Atterbury Trust se beursstudente is doelgerig, vasberade, en passievol oor hul doelwitte en drome. En terwyl hulle akademies uitblink, is hulle tipies ook sterre op buitemuurse gebied. So het Michael Smith, ’n derdejaarstudent in sielkunde aan Monash Kollege in Roodepoort, pas ook die titel van Mnr Junior Suid-Afrika ingepalm. Hy vertel ons meer oor hierdie ongewone kombinasie.
Waarom het jy op sielkunde besluit?
In alles wat ek doen, probeer ek om die Here deel te maak van my werk; as ’n sielkundige wil ek hê my kliënte moet die Here se teenwoordigheid kan voel, en wil deur Hom genesing kan bied. Sielkunde en besigheid is my hoofvakke en ek het die rigting gekies omdat ek ’n passie het om met mense te gesels en omdat ek besef hoe belangrik dit vir innerlike balans is om jou emosies te kan uitdruk. Ek het besef dat mense dikwels deur moeilike situasies moet gaan met baie sosiale invloede wat op hul inwerk, en dat dit moontlik is om ander hierdeur te help as jou geloof standvastig is.
Hoe het jou paaie met Atterbury Trust s’n gekruis?
Dit was danksy my ma! Ek wou baie graag verder studeer, maar daar was net nie geld nie, en sy het toe ek in 2016 in matriek was, gelukkig op Atterbury Trust afgekom. Sy het my gehelp met die aansoek, en hierdie wonderlike organisasie het my gelukkig aanvaar vir ’n beurs.
Wat kan jy ons nog oor oor jou gesin en agtergrond vertel?
Ek is gebore in Kathu; ons was die eerste paar jaar in Kuruman, en daarna het ons baie rondgetrek weens my pa se werk in die steenkoolbedryf op die myne – Potgietersrus, Wolmaranstad, en Witbank. Laasgenoemde is waar hulle steeds bly en waar ek gematrikuleer het. My gesin is regtig my alles! My ma werk met kinders en jongmense wat ekstra hulp nodig het en my ouer broer, William, doen dieselfde werk as my pa. Hy is gek oor motors, werskaf graag met karre, en ek hoop om hom eendag te kan help om sy kardrome waar te maak.
Het jy as kind gewerk vir sakgeld, of doen jy dit nou as student?
O ja, my ma het ons van kleins af geleer dat niks net verniet kom nie, en as jy iets wil hê moet jy daarvoor werk. Dit het begin by skottelgoed en wasgoed was, later grassny en karre was, toe huis skoonmaak en verf. Tans is ek ’n entrepreneur en besig met ontwerpe vir ’n paar idees; ek dryf ook handel in tweedehandse karre saam met my oom. In universiteitsvakansies doen ek ’n internskap by ’n makelaar in Witbank. Dan werk ek ook by ons kerk se liefdadigheidsvleuel, Ethembeni Works.
Watter aspek van jou kursus is vir jou die interessantste, en hoe het jou begrip van die rol van sielkunde verander oor die drie jaar van jou studie?
Ek is gefassineer deur hoe die brein ’n kragbron vir die liggaam is en hoe ’n mens se omstandighede – sowel dié buite jou beheer en dié waarin jy jouself plaas – jou menswees, persoonlikheid en meer beïnvloed. My begrip oor sielkunde het binne die eerste week van klasloop verander, toe ek besef dat dit nie gaan oor sit en luister na probleme waarvoor jy ’n oplossing probeer gee nie, maar dat dit eintlik gaan oor hoe goed jy situasies kan evalueer en interpreteer. Sielkunde is die skakel tussen my en mense wat hulp nodig het ,maar ook ondersteuning wanneer hulle nie troos en geluk vind by die mense of aardse goed waarop hulle staatmaak daarvoor nie.
Ek verneem jy was ernstig siek; kan jy bietjie vertel?
As kind was ek allergies vir alles om my, en tussen 14 en 18 het dit vererger – my immuunstelsel het my eie liggaam aangeval. Dit het my baie siek gemaak, en dit was ’n groot finansiële las op ons gesin. My matriekjaar was die ergste: ek was heeltyd by die dokter, en weens die immuunsiekte kon ek basies niks eet nie; selfs water het my ’n allergie gegee… ek het op 1,8m lank net 66kg geweeg! Aan die einde van 2016, na my matriek-eindeksamen was ek op ’n punt waar ek gedink het ek moet nou lewe of dood kies, en toe kies ek lewe. Dieselfde dag het iemand my gesond gebid, en my lewe het handomkeer verander. Ek het wel weer so ’n maand gelede ernstig siek geraak en weer kon die dokters nie agterkom presies wat verkeerd is nie. Daar is weer talle toetse gedoen, wat my ouers se mediese fonds uitgeput het vir die jaar. Ek is weer gesond gebid.
Ondanks dit alles het jy onlangs die titel van Junior Mnr SA gewen. Baie geluk! Hoe het dit gebeur en watter deure hoop jy sal dit vir jou oopmaak?
Ek glo die titel is nog ’n manier hoe die Here my by Sy werke gekry het. Ek het deelgeneem aan ’n klein modelkompetisie vir ons universiteit waar ek derde gekom het. Daarna het iemand voorgestel dat ek vir die Mnr Jnr SA-kompetisie inskryf, en ek was gemotiveerd omdat ek geweet het dat die titel my ’n groter platform sou gee om mense te bereik. Dit ontwikkel ook my vermoë as openbare spreker wat my gaan help in my beroep, sowel as met my geloofswerke. Ek hoop om dalk borgskappe te kan organiseer hierdeur, en dat ek die kans sal kry om mense te motiveer met my storie – ek het so baie bereik ondanks alles waardeur ek is, en ek glo dit kan mense inspireer.
Hoe lyk jou toekomsplanne?
Ek kry vanjaar my B-graad in sosiale wetenskappe, met hoofvakke sielkunde en besigheid. Ek het nog nie besluit of ek dalk verder wil studeer nie, maar ek beplan om uiteindelik as sielkundige of bedryfsielkundige te werk.
Wat beteken die Atterbury Trustbeurs vir jou? Wat sou jy gedoen het as jy nie die beurs gehad het nie?
Die beurs het vir my deure oopgemaak; Atterbury het tydens die moeilike tyd waardeur ons gegaan het, gewys dat daar mense is wat wil help; hulle het my ingeneem en my dadelik deel van die Atterburyfamilie gemaak. Sonder die beurs sou ek direk na skool moes begin werk, en ek sou heel moontlik vasgeval het in die alledaagse eerder as om my potensiaal te ontgin. Ek is uit die diepte van my hart dankbaar dat Atterbury hulle arms oopgemaak het vir my, dat hulle my, en ook my ouers se las verlig het ,sodat ek ’n blink toekoms vir myself kan voorberei.
Daar beland elke jaar vele aansoeke van inspirerende jongmense soos Michael voor die beurspaneel, en met behulp van jou skenking kan ons daardie hand van hulp uitsteek. Vind meer uit oor die beursfonds, en hoe jy kan deel word, deur hier te kliek.