvang en dat daar ’n rekordaantal nuwe vrywilligerdokters by ons sal aansluit.
Dokters en ander medici wat betrokke wil raak by Triomf Kliniek word genooi om Ananja te kontak by [email protected]