Atterbury Trust neem hande met Capital Music Association (CMA) om behoeftige, verdienstelike musiekstudente met beurse by te staan. Ons hoor meer by Blignault Gouws van CMA.

Is hierdie ’n splinternuwe inisiatief? Kan jy ons vertel waar die idee vandaan gekom het, en presies hoe dit sal werk?
CMA is uit frustrasie gebore – frustrasie omdat daar soveel musiekgeleenthede in ons stad, Pretoria, plaasvind sonder dat almal daarvan weet, en frustrasie oor die gebrek aan finansiële ondersteuning vanuit die staatskas vir die kunste, en veral dan musiek. Die vrywillige, nie-winsgewende organisasie CMA wil ’n enkele bron van inligting oor alle aanbiedings en geleenthede in ons musiekomgewing wees, en fondse werf vir beurse vir verdienstelike en behoeftige musiekstudente. So kan ons hopelik meer voete in die konsertsale en teaters kry, en meer jong musiektalent ontgin en ondersteun.

Hoe het Atterbury Trust betrokke geraak by die administrasie van die beurse?
Atterbury Trust het oor die afgelope 26 jaar ’n geloofwaardige naam opgebou met hulle omvattende beursprogram, en toe Celesté van der Watt hoor waarmee ons besig is, het sy Ananja Koen van die Atterbury Trust in Pretoria gekontak en gevra of die Atterbury Trust sou belangstel om betrokke te raak. Daar is toe besluit dat die Atterbury Trust  die administrasie van CMA se beurse sal behartig. CMA sal steeds die aanvanklike beoordeling doen, en die Trust sal die beurse verder bestuur. Ons het groot waardering vir hierdie hulp.

Julle loods die inisiatief op 30 Oktober. Watter vorm neem dit aan?
Die Musaion by die Universiteit van Pretoria is die plek om te wees op die aand van 30 Oktober. Die konsert begin om 19:00 met Charl du Plessis, Megan-Geoffrey Prins en Tessa Rhoodie, asook optredes deur twee van ons eerste beurswenners. Daarna volg wyn en ligte verversings.  Die funksie sal ook ’n geleentheid wees om ons eerste korporatiewe borge, Eskort en Momentum Health Solutions, bekend te stel en te bedank.

Wat kan jy ons vertel oor die twee beursstudente wat ook die aand optree?
Hierdie sal die verrassing van die aand wees – al wat ek kan sê is dat dit twee besonder begaafde studente is. Kom luister gerus self.

Kan jy al deel hoe studente sal inskryf, of word dit eers op die aand van die konsert bekend gemaak?
Daar is reeds besluit oor die beurse vir 2025, en hul voortsetting sal natuurlik afhang van die beurshouers se omstandighede en vordering. Verdere beursgeleenthede sal mettertyd op CMA se webtuiste geplaas en so wyd moontlik bekendgemaak word. Hou hierdie spasie dop!

Wat gaan die vereistes wees, en waarvoor is julle op die uitkyk as julle studente oorweeg?
Die vereistes is baie eenvoudig: uitsonderlike talent, potensiaal en toewyding, sowel as werklike finansiële behoefte.

Kaartjies vir die konsert en bekendstelling is reeds beskikbaar op CMA se webtuiste en op SeatMe Sitplekke is onbespreek – maak seker dat jy ‘n kaartjie kry!